SuperSport Schools Plus

Jim Fouché baas in ENB Classic Clash oor Tralies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-05-12

Die eerste-rugbyspanne van die tuisspan, Jim Fouché en Sentraal het Saterdag in ‘n stryd wat tot op die nippertjie in die weegskaal was in ‘n ENB Classic Clash-wedstryd mekaar harde klippe laat kou.

Die wedstryd gaan nie vir skitterspel onthou word nie, want daarvoor was daar te veel hanteerfoute, omgekeerde besit en ook verlies van balbesit wanneer manne van beide spanne gelak is.

Sentraal het in die eerste 20 minute van die wedstryd balbesit-oorhand gehad en reeds na 15 minute met 5-0 voorgeloop.

Na 20 minute het JF sy voete gevind en beter as ‘n eenheid begin speel. JP Steyn (linkervleuel) het twee drieë kort namekaar ingeryg en was deurgaans ‘n handvol vir die Tralies.

Sentraal het egter kort voor rustyd met ‘n oorstootdrie die manne met 10 elk kleedkamers toe gestuur.
Die tweede helfde was ‘n wipplank-ryery en hoewel Sentraal in ‘n stadium met 27 – 18 voorgeloop het, het die manne in groen geveg soos stormramme.

JF se terugvegpoging het hulle met ses minute oor met 28-27 laat voorloop.

Toe maak die Tralies ‘n oordeelsfout wat hulle nog lank nagmerries gaan besorg. Met vier minute oor het Sentraal besluit om ‘n binne trefafstand-strafskop, wat hulle die wedstryd kon laat wen, eerder by die kantlyn uit te jaag en voorlangs aan te val. Jim Fouché het egter genoeg gedoen om sy voorsprong (28-27) te behou tot die eindfluitjie.

Vir Jim Fouché het veral sy linkervleuel JP Steyn, haker Johan Erasmus en regtervleuel Wian Musgrave uitgeblink. Die vuurvreterspel van die slot van Sentraal, SJ Wessels sal mens ook lank bybly.

President Steyn het ‘n belangrike oorwinning van 29-24 oor Brandfort in die Vrystaatse B1-liga op Gonval Storepark behaal. Die besoekers het rustyd 15-3 voorgeloop.

Die Steyners het voorlangs swaar gekry en baie besit by die afbreekpunte afgestaan. Brandfort se agtsteman, Jan Serfontein was ‘n doring in die tuisspan se vlees. Hy is goed voorlangs deur sy kaptein en flank Niel Terblanché bygestaan.

Agterlangs het Steyners die ghitaar geslaan. Die span se heelagter Jean van Rensburg en skrumskakel Janus Sander het die meeste met hulle spel beïndruk. Voorlangs het die haker Juan Grobler en loskopstut Jaco Becket goed vir die wenspan vertoon.

Zastron het in ‘n vriendskaplike wedstryd vir Hoërskool Middelburg van die Oos-Kaap 50-13 afgeransel. Die wenspan se losskakel Nakkie Naudé en senters Hendri Roodt en AJ Goosen het goed gekombineer, terwyl die heelagter Ruhan Goosen se vaart net te veel vir die verloorspan was. Ruhan Goosen het twee keer gaan druk.

Puntemakers: 

Jim Fouché 28 (10) – Drieë: JP le Roux (2), Wian Musgrave, Daneel Stone, Marco Vermeulen. Strafdoel: Musgrave. Sentraal 27 (10) – Drieë: Stefan Kruger, Franco Tack, SJ Wessels, Ryno Gerber. Doelskoppe: DP de Lange (2). Strafdoel: De Lange. 

President Steyn 29 (3) – Drieë:Lee-hane Ontong, Jean van Rensburg, Chester Seyake, Eugene Strydom. Doelskoppe: Janus Sander (3). Strafdoel: Sander. Brandfort 24 (15) – Drieë: Pieter Reynecke, BD van der Vyver, Eugene Slater, Niel Terblanché. Doelskoppe: Henco de Wet (2).

Zastron 50 – Drieë: Wayne Slabbert (2), Ruhan Goosen (2), Tumi Slabbert, Hendri Roodt, Jason Scorgie. Doelskoppe: Nakkie Naudé (6). Strafdoel: Naudé. Hoërskool Middelburg (Oos-Kaap) 13.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.