SuperSport Schools News

Helpies sal titel teen Lichtenburg in Virseker Beeldtrofee verdedig

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-08-22

Die verdedigende kampioen van die Virseker Beeldtrofee vir Grootskole, Helpmekaar-kollege, sal sy titel Saterdag teen Lichtenburg op laasgenoemde se tuisveld verdedig.

Helpies het gesukkel om Ligbron Saterdag op Ermelo met 27-15 te klop. Die span van die Goudstad se heelagter, Chuiner van Rooyen, was soos altyd op sy stukke. Dit was veral sy stelskopwerk in moeilike winderige omstandighede wat sy span op die ou einde deurgetrek het. Hy het al drie sy span se drieë verdoel en ook twee strafdoele tussen deur die pale gejaag.

Van Rooyen het ook ’n briljante individuele drie gedruk waar hy bykans deur die hele span van Ligbron gehardloop het. Die wedstryd was ’n stryd tussen Ligbron se groot pak voorspelers en die vluvoetige en vaardige agterhoede van Helpmekaar.

Buiten Van Rooyen het die kantman Robbie Slabbert ook uitstekende werk by die afbreekpunte verrig. Hy sak aan die kant van die skrum in die plek van die Helpies se SA Skole A-span flank, Mark Snyman, wat nie vir die span se laaste twee wedstryde beskikbaar was nie. Slabbert behoort vir die eindstryd terug na slot te skuif.

Lichtenburg het op sy tuisveld oor te veel skietgoed vir Vereeniging Gimnasium beskik en met 48-17 as oorwinnaars van die veld gestap. Die Liggies het die besoekers in die eerste helfte geblitzkrieg en binne die eerste kwart van die wedstryd reeds vier drieë gedruk.

Gimmies het voor die kragmeting per gemiddeld minder as vier punte per wedstryd afgestaan. Niks het in die wedstryd vir Gimmies uitgewerk nie en die span het ’n slegte dag op kantoor beleef wat nog lank by hom sal spook.

Liggies het al die foute wat Gimmies het dadelik uitgebuit. Vir Gimmies het sy kaptein en heelagter, Jan Labuschagné, vleuel Edrich Jacobs en haker Enrico Robbertse moedig probeer.

In Vanderbijlpark sou die vreugdevure Saterdag ook hoog gebrand het. Transvalia het ’n span in elk van die jonger spanne se eindstryde. Dié skool se o.16-span het op ’n drafstap met Frikkie Meyer van Thabazimbi (45-7) klaargespeel. Hulle sal in die eindstryd teen Oos-Moot van Pretoria te staan kom. Oos-Moot het Ligbron met 32-28 uitgeskakel.

Transvalia se o.15-span het nie veel probleme ondervind om sy eweknie van die Hoërskool Pietersburg met 36-15 te troef. Hy sal in die eindstryd teen Helpmekaar te staan kom. Helpies se o.15-span het Frikkie Meyer met 35-15 in die ander halfeindstryd geklop.

In die o.14-afdeling het Transvalia vir Potchefstroom Gimnasium met 36-10 die loef afgesteek, terwyl Rob Ferreira in die ander halfeindstryd ’n naelskraapse sege van 12-11 oor Helpmekaar behaal het.

Puntemakers: 

Helpmekaar 27 (13) – Drieë: Chuiner van Rooyen, Zandré Kruger, Robbie Slabbert. Doelskoppe: Van Rooyen (3). Strafdoele: Van Rooyen (2). Ligbron 15 (7) – Drieë: Lwazi Sithole, Hamilton Muisi. Doelskop: Gert Cronjé. Strafdoel: Cronjé. 

Lichtenburg 48 – Drieë: Henk Venter (2), Bertru Jones (2), Corno Lubbe, Evardi Boshoff, Lohan Jahns, Donovan Serfontein. Doelskoppe: Jahns (2), Rabie van Zyl, Boshoff. Vereeniging Gimnasium 17

Ander spanne: 

o.16: Oos-Moot 32, Ligbron 28; Transvalia 45, Frikkie Meyer 7. 

o.15: Helpmekaar 35, Frikkie Meyer 15; Transvalia 36, Hoërskool Pietersburg 15.

o.14: Rob Ferreira 12, Helpmekaar 11; Transvalia 36, Potchefstroom Gimnasium 10.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.