Kempies verras Transvalia in Tuks-reeks
Die Hoërskool Kemptonpark se eerste rugbyspan het vir ‘n opskudding gesorg toe hy Transvalia met 18-13 in hulle Tuks-wedstryd uitoorlê het.
Kempies se afrigtingskorps bestaande uit Oupa van der Merwe, Kwagga Loubser, Wilhelm Bester en Francois Booyse het die regte wedstrydplan opgekook om ‘n sterk span van Transvalia met die kous oor die kop huis toe te stuur.
Transvalia het goed begin en sy skrumskakel, Dewald Strydom, het steelkant na ‘n rolmaalbeweging van meer as 30 meter gebreek en in die hoekie oorgeduik. Die rolmaalbewegings is egter hierna nie meer deur Transvalia ingespan nie.
Transvalia het hul voorsprong na 10-0 gerek toe die haker, Reinhard Nel, deurgebars het. Op hierdie stadium was daar net een span op die veld. Kempies se losskakel, Mikhail Blake, het met sy onortodokse stelskopwerk twee strafdoel-pogings net-net skeef gekorrel. Blake gebruik glad nie ‘n skopkegel nie en plaas die bal op die gras.
Transvalia se flank Franco van Wyk is na herhaalde oortredings deur sy span by die afbreekpunte vir tien minute koelkas toe deur die skeidsregter, Lihan Pretorius, gestuur. Pretorius het in 2013 die hoofwedstryd van die Cravenweek tussen die Westelike Provinsie en die Goue Leeus hanteer.
Kempies se vleuel Cobus Hattingh is kort daarna oor die doellyn. Transvalia het teen rustyd steeds ‘n voorsprong van 13-8 geniet. Die wenspan se groot held in die sege was sy flank Xander Terblanche. Hy het by die afbreekpunte telkemale daarin geslaag om omgekeerde besit te bewerkstellig. Dit was vir sy span goud werd veral omdat hulle in die skrums en lynstane slae by die span van Vanderbijlpark gekry het.
Kempies se skrumskakel, Quinton Fincham, en sy losskakel, Blake, het met taktiese skopwerk agter Transvalia se twee vleuels, Mpho Ntsane en Franco Pienaar, gesorg dat hul span die druk op die besoekers hou. Die heelagter, Johnic Smith, wat later na losskakel geskuif het, het die werk voortgesit. Smith was met sy vaart van agter ook een van sy span se uitblinkers.
Vir Transvalia het Ntsane so paar keer gevaarlik op die aanval gelyk, terwyl die slot Jano Lessing voorlangs gewoel het. Die span se kaptein en agtesteman, Elrich Louw, is ‘n klipharde speler, maar kan homself gelukkig ag dat hy nie in die koelkas beland het vir die manier hoe hy by ‘n paar losskrums ingedons het nie. Die span se skrumskakel, Dewald Strydom, was sonder twyfel sy span se beste speler op die dag.
Monument van Krugersdorp het hul seisoen met ‘n klinkende sege van 85-13 in Polokwane oor die Hoërskool Pietersburg afgeskop. Monnas se slot Stefan le Roux het ‘n driekuns aan drieë behaal. Die span se losskakel, Luke Rossouw, en flank Tristan Dullaseaur het elk ook dubbelle driedruk-plesier ervaar.
Die span se binnesenter, Jonathan Viljoen, het tien van sy span se 13 drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 20 punte.
Garsfontein moes hard werk in die tweede helfte van sy kragmeting teen die Hoërskool Rustenburg om uiteindelik 32-17 as oorwinnaars van die veld te stap. Garsies het teen rustyd ‘n gerieflike voorsprong van 22-0 opgebou. Die span van Pretoria se flank Juandre Breytenbach het egter ‘n rooikaart na ‘n hoogvat gekry en sy span moes die wedstryd met 14 manne voltooi.
Breytenbach sal ook sy span se wedstryd volgende week teen EG Jansen misloop. Garsies se binnesenter, Wesley Thompson, en die skrumskakel, Keagan Johannes, het goeie wedstryde beleef.
Nelspruit se Rhinos het in die tweede helfte vlam gevat en Klerksdorp met 49-14 kaf gedraf. Die besoekers het teen rustyd slegs ‘n voorsprong van 11-0 geniet, maar het in die tweede helfte na ‘n hoër rat oorgeskakel. Die span se skakelpaar, Joa Christovam en Stephan van der Bank, het spel dikteer.
Vir Klerksdorp het sy vaskopstut, Dirk Kotze, moedig probeer.
Puntemakers:
Monument 85 – Drieë: Stefan le Roux (3), Luke Rossouw (2), Tristan Dullaseaur (2), Dian Oosthuizen, Dandre Prinsloo, PJ Jacobs, Franco Schutte, Juandre Breytenbach, Tinus Combrinck. Doelskoppe: Jonathan Viljoen (10). Hoërskool Pietersburg 13 – Drie: Jaco Mulder. Doelskop: Martin Austen. Strafdoele: Austen (2).
Hoërskool Kemptonpark 18 (8) – Drieë: Cobus Hattingh, Johnic Smith. Doelskop: Mikhail Blake. Strafdoele: Blake, Quinton Fincham. Transvalia 13 (13) – Drieë: Dewald Strydom, Reinhard Nel. Strafdoel: JP Pieterse.
Hoërskool Nelspruit 49 (11) – Drieë: Albie de Nysschen (2), Stephan van der Bank, Andy Fourie, Reinhard Roets, Joa Christovam, Paul Rheeder. Doelskoppe: Van der Bank (4). Strafdoele: Van der Bank (2). Hoërskool Klerksdorp 14 (0) – Drieë: Brendon Josephs, Hano Dreyer. Doelskoppe: Michael Venter, Dieter Janse van Rensburg.
Garsfontein 32 – Drieë: Wesley Thompson, Ruben Roodt, Campwill Willemse, Keagan Johannes. Doelskoppe: Barry Schoombee (3). Strafdoele: Schoombee (2). Hoërskool Rustenburg 17 – Drieë: Ruwald van der Merwe, Llewellyn Lubbe, Nathan Fourie. Doelskop: Nathan van Niekerk.
HTS Middelburg 38 – Drieë: Damon Grobler, Frans Malan, Andries Koen, Henco van Heerden, MC Kuhn. Doelskoppe: Morne Sonnekus (5). Strafdoel: Sonnekus. Florida 29.
HTS Middelburg 25 – Drieë: Duart Willemse, Blikkies Janse van Rensburg, Uys du Preez. Doelskoppe: Morne Sonnekus (2). Strafdoele: Sonnekus (2). Hoërskool Nelspruit 22 – Drie: Gerbrand Hurter. Doelskop: Stephan van der Bank. Strafdoele: Van der Bank (5).
Ander spanne:
o.16: Monument 22, Pietersburg 5; Transvalia 23, Kemptonpark 0; Garsfontein 31, Rustenburg 15; Klerksdorp 51, Nelspruit 7; HTS Middelburg 31, Florida 17; HTS Middelburg 24, Nelspruit 22.
o.15: Monument 33, Pietersburg 12; Transvalia 20, Kemptonpark 10; Rustenburg 12, Garsfontein 12; Klerksdorp 40, Nelspruit 19; Florida 10, HTS Middelburg 5; Nelspruit 15, HTS Middelburg 5.
o.14: Monument 29, Pietersburg 0; Transvalia 21, Kemptonpark 12; Rustenburg 32, Garsfontein 12; Nelspruit 27, Klerksdorp 5; Florida 13, HTS Middelburg 12; Nelspruit 18, HTS Middelburg 10.




