Helpies se Heymans die blinkste ster tydens die Egoli-byeenkoms

Helpmekaar Kollege se spiesgooier Jan-Hendrik Heymans het vir die hoogtepunt van die jaarlikse Bestmed Egoli-byeenkoms in die UJ-stadion in Johannesburg gesorg.
Dit is wel vroeg in die seisoen, maar Heymans (o.17) het die blikassegaai ‘n allemintige 73.12 meter gegooi. Dit is ook natuurlik die redelik nuwe byeenkoms se rekord vir dié nommer. Dié byeenkoms is verlede jaar vir die eerste keer aangebied.
Heymans het verlede jaar die o.16-rekord met ‘n gooi van 60.63m opgestel. Sy poging op vanjaar se byeenkoms was die enigste vertoning wat ‘n volle 1 000 punte verdien het.
Helpies se Hanro van den Berg (o.16) het ook ‘n skitterende vertoning in dié nommer gelewer. Hy het die spiesgooi vir seuns o.16 met ‘n poging van 60.19m gewen.
Darius Botha van Dr. Malan het die seisoen ook op ‘n hoë noot begin. Hy het in die gewigstoot asook diksus vir seuns o.14 koning gekraai. Botha het die gewigstoot met ‘n poging van 17.90m gewen, terwyl hy die diskus 53.79m ver gegooi het.
King Edward VII se Chinedu Amadi was in ‘n hewige tweestryd in die gewigstoot vir seuns o.17 met die Hoërskool Klerksdorp se Hanro Nel gewikkel. Amadi het goud met ‘n poging van 17.45m verower, terwyl Nel (17.33m) met silwer tevrede moes wees.
Amadi het ook in die diskus met ‘n poging van 45.79m gewen.
Die beste vertoning op die baan is deur Jeppe se Kgoputso Manaleng (o.15) in die 100-hekkies opgedis. Hy het die nommer in ‘n nuwe rekordtyd van 12.54 sekondes gewen.
Jeppe se naelloper Mukona Manavhela het ook ‘n goeie dag op die baan beleef. Hy het die 200m vir seuns o.16 in net 21.35 sekondes voltooi. Die 100m het hy in 10.51 sekondes afgeblits vir nog ‘n goue medalje.
King Edward VII se verspringer Joshua Wilkinson spog nou met die enigste verspring-rekord van dié byeenkoms. Hy het die nommer vir seuns o.16 met ‘n sprong van 7.07m gewen.
Wilkinson het verlede jaar ook in die o.15-afdeling met ‘n sprong van 6.87m gewen.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16