SuperSport Schools Plus

Helpies die beste netbalskool in die land

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-10-16 Tags: ,

Helpies se o.15’s gekroon as SA-kampioene.

Helpmekaar Kollege is onlangs aangewys as die Beste Netbalskool in Suid-Afrika.

Vir die Helpies-gemeenskap is hierdie erkenning nie bloot ’n titel nie, maar die bevestiging van jare se toewyding, harde werk en ware liefde vir die sport waarop hulle met dankbaarheid en nederigheid uiters trots is.

By Helpmekaar word daar geglo dat sukses nie aan geheime of formules gekoppel is nie, maar dat dit spruit uit opregte liefde vir die spel, asook ’n span mense wat waarlik omgee vir die dogters wat die Helpie-baadjie dra.

Elke seisoen bring nuwe uitdagings en geleenthede vir groei. Oefentye bly byvoorbeeld ’n struikelblok, aangesien Helpmekaar se busse reeds om 15:00 vertrek en spelers regoor Johannesburg woonagtig is. Tog gee die afrigters alles, van die A- tot die E-spanne. Hul passie vir netbal word weerspieël in hul toewyding aan elke speler, ongeag haar vlak of span.

Mentorskap vorm ook ’n kernpilaar van Helpmekaar se benadering tot sport. Dr. Elsje Jordaan, wat al vir etlike jare deel vorm van die skool se netbalprogram, speel ’n beduidende rol in die ontwikkeling van beide spelers en afrigters. Haar kundigheid en betrokkenheid is van onskatbare waarde vir die groei van die program.

Die vrugte van hierdie harde werk was vanjaar duidelik sigbaar:

  • Die o.15-span het goud gewen by die Kay Motsepe-toernooi en vertrek op 21 November na Singapoer om Suid-Afrika te verteenwoordig, ‘n besondere prestasie wat groot trots bring.

  • Die o.14- en o.16-spanne het albei silwer verower by die SA-kampioenskappe.

  • Die eerste span het ’n vyfde plek in Gauteng behaal, ’n bewys van die diepte en gehalte van Helpmekaar se netbalprogram.

Tog gaan dit by Helpmekaar oor méér as bloot medaljes en trofees. Die skool glo dat elke dogter die kans verdien om te groei, haar talente te ontwikkel en, bo alles, die vreugde van netbal te ervaar.

By Helpmekaar Kollege bly dit ’n groot voorreg om deel te wees van elke dogter se reis – op die baan, maar ook buite sportverband.

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.