SuperSport Schools Plus

Grey-kollege klop Louis Botha oortuigend

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-04-23

GREY-KOLLEGE behoort vanjaar sy onoorwonne status teen spanne van die Rosestad sedert 1993 te behou. Grey se laaste nederlaag teen ’n span van Bloemfontein was in 1992 teen Sentraal (11-13) op Shimlapark.
Grey het Saterdag vir Louis Botha 43-0 in hul ligawedstryd op eersgenoemde se tuisveld verslaan. Die tuisspan kon teen rustyd net 11-0 voorloop, maar het in die tweede helfte tot ’n hoër rat oorgeskakel. Louis Botha het Grey fisiek aangevat in die eerste helfte, maar kon ongelukkig nie hul pogings in punte omskep nie.
Grey se senterpaar, Carel Durow en Stephen Rautenbach, het Louis Botha die meeste probleme besorg. Durow se fisieke spel en kragtige lopies het sy span op die voorvoet geplaas.
Rautenbach het 23 van sy span se punte aangeteken. Hy het twee keer gaan druk, twee drieë verdoel en ook drie strafdoele behaal. Die vleuel Johan Nel kan ook vandag met sy vertoning tevrede voel.
Voorlangs was die slot De Wet Bezuidenhout en agtsteman Andries Kriek se spel van hoogstaande gehalte.
Die Cherries het Sentraal ’n drag slae van 46-10 in hul kragmeting toegedien. Dié span van Grey sou ’n groter aanslag van die Tralies verwag het, maar blykbaar het die vorige week se kragmeting teen Waterkloof die besoekers se spelers tam gelaat.
Die Cherries se heelager, Henry Immelman, het spel van hoogstaande gehalte gelewer en 26 van sy span se punte aangeteken. Hy het drie keer oor Sentraal se doellyn gebars, vier drieë verdoel en ook ’n strafdoel deurgejaag. Vir Sentraal het sy slot SJ Wessels ’n moedige vertoning gelewer.
Jim Fouché moes sweet om Fichardtpark 28-16 onder te kry. Vir Fichies het sy slot Morné Vorster en flank Krappies Labuschagné voorlangs goed vertoon. Agterlangs was die senter Wietz de Bruyn en vleuel Nico van der Westhuizen die uitblinkers.
Zastron se nuwe senterkombinasie, AJ Goosen en Hendri Roodt, is besig om in ’n gedugte kombinasie te ontwikkel. Die duo het sleutelrolle in Zastron se oorwinning van 37-22 oor St. Andrew gespeel. Goosen het twee keer agter Saints se doellyn gaan kuier. Die skrumskakel Ruhan Goosen en heelagter Stefan Nel het ook goeie vertonings vir Zastron gelewer.
Vir Saints verdien sy agtsteman Lawrence Danso en voorryman Anthony Rawson ’n klop op die skouer. Zastron het met agt minute oor in die kragmeting net 20-15 voorgeloop, maar toe die telling met aanvallende spel uit die boonste rakke gerek.
President Steyn sou graag ’n bonuspunt in sy sege van 21-14 oor Brandfort wou behaal, maar sal steeds met die oorwinning tevrede wees.
Die wenspan het rustyd 14-0 voorgeloop. Vir die verloorspan het sy agtsteman, Jan Serfontein, ’n hele paar keer verdedigers uit die pad gehardloop en ook ’n paar balle by die afbreekpunte afgeneem. Agterlangs kan die skrumskakel Vlam Groenewald en heelagter Pixi de Beer met hul vertonings tevrede voel.
Sand du Plessis het sy interskole-kragmeting teen Aliwal-Noord op ’n drafstap 31-17 gewen. Die span se senter JB la Cock het 16 punte via ’n drie, vier doelskoppe en ’n strafdoel bygedra. La Cock sak gewoonlik aan die kant van die skrum.

Puntemakers: 

Grey-kollege 43 (11) – Drieë: Stephen Rautenbach (2),  Andrew du Plessis, Andries Kriek, Carel Durow, Martin  Wipplinger. Doelskoppe: Rautenbach (2). Strafdoele: Rautenbach (3). Louis Botha 0.
Cherries  46 – Drieë: Henry  Immelman (3), Dylan Harlen, Alex Jonker, Dwayne  Wessels, Charl Pretorius.  Doelskoppe: Immelman (4), André Swarts. Strafdoel: Immelman.  Sentraal 10 – Drie: Wian  Koekemoer. Doelskop: Brendon Kahts. Strafdoel: Kahts.
Jim Fouché 28 – Drieë: Franco Spies, Johan Erasmus,  JP le Roux, Carel-Jan  Coetzee.  
Doelskoppe:  Ruan Wasserman (2). Strafdoel: Wasserman. Fichardtpark 16 – Drie: Jaco Potgieter. Doelskop: Stefan Klopper: Strafdoele: Klopper (3).
Zastron 37 (13) – Drieë: AJ Goosen (2), Stefan  Nel, Stefan Hond.  Doelskoppe:  Nakkie Naudé (4). Strafdoele:  Naudé (3). St. Andrew 22 (3) – Drieë:  Lawrence  Danso  (2), Sly Tayi. Doelskoppe: Dean Tucker (2). Strafdoel: Tucker.
President Steyn 21 (14) – Drieë:  Lee-hane Ontong,  Janus Sander, J ean van Rensburg. Doelskoppe:  Sanders (3). Brandfort 14 (0) – Drieë: Drikus  Rautenbach, Jan Serfontein. Doelskoppe: JG Kirk (2).
Sand du Plessis 31 (17) – Drieë:  Juandré Venter (2), JB la Cock,  Rudo Peens.   Doelskoppe: La  Cock (4). Strafdoel: La Cock. Aliwal-Noord 17 (0) – Drieë: Apiwe Dinga (2), Ryan  Blom. Doelskop: O’Neal Blom.
Koffiefontein 24 – Drieë:  Alessandro  Trelawney (2),  Ismail Charlie, Rynhardt Koen. Doelskoppe: Charlie (2).  NJ Heyns 14.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.