Grey en Affies in hewige stryd more in Pretoria
Grey-kollege se rugbyspan kan vandag om 15:00 met ’n sege oor die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria hier sy aanspraak as Suid-Afrika se voorste skolespan van 2016 versterk. Maklik sal dit egter nie wees nie.
Daar word verwag dat ongeveer 15 000 toeskouers die wedstryd sal bywoon, terwyl dit ook regstreeks op SuperSport gebeeldsend sal word.
Grey is nog onoorwonne vanjaar, maar Affies het vanjaar een van die sterkste spanne in sy geskiedenis. Die span van Pretoria het wel Maandag op Wildeklawer in Kimberley met 25-29 teen Paarl Boishaai vasgeval.
Hoe die nederlaag die Affie-span se gemoedstoestand vir vandag se stryd gaan beïnvloed, sal ’n groot invloed in die uitslag hê. Affies, die Hoër Jongenskool Paarl, Grey-kollege, Glenwood en Paarl Gimnasium is sover vanjaar die voorste vyf skolespan in die land.
Die stryd tussen die twee spanne se senterpare behoort een van die hoogtepunte van die kragmeting te wees. Grey het in Rikus Pretorius en Janco van Heyningen ’n jong kombinasie wat nog volgende jaar ook beskikbaar vir die span sal wees. Affies se Louritz van der Schyff is een van die senters op skolevlak wat die hoogste in die land aangeslaan word, terwyl sy sentermaat, Marnus Potgieter, ook ’n gedugte speler is.
Affies het drie van sy ses seges oor Grey die afgelope vier jaar behaal. Die span van die Jakarandastad het sedert 2012 net in 2014 teen Grey met 31-42 verloor.
Grey behoort voorlangs sy man teen Affies se agttal te staan met sy sterk loskopstut, Tristan Spies, wat ná ’n besering terugkeer. Spies sal die teenvoeter vir Affies se SA Skole-stut, Cabous Eloff, en die vaskopstut, Arno van Wyk, moet wees. Eloff en Van Wyk is albei sterk baldraers.
Affies se skakelpaar, Jack Hart en Ruan de Swardt, sal met hul taktiese skopwerk ook ’n belangrike rol vir die tuisspan vertolk.
Die spanne is:
Affies: 15 Tristan Janse van Vuuren, 14 Carel Koch, 13 Marnus Potgieter, 12 Louritz van der Schyff, 11 Christiaan Strydom, 10 Ruan de Swardt, 9 Jack Hart, 8 Jaco Labuschagne, 7 Phillip Krause, 6 Regardt du Plessis, 5 Henk Pretorius, 4 Dylan du Preez, 3 Arno van Wyk, 2 Schalk Erasmus (captain), 1 Cabous Eloff.
Grey-kollege: 15 David Kriel, 14 Henk Cilliers, 13 Janco van Heyningen, 12 Rikus Pretorius, 11 Marnus Boshoff, 10 Christopher Schreuder, 9 Rewan Kruger, 8 Dian Schoonees, 7 Juan Venter, 6 Wihan Kloppers, 5 Jaco de Beer, 4 Jaco van Tonder, 3 Gideo Beukes (captain), 2 Matthew Wessels, 1 Tristan Spies.




