SuperSport Schools Plus

Henties kan vir verrassing in Irawa-liga sorg


Die enigste nuweling in die Shimla-liga van die Kovsiestreek-kompetisie, Hentie Cilliers, kan dalk vanjaar vir ‘n verrassing sorg. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie. Henties is die kampioen-span van die Noord-Vrystaat en kom Saterdag teen die Vrystaatse kampioen, Louis Botha om 12:15 in die Rosestad in die een halfeindstryd te staan.

Die span van Virginia het die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad 21-16 in die eindstryd van die Griffon-liga in Welkom geklop. Louis Botha het sy titel as kampioen van die Vrystaatse A1-liga suksesvol verdedig deur Sentraal naelskraaps 20-19 te klop. Henties het vanjaar die dienste van heelwat van die Harmony-Sportakademie se spelers bekom.

Spelers soos Algervon Ouman (skrumskakel), Lushiano James, Jaco Arends (albei vleuels), Ashley Meyer (senter) en Lilitha Kambula (flank) het vanjaar ‘n reuse verskil in die span gemaak. Voeg die Cravenweek-losskakel van die Griffons van die afgelope twee jaar, Ryno Venter by en jy het ‘n bulspan.

Louis Botha het egter vroeër vanjaar die Sportakademie 17-14 getroef. Louis Botha het ook goeie oorwinnings oor Hoërskool Kroonstad (27-12) en Framesby (27-10) behaal. Henties het Sand du Plessis (59-0) en Witteberg (60-26) afgeransel. Hulle moes hard werk om ‘n sege in hul eerste ligawedstryd teen Blouskool (22-19) te behaal.

Die verdedigende kampioen, Noord-Kaap, is vanjaar die gunsteling om weer die kroon te dra. Die span van die Diamantstad kom op Pirates se veld in Kimberley teen sy teenstander in verlede jaar se eindstryd, Rooiskool te staan. Northerns het verlede jaar in die eindstryd van die Shimla-liga 22-19 koning gekraai.

Noord-Kaap het vanjaar ‘n allemintige 12 spelers tot Griekwas se Cravenweek-span bygedra. Noord-Kaap het boonop ‘n indrukwekkende vertoningslys vanjaar. Hulle het onder andere Dale-kollege met twee SA Skole-spelers (31-21), Duineveld in Upington (52-22), Griekwas o.19 (42-0), Welkom Gimnasium (20-0), Marlow Landbou (18-9) en Witteberg in Bethlehem (83-0) geklop.

Die span het wel teen Hoërskool Klerksdorp (7-8) en Sentraal (5-6) vanjaar die knie gebuig.

Rooiskool het vanjaar gesukkel om die dieselenjin aan die gang te kry, maar die span vertoon met elke wedstryd beter. Hy het naelskraapse seges oor Welkom-Gimnasium (18-17) en Voortrekker (11-10) behaal. Hy het ook soos Northerns teen Duineveld (19-13) en Witteberg in Bethlehem (42-3) oorwinnings behaal. Waar Noord-Kaap teen die Klerksdorp die knie gebuig het, het die manne van Kroonstad 6-elk gelykop gespeel.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.