Goudveld behaal soet sege oor Diamonds in Wesgrow-reeks
Dit was nou wel nie ‘n sege in ‘n eindstryd nie, maar Goudveld-Hoërskool se oorwinning van 21-12 oor die Hoërskool Diamantveld tydens Fichardtpark se jaarlikse sportdag in Bloemfontein moes amper net so soet vir die span van Welkom gewees het.
Die kragmeting was die eerste wedstryd in vanjaar se Wesgrow-reeks en dit was toevallig ook tussen die twee spanne wat mekaar verlede jaar in die eindstryd gepak het.
Diamantveld is verlede jaar na sy sege van 29-16 as eerste kampioen van die reeks gekroon. Diamonds het ook Saterdag ongetwyfeld as die gunsteling op die veld gedraf.
Gouties het egter ander planne vir die span vanuit Kimberley gehad. Goudveld se pak voorspelers het voorlangs nie ‘n tree vir hul teenstanders terug gestaan nie. Veral die agtsteman, Jubaren Adriaan, het sy fisieke teenwoordigheid laat geld.
Die slot Heinricht Cloete het ook die veld vol gespeel. Hy het ‘n pragdrie afgerond na hy ‘n losbal ongeveer vyf meter van sy span se doellyn af deurgeskop het.
Hy het deurgans in die jaagtog kop gehou en soos ‘n vernuftige sokkerspeler die bal met die voet beheer totdat die tyd reg was om die bal onder die arm vas te knyp en oor te duik. Dié lopie van ongeveer 95 meter het die wind uit Diamonds se seile geneem.
Diamantveld het meer as genoeg geleenthede geskep om punte aan te teken. Dit was meer ‘n geval dat die span se afronding gelol het. ‘n Hele paar keer het die laaste aangee of oorgretigheid die span van punte beroof.
Die span van Kimberley se agterlyn het ook nie baie skoon balbesit in die eerste helfte geniet nie. In die tweede helfte was die besit ‘n tikkie skoner. Die plaasvervanger-skrumskakel, D Beukes, het kleinkantjie toe gebreek en sy eie steekskoppie opgevolg wat op die agtsteman, Stefan Swart, se drie uitgeloop het.
Dit was ‘n welverdiende drie vir Swart wat nooit bes in die stryd gegee het nie. Gouties se senter Dylan Smith kan ook meer as tevrede met sy vertoning voel.
In die “Boereoorlog” het Landboudal van Jacobsdal oor te veel skietgoed vir St Andrews van Bloemfontein beskik. Lanties het met 46-10 as oorwinnaars van die veld gestap.
Dit was ‘n uiters fisieke stryd waarin albei spanne nie vir ‘n oomblik terug gestaan het nie. Landboudal het vanwee sy swaarder agttal in die tweede helfte al hoe meer daarin geslaag om oor die voordeellyn te kom. Die wenspan kon teen rustyd slegs ‘n voorsprong van 17-10 opbou.
Saints moes sonder ‘n aantal spelers klaarkom wat nog die skool op die krieketveld moet verteenwoordig. St Andrews hoop om sy titel later vandeesmaand in Pretoria tydens die nasionale T20-toernooi te verdedig.
Landoudal se buitesenter, Elwid Kruger, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se sege behaal. Al Saints se punte is deur sy binnesenter, Josh McKenzie, aangeteken. As Landboudal ontevrede oor iets in die kragmeting sal wees, sal dit sy stelskopwerk pale toe wees. Die wenspan kon slegs daarin slaag om drie van sy agt drieë te verdoel.
Photo: Lorraine Eloff
Puntemakers:
Goudveld-Hoërskool 21 (14) – Drieë: Marco Weideman, Dylan Smith, Heinricht Cloete. Doelskoppe: JC Allan (2), Smith. Diamantveld 12 (0) – Drieë: Stefan Swart, Hugh Murray. Doelskop: Morné Matthewson.
Landboudal 46 (17) – Drieë: Elwid Kruger (3), Jan Hendrik Esterhuizen, Pieter Grobbelaar, Duan Slingerland, Hannes Marais en Pierre Malan. Doelskoppe: Pieter Grobbelaar (2), Damien Erasmus. St Andrews 10 (10) – Drie: Josh McKenzie. Doelskop: McKenzie. Strafdoel: McKenzie.
[powr-comments id=”167a0106_1551642914711″]




