Janse van Rensburg lê tuig na 12 jaar neer
Na 12 jaar en meer as ‘n half miljoen eposse as sekretaris van die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging (SASRV) sal Hendrik Janse van Rensburg vandag tydens die vereniging se jaarvergadering in Kaapstad die tuig neerlê.
Janse van Rensburg het sedert 2005 die pos beklee en het ook vir 20 jaar op Oostelike Provinsie se Skolerugby-vereniging se bestuur gedien. Hy sal steeds in sy pos as adjunkhoof van Sunridge in Port Elizabeth aanbly.
Daar is drie nominasies vir Janse van Rensburg se pos ontvang. Tinus Diedericks (Northcliff), Kervin Grove (St Joseph’s Marist) en Dean Moodley (Kearsney College).
Diedericks is die voorsitter van die Goue Leeus se skolevereniging, terwyl Moodley homself al as spanbestuurder van die SA Skole-span asook KwaZulu-Natal se Cravenweek-span uiters goed van sy taak gekwyt het.
Grove is die voorsitter van WP se skolevereniging.
Die voorsitter van die SASRV, Noel Ingle (KwaZulu-Natal) sal onbestrede in sy pos herkies word. So ook die ondervoorsitters, Katiso Mosiuoa (Grens) en Granville Josephs (SWD).
Die skoolhoof van Hugenote in Wellington, Wikus Naudé, sal ook onbestrede in sy pos as tesourier aanbly.
Grove en Gerrit Rudolph (Langenhoven Gimnasium, SWD) sal as addisionele lede teen Diedericks en David Coert vir die twee hoërskool-poste in die hoedanigheid op die bestuur staan.
Slegs Anton Smith (Laerskool Meiringspark) sal weer vir staan as een van die laerskole se addisionele lede. Selwyn January (Goue Leeus), Hendrik Olwagen (Blou Bulle) en Barry Wilson (KwaZulu-Natal) is nuwe nominasies vir die twee poste.
José O’Brien (Olympia, Vrystaat) het homself nie weer verkiesbaar vir die pos gestel nie. Josua du Plessis (Elandspark) sal onbestrede as die LSOB-verteenwoordiger herkies word. Du Plessis is die voorsitter van die LSOB-vereniging (vir Leerlinge met Spesiale Onderwys-behoeftes).
Al ses nasionale skolekeurders Johan Calitz (Monument), Nollie de Beer (Carolina Akademie), Henkie Green (New Orleans), Danie Slabbert (Daniëlskuil), Gerald Pyoos (Clifton) en Roelf Meyer (Grey-kollege) sal weer as keurders beskikbaar wees, met Aboekakar Frieslaar (WP) wat as nuwe nominasie sal probeer om sy naam tot die lys te voeg.




