SuperSport Schools Plus

Grey bobaas teen Affies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-05-12

Grey-kollege se buitesenter, Niell Stannard het Saterdag hier slegs die tweede speler in die geskiedenis van sy skool se eerstespan geword, wat daarin kon slaag om ’n driekuns aan drieë teen Affies te behaal.

Grey het soos verwag die wedstryd gewen, maar moes veel harder as verwag vir sy sege van 42-31. Stannard het in die plek van Julian Jordaan op senter uitgedraf. Hy sou aanvanklik op vleuel begin het. Danie Swanepoel het in 2007 in Bloemfontein die enigste ander driekuns teen Affies behaal. Swanepoel wat in sy eerste wedstryd destyds vir Grey gespeel het, het baljaar met Robert Ebersohn wat aan sy binnekant die magic verskaf het.

Die span van Bloemfontein is in die eerste helfte ’n slag toegedien toe sy heelagter, Henry Immelman op ’n draagbaar die veld moes verlaat. Hy het sy kakebeen gebreek en sy lip geskeur tydens ’n botsing tussen hom en ’n verdediger van Affies.

Louwtjie Steenkamp het toe van vleuel na die laaste vesting verskuif. Hy het dadelik ’n vonk verskaf en twee keer gaan druk. Sy eerste drie het gekom na sy losskakel Dwayne Wessels pragtig tussen twee verdedigers geglip het en ’n Steenkamp met ’n uitstekende aangee gevind het.

Wessels was self een van sy span se uitblinkers. Sy balverspreiding was van hoogstaande gehalte en hy het ook heeltyd Affies se verdedigers aan die raai gehou.

Voorlangs was die kaptein en agtsteman Alex Jonker en flank Henry Slabbert puik.

Vir Affies het sy losskakel Eddie Fouché, heelagter Eduan Keyter en stut DP du Plessis was hulle span se beste spelers. Dié vertoning was sonder twyfel Affies se beste van die seisoen.

Grey-kollege is nou die enigste span wat ’n kans staan om as onbetwiste nommer-een rugbyspan van 2014 af te sluit. Die span se heel laaste kragmeting teen Paul Roos Gimnasium in Bloemfontein behoort meeste van die ranglyste se nommer-een span van 2014 te bepaal.

Grey PE het Saterdag teen Queens-kollege met 29-25 die knie gebuig. Monument wat vroeër 10-elk teen Grey-kollege gelykop gespeel het, het teen Kemptonpark (18-19) verloor. Terwyl Garsfontein deur Nelspruit (28-27) Saterdag getroef is.

Puntemakers: 

Grey-kollege 42 (22) – Drieë: Niell Stannard (3), Louwtjie Steenkamp (2), Henry Slabbert. Doelskoppe: Henry Immelman (2), Steenkamp. Strafdoele: Steenkamp, Julian Jordaan. Affies 31 (19) – Drieë: DP du Plessis, Janco Booysen, Vic Meyer, Eddie Fouché, Rohan Roelofse. Doelskoppe: Fouché (3).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.