SuperSport Schools Plus

Supersport Schools Rugby Logo

Klein Karoo Saadproduksie-span van die byeenkoms aangekondig


Agterspeler van die byeenkoms: Luan Giliomee, Charlie Hofmeyr (Foto verskaf)

Na twee dae van bobaas-rugby op die Klein Karoo Saadproduksie-rugbyweek by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal het ‘n klompie seuns Sondagaand spesiale erkenning by die prysuitdeling ontvang het vir hul skitterende spel oor die naweek.

Beleef die wedstryde weer op SuperSport Schools – Registreer nou

Hoërskool Charlie Hofmeyr van Ceres het uitgestaan as die span wat die aanskoulikste rugby tentoongestel het, met hul ster-losskakel en agterspeler van die toernooi, Luan Giliomee, aan die stuur van sake.

Giliomee het in die eerste twee wedstyde 34 punte opgestapel met drie drieë, agt suksesvolle doelskoppe en ‘n strafdoel, terwyl sy generaalskap agterlangs grootliks bygedra het tot die indrukwekkende seges oor Hoërskole Die Anker en Merensky.

Die uitsoek-vyftiental se skrumskakel, Jayden Arends van Langenhoven Gimnasium, bied  ook ‘n opsie as stelskopper, en het, na sy span se laaste wedstryd Maandag, die byeenkoms afgesluit met 31 punte agter sy naam.

Die Charlies speel Maandag in die hoofwedstryd teen Hoërskool Brackenfell, wat ook ‘n inspirerende begin tot hul seisoen beleef en spog met twee verteenwoordigers in die span van die byeenkoms.

Gregan Matroos, die Brakkies se groot vaskopstut, en regtervleuel, Cwenga Ntsapho, is ingesluit in die elite-groep van spelers wat uit dertig spanne saamgestel is.

Die stryd tussen die Kapenaars en die span uit die vallei behoort ‘n rugbyskouspel te lewer wanneer hulle Maandag om 12:40 op die plaas uitdraf.

Brackenfell beskik natuurlik oor hul eie losskakel-held, Junior Louw, wat nié die uitverkose vyftiental gehaal het nie, en dit behoort ‘n boeiende tweestryd tussen hom en Giliomee af te gee.

Die enigste ander skole wat met meer as een speler in die span van die byeenkoms spog is Hoërskole Middelburg, Upington en Merensky, met Middies se flank, CW Hanekom, en heelagter, Sihle Makatswe, wat ook hul hande opgesteek het in die eerste twee wedstryde.

Uppies het net-net teen Potchefstroom Gimnasium verloor op die eerste dag, maar kon Saterdag ‘n sterk Hoërskool Vryburg troef. Binnesenter, Sylvester Hoffman en slot, Ruan Janse van Rensburg, het in daardie kragmetings genoeg uitgeblink om die aandag van die keurders te trek, terwyl Potch Gimmies se buitesenter, David Ndala, ook vir hom ‘n plek in die uitsoek-vyftiental losgespeel het.

Merenksy se twee senters was indrukwekkend oor die eerste twee dae, maar die kompetisie vir ‘n plek in die span, met minstens 30 kandidate vir elke posisie, was uiters straf. Die Tzaneeners se vaste vyf het deurgaans stewig vertoon en sowel Rico Pieterse (slot) as Ethan Maritz (stut) het die vyftiental gehaal.

Die beste voorspeler van die toernooi was Hoërskool Vryburg se haker, Kenan Joseph. Hoewel sy harde werk in die skrums en lynstane moontlik nie altyd raakgesien word nie, speel dit ‘n deurslaggewende rol in sy span se sukses.

Dit was weer die geval toe hulle Maandagoggend hul veldtog by die byeenkoms op ‘n hoë noot afgesluit het met ‘n sege van 28-20 oor die groot seuns van Langenhoven Gimnasium.

Augsburg Landbougimnasium se agsteman, Leon Loots, het opponente met sy vurige spel opgekeil en verdien ongetwyfeld sy plek in die vyftiental, bo ‘n hele aantal ander sterk kandidate.

Klein Karoo Saadproduksie XV: 15 Sihle Makatswe (Hoërskool Middelburg), 14 Cwenga Ntsapho (Hoërskool Brackenfell), 13 David Ndala (Potchefstroom Gimnasium), 12 Sylvester Hoffman (Hoërskool Upington), 11 Heinrich April (Hoërskool Strand), 10 Luan Giliomee (Hoërskool Charlie Hofmeyr), 9 Jayden Arends (Langenhoven Gimnasium), 8 Leon Loots (Augsburg Landbougimnasium), 7 Zak Wolfaardt (Hoër Volkskool Graaff-Reinet), 6 CW Hanekom (Hoërskool Middelburg), 5 Rico Pieterse (Hoërskool Merensky), 4 Ruan Janse van Rensburg (Hoërskool Upington), 3 Gregan Matroos (Hoërskool Brackenfell), 2 Kenan Joseph (Hoërskool Vryburg), 1 Ethan Maritz (Hoërskool Merensky).

2 Hoërskool Brackenfell | 2 Hoërskool Middelburg | 2 Hoërskool Upington | 2 Merensky | 1 Augsburg Landbougimnasium | 1 Charlie Hofmeyr | 1 Hoërskool Strand | 1 Hoërskool Vryburg | 1 Hoër Volkskool Graaff-Reinet | 1 Langenhoven Gimnasium | 1 Potchefstroom Gimnasium

Beste voorspeler: Kenan Joseph (Hoërskool Vryburg)

Beste agterspeler: Luan Giliomee (Hoërskool Charlie Hofmeyr)

Aanskoulikste rugby: Hoërskool Charlie Hofmeyr

Klein Karoo Saadproduksie XV (Foto verskaf)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.