Interskole: Kan HMS Paarl dit drie uit drie maak?
Opwinding is aan die opbou in die Paarl, met een van die land se voorste interskole-byeenkomste wat Vrydagmiddag plaasvind.
Ten spyte van die bibberweer sal die netbalbane met intense wedywering verhit word aangesien die gasheer, Hoër Meisieskool Paarl, om 16:30 vir Paarl Gimnasium pak.
HMS Paarl se eerste netbalspan het die afgelope ruk sake oorheers by hierdie jaarlikse kragmeting, met ‘n spogsege van 38-18 in 2022 – hulle eerste in ses jaar – en ‘n oorwinning van 30-26 verlede jaar. Dus is die groot vraag: Kan hulle dit drie uit drie maak vandag?
Vanmiddag se wedstryd is dié spanne se tweede kragmeting vanjaar, met Paarl Gimnasium, beter bekend as die Gimmies, wat vir HMS Paarl met 27-21 geklop het in die finaal van die Topskole-toernooi.
Paarl Gim beskik oor twee uitblinkers, kaptein Elené Vosloo en onderkaptein Jana Martin, wat albei gekies was vir die SA Top-35-groep na die TNC-toernooi. Jana is ook aangewys as die beste middelbaanspeler op die toernooi.
Die Hoër Meisieskool spog met vier uitblinkers: Janie Visser, wat deel was van die o.17 SA-span en aangewys was as die beste senter by die TNC-toernooi; Anke Stofberg en Elzahn Nel wat deel was van die Top-35 SA o.18-groep; en Jenna Haywood van die Top-35 SA o.19-groep.
Sedert 2004 het die Gimmies 12 keer koning gekraai in die interskole, terwyl Paarl Girls’ High ses keer gewen het. Die jaarlikse geleentheid is in 2020 en 2021 afgelas weens die COVID-19-pandemie.
Paarl Gimnasium: Milla Barnard, Anja Smit, Leané Otto, Carly Basson, Marli Matthee, Jana Martin, Elené Vosloo, Annabella Wiese, Cathryn Botes, Karla Mostert, Eloné Dippenaar.
HMS Paarl: Sophia Wium, Anke Stofberg (kaptein), Isabella Cook, Kyla Sabbagha, Cara Els, Mine van der Walt, Elzahn Nel (onderkaptein), Jenna Haywood, Janie Visser, Angie Cook.