Karakter, groei dra Klofies deur uitdagende seisoen

Hoërskool Waterkloof se eerste netbalspan het vanjaar weer bewys dat ware sukses nie slegs aan punte of posisies gemeet word nie, maar aan deursettingsvermoë, geloof en spanverband.
Hierdie jong en belowende groep het deur die 2025-seisoen merkwaardige groei getoon, ten spyte van verskeie uitdagings. Die hoogtepunte van die jaar was nie slegs seges oor sterk teenstanders nie, maar die onwrikbare geloof wat die spelers in God, mekaar en hul mentors gehad het.
“Ons het klein doelwitte vir onsself gestel, en selfs wanneer dinge moeilik geraak het, het die spelers nooit opgegee nie,” verduidelik Klofies se netbaldirekteur, René Straeuli.
’n Besonderse mylpaal was toe Waterkloof vir die eerste keer in drie jaar die top-agt by die La Rochelle-toernooi gehaal het, ’n prestasie wat nóg meer betekenisvol was gegewe die drie ernstige beserings wat die span moes trotseer.
‘n Onvergeetlike oomblik van die seisoen was die oorwinning oor Sentraal in die uitspeelwedstryd om derde plek tydens die Sentraal-toernooi, verál nadat Klofies vroeër in die rondes teen die einste Tralies die knie gebuig het. Nog ’n trotse prestasie is dat Waterkloof van 28ste in 2024 na 22ste op die nasionale skoleranglys geklim het, ’n bewys van konstante verbetering en vasberadenheid.
Met slegs twee spelers wat van die vorige jaar oorgebly het, moes hierdie span letterlik van vooraf begin bou. Dit was aanvanklik ’n uitdaging om nuwe spelers bymekaar te bring en vertroue te vestig, maar namate die seisoen gevorder het, het hulle ’n hegte eenheid gevorm. Selfs ná drie groot beserings het die span se jong lede vinnig aangepas en hul plek in die span verdien. Die grootste groei was in hul vermoë om aan te pas by verskillende kombinasies en steeds mededingend te bly teen top skole.
Waterkloof het vernaam vooruitgang getoon wat hul verdediging betref, asook die beperking van ongeforseerde foute. Waar onnodige foute aanvanklik ’n struikelblok was, het die span later meer gefokus en gedissiplineerd gespeel, wat tot kritieke oorwinnings gelei het.
Vyf spelers wat verlede jaar nog vir die B-spanne gespeel het, het vanjaar met groot sukses hul plek in die eerste span volgestaan. Hulle vermoë om aan te pas by die vinniger tempo van A-span-netbal, asook spelers wat nuwe posisies moes bemeester, verdien groot lof. Waterkloof se eerste span het met trots, geloof en ongelooflike vasberadenheid gespeel, en hoewel elke uitslag nie altyd in hul guns was nie, het die span se groei, karakter en eenheid die ware triomf van die 2025-seisoen bepaal.
Uitslae
NWU-reeks:
Verloor teen Ben Vorster 34–27
Verloor teen Oos-Moot 17–25
Wen teen HTS Middelburg 25–21
Wen teen Kempton 22–18
Klooffees:
Wen teen Jeugland 16–11
Wen teen Potch Volkies 18–11
Wen teen Eunice 21–17
Verloor teen Sentraal 12–18
Wen teen Windhoek Privaat 16–6
Verloor teen La Rochelle 15–25
Wen teen Brandwag 23–12
Wen teen Framesby 22–20
Wen teen Klerksdorp 20–15
Paarl-toernooi:
Wen teen Sundowns 38–37
Verloor teen Paarl Gim 16–49
Verloor teen Upington 33–35
Wen teen Montana 28–27
Wen teen Tygerberg 35–34
Verloor teen Bloemhof 29–35
Wen teen Upington 33–23
Sentraal-toernooi:
Wen teen Wilgerivier 40–23
Wen teen Kalahari 35–16
Wen teen Pietersburg 33–25
Wen teen Despatch 43–24
Verloor teen Sentraal 24–35
Verloor teen Garsfontein 18–33
Wen teen Sentraal (3de plek) 24–20
Liga:
Verloor teen Garsfontein 29–37
Verloor teen Affies 16–40
Verloor teen Menlo 21–27
Wen teen Zwartkop 35–21
Wen teen Eldoraigne 36–24
Wen teen Oos-Moot 31–28
Wen met ’n forfeit teen Montana
- Karakter, groei dra Klofies deur uitdagende seisoen - 2025-10-28
- Toekoms lyk rooskleurig vir Rand Park na deurbraakseisoen - 2025-10-27
- Middies sluit 2025 op ’n hoë noot af - 2025-10-22



