SuperSport Schools News

Grey behaal rekordsege in Shimla-liga

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-08-22

NewsG GreyTrekkersGrey-kollege se eerste rugbyspan het gister met ’n rekordsege van 90-17 vir Voortrekker in Bethlehem in die halfeindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) afgeslag. Volksblad is ’n medeborg van die kompetisie.

Geen span van die Vrystaat kon nog sedert die onstaan van die reeks in 2007 nog daarin slaag om as kampioen van die Shimla-liga (vir mediumskole) gekroon te word nie. Die verdedigende kampioen, Welkom Gimnasium, sal egter ’n spreekwoordelike has uit die hoed moet pluk indien hulle Grey in die eindstryd wil verras. Die twee spanne sal Saterdag op Shimlapark in die eindstryd sake uitspook.

Grey het Gimmies vroeër vanjaar in sy eerste wedstryd van die seisoen met 54-24 uit die pad gevee. Die skool van die Rosestad was in die voorganger van die Kovsiestreek-kompetisie die Vrystaatbeker (ook voorheen Administrateursbeker en Direkteurs-trofee) nog nooit aan die verloorkant nie. Grey het in die reeks van 1983 tot 1987 en weer van 1997 tot 2000 die titel verower. Hy het van 1988 tot 1996 nie aan die kompetisie deelgeneem nie.

Grey het teen die Trekkers slegs twee van sy SA Skole-spelers, Rikus Pretorius (senter) en Rewan Kruger (skrumskakel), ingespan. Grey het teen rustyd met 38-12 voorgeloop met sy vleuel Henk Cilliers wat reeds in die helfte ’n driekuns aan drieë behaal het. Kruger en Pretorius het ’n reuse verskil vir die wenspan gemaak. Grey moes Saterdag sweet om sonder sy SA Skole-spelers vir Paul Roos Gimnasium met 34-32 te troef.

Pretorius en die kaptein en voorryman, Gideo Beukes, is van die spelers wat na 60 minute deur Grey vervang is toe hul die voet so ietwat van die versneller gehaal het. Die SA Skole A-span losvoorspeler, Dian Schoonees, het op die bank gesit, maar is nie opgestuur nie.

Grey se twee ander nasionale skolespelers die senter Janco van Heyningen (enkel) en slot Jaco van Tonder (harsingskudding) het die wedstryd as gevolg van beserings misgeloop.

Die vorige grootste nederlaag in die Shimla-liga was in 2008 toe die Harmony Sportakademie vir Noord-Kaap in Welkom met 66-22 verniel het.

Voortrekker se verdediging het hom veral in die tweede helfte sleg in die steek gelaat. Daar was slegs een speler van die Trekkers wat kon kers by Grey vashou. Dit was die loskopstut, Francois Klopper. Elke keer wat hy die bal in die hand gekry het, het dit ’n hele paar verdedigers gekos om hom te stuit. Hy het ook in die skrums homself deeglik laat geld. Die skrumskakel, George Badenhorst, en vaskopstut, André Claasse, het ook moedig probeer.

Puntemakers:

Voortrekker 90 (38): Drieë: Henk Cilliers (3), Marnus Boshoff (2), Rewan Kruger (2), Naudé Naudé, Francois Grobbelaar, Philip Visser, Hanno Rossouw, Hendro van der Merwe, Arno Nieuwoudt, Michiel Burger. Doelskoppe: Mario Vieira (10). Voortrekker 17 (12): Drieë: Willie Naudé, George Badenhorst, Pieter van Zyl. Doelskop: Louis Viljoen.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.