SuperSport Schools News

Helpmekaar-kollege moet waak teen etiket van “Droomspan”

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-03-14

HelpmekaarOndersteuners van Helpmekaar-kollege sien al ‘n hele paar jaar uit na die 2017-seisoen. Die seisoen word as Helpmekaar se eerstespan se “droomseisoen” beskryf, maar die span en skool is self versigtig om na hulself as die “droomspan te verwys. 

Verskeie “droomspanne” het al tot ‘n val gekom indien die praatwerk nie vir die rugbyveld gelos word nie. Ja die matriekgroep van vanjaar was sedert hul o.14-dae nog net drie keer aan die verloorkant, maar hulle sal vanjaar behoorlik getoets word. Die span sal vanjaar die eerste keer op die Wildeklawer-toernooi in Kimberley in aksie wees.

Die spelers en bestuurspan sal teen al die komplimente wat hul as eenheid toegedig word moet waak indien hulle seker wil maak dat hul nalatenskap nie bederf word nie.

Helpmekaar se hoofafrigter is Shaun Jackson met Johan van Wyk wat die voorspelers touwys sal maak. Die tegniese ontleding word deur Morné Oosthuizen hanteer, terwyl ‘n leerling Christopher Solomons al die afgelope drie jaar die spanbestuurder is. 

Die naam van die hoof van rugby by Helpmekaar-kollege, Eugene Marais, moet ook genoem word. Marais beklee die pos al 13 jaar. Toe hy destyds by Helpmekaar aangekom het, het die skool se eerstespan in die Kleinskole-afdeling gespeel. Helpies het die afgelope twee jaar die Virseker Beeldtrofee vir Grootskole gewen. Die skool kan ook deesdae op gelyke voet met Makro-skole meeding.

Helpmekaar se onoorwonne status sal reeds in hul tweede wedstryd van die seisoen behoorlik op die proef gestel word. Die span pak Saterdag op sy tuisveld in Johannesburg die trots van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria. Die Wit Bulle het verlede jaar se wedstryd op hul tuisveld met 58-12 gewen.

Helpies sal vertrou dat hul tuisveldvoordeel ‘n bondgenoot is. Die jaargroep was nog nooit op hul tuisveld aan die verloorkant nie. Die span van die Goudstad kon laas in 1998 daarin slaag om Affies te troef. Al die wedstryde op die A-veld tussen die twee spanne word regstreeks op Fanstream.co.za gebeeldsend. Kykers kan na die wedstryde op hul slimfone, skootrekenaars asook slim-televisies kyk. 

Helpmekaar – 2017
11 Maartkl. Eldoraigne (36-17)
18 Maartvs. Affies (T)
28 Maartvs. Jeppe
13 Aprilvs. St. John’s College (ZIM)
15 Aprilvs. Paul Roos Gimnasium
17 Aprilvs. Nelspruit
29 Aprilvs. Diamantveld (WK)
1 Meivs. Selborne College (WK)
13 Meivs. Ben Vorster
20 Meivs. Pietersburg
27 Meivs. Waterkloof
3 Junievs. Garsfontein
29 Julievs. Parktown Boys’ High

Helpies het in hul eerste wedstryd van die seisoen vir Eldoraigne wat Pretoria met 36-17 geklop. Buiten die wedstryd Saterdag teen Affies sal die span se ander groot toetse teen Paul Roos Gimnasium tydens St. John’s College se Paastoernooi en teen Selborne College tydens die Wildeklawer-toernooi wees.

Die span se ander twee wedstryde tydens St. John’s College se Paastoernooi sal teen St. John’s College van Harare en die Hoërskool Nelspruit wees. Op die eerste dag van Wildeklawer sal die span teen die gasheer, Diamantveld te staan kom.

Die span se kaptein en flank, Mark Snyman, is ‘n inspirerende leier en sy spelpeil asook sy leierskap sal ‘n groot rol in Helpies se sukses vanjaar op die rugbyveld speel. Snyman het verlede jaar reeds die SA Skole A-span gehaal en indien hy op sy vertonings tot dusver op die rugbyveld voortbou behoort Helpies vanjaar hul vyfde SA Skole-speler op te lewer.

Snyman het saam met die vleuel/heelagter David Cary en haker Dameon Venter ook reeds verlede jaar die Goue Leeus op die Coca-Cola Cravenweek in Durban verteenwoordig. Buiten Cary en Venter sal die span ook op die stut Ignis Meyer, flank Liam van den Berg, skrumskakel Ruhan Viviers, losskakel Tristan Oosthuizen en senter Jeremy Randell kan staatmaak wat verlede jaar reeds die skool se eerstespan verteenwoordig het. 

 

 

 

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.