Gimmies Shimla-kampioene, terwyl Diamonds Wesgrow-kroon dra
Hoewel die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga steeds die mees gesogte titel vir ‘n skolerugbyspan in die sentrale streek is, moet daar kommer oor die groot verskil die afgelope twee jaar tussen die voorste spanne in die streek was.
Welkom Gimnasium is gister vir die tweede keer sedert die ontstaan van die kompetisie as kampioen gekroon. Gimmies het Duineveld van Upington met 61-7 in die eindstryd op Shimlapark verniel Die span het in 2015 ook die kroon gedra.
Grey-kollege, wat nie vanjaar aan die reeks deelgeneem het nie, het vir Noord-Kaap verlede jaar in die eindstryd met 92-7 afgeslag.
Die Velties is vanjaar vir die eerste keer as kampioen van Griekwas gekroon. Gimmies se SA Skole-agtsteman, Keke Morabe, en die slot Husayn Banzi het na willekeur deur die verdediging met kragtige lopies gebars. Albei het elk twee van hul span se elf drieë afgerond. Banzi is vir sy skitterende spel as die Speler van die Wedstryd aangewys.
Die kampioen se kaptein en flank, Christo Steyn, asook die senter Keith van Aswegen was ook op hulle stukke.
Gimmies se een breier Jacques Juries spog nou al met vier titels in die Shimla-liga. Buiten Gimmies se titel van 2015 het hy ook die Harmony Sportakademie tot kampioene in 2007 en 2008 gebrei.
In die Irawa-liga het Bothaville vir De Aar met 31-12 die loef afgesteek. In die Colt-liga het Prieska die titel met ‘n gemaklike sege van 54-12 oor Hoopstad verower.
Diamantveld is na ‘n spannende eindstryd as die eerste kampioen van die Wesgrow-reeks gekroon. Diamonds het Goudveld met 29-26 op Fichardtpark se hoofveld in die Rosestad verslaan.
Dit was weereens die binnesenter, Handré Bruwer, wat met sy skopskoen sy span se groot held was. Bruwer het verlede met ‘n skepdoel in die laaste oomblikke teen Noord-Kaap in die halfeindronde ‘n sege van 6-5 vir sy span verseker.
Goudveld het in die doodsnikke ‘n geleentheid gehad om die sege te beklink. Die skeidsregter, Boela du Plessis, het ‘n strafdoel aan Goudveld met die telling op 26-elk reg voor die pale toegeken. ‘n Speler van Goudveld het iets aan Du Plessis gesê waarna hy die strafskop omgedraai het.
Bruwer het die strafskop tot op Gouties se kwartlyn uitgesool. Goudveld se Cravenweek-losskakel, Ruben Liebenberg, het ook toe iets vir Du Plessis te sê gehad en glo ook kontak met die skeidsregter gemaak. Liebenberg is sy tweede geelkaart van die wedstryd gewys.
Dié swak dissipline het sy span die wedstryd gekos. Bruwer het geen probleme ondervind om die strafdoel tussen deur die pale te jaag en sy span tot kampioene te lei nie.
In die uitspeelwedstryd om die derde en vierde posisie het Noord-Kaap in ‘n wipplankstryd vir Witteberg met 34-29 getroef.
Fichardtpark het die bordjies teen Jim Fouché met ‘n sege van 22-13 in die stryd om die houtlepel verhang. Dit was ook Fichies se eerste sege oor JF in nege jaar. JF het die kragmeting vroeër vanjaar tussen die twee spanne met 27-20 gewen.
Voortrekker van Bethlehem was naelskraaps met 19-17 oor Sentraal van Bloemfontein baas.
Wynberg Boys’ High het sy seisoen met ‘n oorwinning van 30-17 oor SACS afgesluit. Wynberg het daarmee die seisoen as die voorste van die skolespan in die suidelike voorstede van Kaapstad afgesluit.
Diocesan College oftewel Bishops en Rondebosch Boys’ High was in ‘n hewige tweestryd gewikkel. Na 70 minute se spel met die telbord op 10-elk was daar niks tussen die twee spanne te kies nie.
Hoërskool Tygerberg het vir ietwat van ‘n verrassing gesorg deur Brackenfell met 19-8 te klop.




