Grey skop 2016 met sege af
Die grootste kykgenot wat Saterdag in Grey-kollege se tuisoorwinning met 54-22 oor Welkom-Gimnasium te sien was, was vir seker die tuisspan se indrukwekkende senterpaar.
Hoewel ’n mens kon sien dat die seisoen nog in sy babatokse is, het Grey se senters, Rikus Pretorius en Gerrie Koeglenberg, gewys daar is rede tot opwinding oor Grey se seisoen.
Dié twee manne is gróót en aggressief en spog boonop met genoeg vaart en vernuf om ander spanne hoofbrekens te besorg.
Wat die wedstryd self betref, het die besoekers se dissipline hulle aanvanklik in die steek gelaat. Grey het ’n paar mooi drieë gedruk en was met rustyd gemaklik met 30-10 voor.
Ná die omdraaislag het Gimmies egter soos ’n totaal ander span gelyk en het met twee vinnige drieë die telling na 22-30 laat krimp.
’n Mens wou-wou begin dink hier kom ’n ding, maar Grey was op die ou end net te sterk vir die manne van Welkom.
Gimmies hoef egter glad nie hul koppe in skaamte te laat sak nie en veral die senter Richman Gora het ’n goeie vertoning gelewer.
Die Cherries moes sweet om vir Hentie Cilliers van Virginia onder te kry. Grey se naasbestes het die wedstryd met 17-15 gewen. Die besoekers het met die omdraaislag ’n skrale voorsprong van 7-3 geniet.
Vir Henties was sy stut Winny Kennedy, flank Dillon Hardenburg en agtsteman, Morné Mkwayi, woelig. Agterlangs het die senter William Hendricks en Jovanian du Preez stukkies met stukkies goeie spel vorendag gekom.
Wilgerivier van Frankfort het op sy sportdag sy rieme teen Vereeniging Gimnasium met 8-38 vasgeloop. Die span van Frankfort behoort egter nie te veel slapelose nagte oor die nederlaag te hê nie. Hy sal na die wedstryd ’n goeie idee hê wat op hom in die Griffon-liga teen spanne soos Welkom-Gimnasium en Voortrekker wag.
Reitz se skrumskakel, Geyer Terblanche, het ’n driekuns aan drieë in sy span se oortuigende sege van 42-0 oor Generaal Smuts behaal. Sy skakelmaat, Neil van der Merwe, het self ’n waardevolle bydra van 17 punte gelewer.
Riebeeckstad was met 34-5 in sy interskole teen Hoërskool Bloemfontein baas. Riebies se voorspelers het met sy agtsteman, Johan Marais, aan die voorpunt het sake beheer. Agterlangs het die kaptein en skrumskakel, Liphoko Majoe, die losskakel, Nathan Fourie, en die senter Docter Mahkubu ook blink vertonings gelewer.
Bothaville het vir Parys met 36-0 ’n rugbyles geleer. Die senter Carlo Kleynhans het sy goeie vertonings sover die seisoen voortgesit. Voorlangs kan die vaskopstut, Hanco van Aswegen, en die losvoorspelers Brian Fulton en Jurie Viljoen vandag breëbors rondloop.
Landoudal van Jacobsdal het op Paul Roos Gimnasium se sportdag in Stellenbosch sy rieme behoorlik met 8-35 teen Hottentots-Holland styfgeloop. Lanties se senter Tiaan van Wyk, agtsteman Rikus Jonck en die vleuel Ferreira Strauss, wat ook op senter diens gedoen het, goeie spel gelewer.
Puntemakers:
Grey-kollege 54 (30): Drieë: Jaco van Tonder (2), Marnus Boshoff, Rewan Kruger, Matthew Wessels, Dian Schoonees, Jandré de Beer, Rikus Pretorius. Doelskoppe: Mario Vieira (4). Strafdoele: Vieira (2). Welkom Gimnasium 24 (6): Drieë: Jason Wagman, Wian van Staden, Gift Dlamini. Doelskoppe: Kota (2). Strafdoel: Kota.
Cherries 17 (3): Drieë: Rian Heyman, PR Serfontein. Doelskoppe: Heyman (2). Strafdoel: Heyman. Hentie Cilliers 15 (7): Drieë: Siyabonga Mzantsi, William Hendricks. Doelskop: Owen Kleinhans. Strafdoel: Kleinhans.
Riebeeckstad 34 (12): Drieë: Docter Makubu (2), Nathan Fourie, Themba Malindi, Dibakiso Tladi, Johan Marais. Doelskoppe: Fourie (2). Hoërskool Bloemfontein 5.
Reitz 42: Drieë: Geyer Terblanche (3), Neil van der Merwe, Dawie Lombaard, Jacques-Louis van der Merwe. Doelskoppe: Neil van der Merwe (6). Generaal Smuts 0.
Landboudal 8 (3): Drie Handré Engela. Strafdoel: Tiaan van Wyk. Hottentots-Holland 35 (14).
Wilgeriver 12 (5): Drieë: Cobus Erasmus, Ruan Pretorius. Doelskop: Erasmus. Hoërskool Sasolburg 0.
Bothaville 36 (10): Drieë: Reinhardt Grobler (2), Morné Dodds (2), Hanco van Aswegen, Carlo Kleynhans. Doelskoppe: Kleynhans (3). Parys 0.




