SuperSport Schools News

Harrismith behaal eerste sege oor Wilgerivier sedert 2009

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-05-12

Die rugbyspan van die Hoërskool Harrismith het Dinsdag vir die eerste sedert 2009 daarin geslaag om Wilgerivier van Frankfort te klop. Die sege van 23-19 op sy tuisveld het ook aan Wilgerivier sy eerste nederlaag in die Oos-Vrystaatse liga sedert 2010 gegee.

Wilgerivier het in 2010 teen Vrede die knie gebuig. Harrismith is nou die vroeë gunsteling in dié liga. Die skool het laas in 1988 die kroon as kampioen van die Riemland gedra. Toe was die Sentrale Universiteit van Tegnologie se rugbyklub se voorsitter, Lou Nieuwoudt, nog dié skool se eerstespan se breier.

Hy het hulle toe tot in die eindstryd van die destydse Vrystaatse Administrateursbeker gebrei. Hier het hulle teen Wessel Maree van Odendaalsrus met 22-4 die knie gebuig. Die span van Wessel Maree is deur sy agtsteman, Nico Pretorius, gelei. Hy het later die Vrystaatse krieketspan verteenwoordig en is tans die baanopsigter van Chevroletpark. Ook in die span was die latere Springbok-losskakel, Jannie de Beer.

Vir Harrismith het die haker, D’Angelo Williams, uitstekende spel teen Wilgerivier gelewer. Hy het ook albei sy span se drieë gedruk. Die agtsteman, Kurt van Rooyen, het ook goeie spel gelewer.

Vir Wilgerivier was sy vleuel, Andries Burgers, en haker, Shalk Wilkinson, sy beste op die dag. Die span van Frankfort het Saterdag vir Reitz met 17-3 getroef. Harrismith moes veel harder werk om Ficksburg met 27-22 te klop.

Ficksburg se agtsteman, Doors Smit, het vier drieë vir sy span die week gedruk. Hy het Dinsdag in sy span se oorwinning van 24-0 oor Ladybrand twee keer die doellyn oorgesteek en dit weer teen Harrismith herhaal.

Hennenman is steeds onoorwonne in die Sandveld-liga na hy verlede jaar se kampioen, Bothaville, Saterdag met 28-12 verslaan het. Die span se heelagter, Angelo Pienaar, was in sy 50ste wedstryd vir sy skool se eerstespan die groot held. Hy het twee keer gaan druk, een doelskop oorgeklits en ook met drie strafdoele geslaag. Vir Bothaville het die senter, Carlo Kleynhans, ‘n hele paar goeie lopies ingekry.

Riebeeckstad het Saterdag vir Wessel Maree met 31-0 die loef afgesteek. Riebies se losvoorspeler, Zander Bester, heelagter Wanga Shumi en flank Morné Botha en vaskoptstut Christo Buytendach het goed vertoon.

Hoopstad het in die week met Welkom High (38-12) en Salomon Senekal (61-5) klaar gespeel. Bultfontein het gemaklik 61-0 met Theunissen afgereken. Die span se Armand Kuhn en Arno Taljaard het elk ‘n driekuns aan drieë behaal.

Puntemakers:

Harrismith 23 (3) – Drieë: D’Angelo Williams (2). Doelskoppe: Remo Bruiners (2). Strafdoele: Bruiners (3). Wilgerivier 19 (5) – Drieë: Schalk Wilkinson, GJ Janse van Rensburg, Andries Burgers. Doelskoppe: Wilkinson (2). 

Harrismith 27 (17) – Drieë: Luzaad Osteridge, Chi-chi Chikwe, Roswin Kampher. Doelskoppe: Remo Bruiners (3). Strafdoele: Bruiners (2). Ficksburg 22 (15) – Drieë: Doors Smit (2), Paul Burger. Doelskoppe: Gavin Wolmarans (2). Strafdoel: Wolmarans. 

Ficksburg 24 – Drieë: Doors Smit (2), Jade Adams, Paul Burger. Doelskoppe: Gavin Wolmarans (2). Ladybrand 0

Wilgerivier 17 (5) – Drieë: Monré Venter, GJ Janse van Rensburg, Rhyno Coetzee. Doelskop: Schalk Wilkinson. Reitz 3 – Strafdoel: Neil van der Merwe. 

Hennenman 20 (6) – Drieë: Nico Venter, Fanie Pretorius. Doelskoppe: Angelo Pienaar (2). Strafdoele: Pienaar (2). Riebeeckstad 7 (0) – Drie: Wanga Shumi. Doelskop: Zander Bester.

Hennenman 28 (16) – Drieë: Angelo Pienaar (2), Paul Dalton. Doelskoppe: Pienaar, Stefan Smit. Strafdoele: Pienaar (3). Bothaville 12 (0) – Drieë: Drikus Klopper, Wian Nell. Doelskop: Carlo Kleynhans. 

Bothaville 15 (7) – Drieë: Reinhardt Grobler, Norman Payne. Doelskop: Carlo Kleynhans. Strafdoel: Kleynhans. Wessel Maree 10 (5) – Drieë: Mpho Mashiya, Anthony Carstens. 

Riebeeckstad 31 – Drieë: Wanga Shumi (2), Morné Botha, Songea Sikulule, Simon Sithole. Doelskoppe: Zander Bester (3). Wessel Maree 0

Hoopstad 38 – Drieë: Jaco Burger (2), Adriaan Meintjies (2), Andries van Zyl, Thomas Verburgh. Doelskoppe: Burger (4). Welkom High 12

Hoopstad 61 – Drieë: Rikus Faber (2), Henko van Zyl, Frans-Willem van Beeck, Koos Snyman, Raynard van Heerden, Franco Schoonraad, Andries van Zyl, Adriaan Meintjies. Doelskoppe: Jaco Burger (5), Schoonraad, Meintjies. Salomon Senekal 5

Bultfontein 61 – Drieë: Armand Kuhn (3), Arno Taljaard (3), Erik Helm (2), Bernard Fourie. Doelskoppe: Fourie (6), Taljaard (2). Theunissen 0.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.