Gimmies se Kota is vuurwarm
Dit is duidelik dat die span wat vir Welkom-Gimnasium wil verhoed om sy titel as kampioen van die Griffon-liga te verdedig eers ‘n plan sal moet beraam hoe om sy gevaarlike heelagter, Andrew Kota, hok te slaan.
Kota was Saterdag teen HTS Welkom weer op sy stukke toe hy 27 punte in sy span se sege van 79-10 aangeteken het. Kota het ‘n driekuns aan drieë behaal en ook ses doelskoppe tussen deur die pale gejaag.
Gimmies is die enigste onoorwonne span in die Griffon-liga en het slegs een wedstryd oor in die liga voor die uitkloprondes. Dié wedstryd is volgende kwartaal teen sy aartsvyand, Goudveld-Hoërskool, in hulle jaarlikse FNB Classic Clash.
Voortrekker van Bethlehem het reeds Woensdag vir Wilgerivier van Frankfort met 41-10 kaf gedraf. Die Trekkers het in die tweede helfte ‘n insinking beleef na hulle reeds teen lemoentyd ‘n voorsprong van 34-5 geniet het.
Die Trekkers se buitesenter, Pieter van Zyl, het vier keer Wilgerivier se doellyn oorgesteek. Die span se breier Manie Havenga het boonop Sondag die Comrades-marathon voltooi.
Hentie Cilliers se vleuel Curtwelk Marks het ook vier drieë gedruk in sy span se oortuigende oorwinning van 62-0 oor HTS Sasolburg in Virginia. Henties het rustyd slegs ‘n voorsprong van 17-0 geniet voordat die span na ‘n hoër rat in die tweede helfte toe oorgeskakel het.
Buiten Marks het die flank Jaco Vermeulen en agtsteman, Taswin Kayster, puik vertonings opgedis.
Witteberg het Gouties met 57-31 in hulle ligawedstryd verslaan om sy posisie op die puntelys te verstewig. Die span van Bethlehem het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 31-12 geniet.
Puntemakers:
Welkom-Gimnasium 79 – Drieë: Andrew Kota (3), Jason Wagman (2), Ulrich Stander (2), Francois Maree, Keith van Aswegen, JW Viljoen, Georgen Kiewiet, Lerato Mohlabe. Doelskoppe: Kota (6). HTS Welkom 10.
Voortrekker 41 (34) – Drieë: Pieter van Zyl (4), MJ Rossouw, Vernon Botha. Doelskoppe: Louis Viljoen (4). Strafdoel: Viljoen. Wilgerivier 10 (5).
Hentie Cilliers 62 (17) – Drieë: Curtwelk Marks (4), Jaco Vermeulen (2), Sibabalwe Sooi, Dealine Jafta, CJ Sheppard, Lupho Ngxotheni. Doelskoppe: Heinke Meyer (4), Jafta (2). HTS Sasolburg 0.
Witteberg 57 (31) – Drieë: Daniel Jordaan (2), Craven van der Nest (2), ST Meiring, Werner van der Berg, Barend Jonker, Arno du Plessis, Louis Oosthuizen. Doelskoppe: George Spershott (7). Goudveld-Hoërskool 31 (12) – Drieë: Tiaan Bakkes, Wernail Dicks, Zane Vorster, Francois van Zyl, Derick Prinsloo. Doelskoppe: Vorster (2), Lorenzo Cloete.




