Garsies verbreek wendroogte teen Monnas, Ermelo kampioen van Pumas

PRETORIA. – Dit is duidelijk dat die span wat vanjaar as kampioen van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling gekroon wil word eers die Bere van die Hoërskool Garsfontein sal moet omdop.
Die Bere het Saterdag in ’n herontmoeting van verleden jaar se eindstryd teen die Hoërskool Monument met 39-31 as oorwinnaars vanaf Bere-park in die Jakarandastad gestap.
Dit was die Garsies se eerste sege oor Monnas sedert 2018. Monnas het verlede jaar die kroon as kampioen gedra toe hy die Bere met 30-28 in die eindstryd verslaan het.
Die Bere was grootliks in beheer met veral sy binnesenter, Heinrich Cloete, wat ’n uitmuntende dag op kantoor beleef het. Daar is waarskynlik niemand wat meer duikslae as hy uitgevoer het nie, terwyl hy ook ’n hele paar keer op die aanval sy span op die voorvoet geplaas het.
Voorlangs was die haker, De Wet Lottering, uitstaande. Hy het in die losgemale asook in die vastelos behoorlik ingeklim. Hy is goed ondersteun deur DA Swart (loskopstut) asook die kaptein en agtsteman, Abri van der Westhuizen.
Garsfontein is saam met EG Jansen van Boksburg se enigste twee onoorwonne spanne oor in vanjaar se reeks.
Die Jansies het nie te veel probleme op sy tuisveld ondervind om vir Menlopark met 74-7 af te ransel nie. Die span van Boksburg het 12 drieë ingeryg met die flank Zaide-Leigh Rippenaar wat ’n driekuns aan drieë behaal het.
Die span se heelagter, David Twala, was ook weer op sy stukke. Hy het 22 van sy span se punten aangetekend deur twee keer ’n draai agter die doellyn te maak asook ses van sy span se drieë te verdoel.
Die Jansies se ander flank, Reon Pretorius, was egter sy span se uitstaande speler. Saam met die agtsteman, Nathan Matthee, en Rippenaar het hulle die wenspan se aanslag gelei.
Waterkloof het sy kanse om tot die uitspeelrondes van die reeks deur te dring ’n stewige hupstoot gegee toe hy vir Helpmekaar-kollege met 30-27 in die Goudstad verslaan het.
Die span se losskakel, Franco Cronje, was op sy stukke en het die aanvoorwerk vir een van die regtervleuel, Waldemar Griesel, se twee drieë gedoen. Buiten die twee was die kaptein en agtsteman, Dale Arlow, asook die flank, Jean Jooste, se bydraes tot die sege ook beduidend.
Die Hoërskool Ermelo het sy titel as kampioen van die Puma-liga in Groep 2 behou deur vir Rob Ferreira met 20-17 in ’n spannende eindstryd te verslaan.
In Groep 2 kan daar weer vanjaar ook ’n sterk aanslag vanuit Limpopo verwag word. Frikkie Meyer het Ellisras in ’n strawwe tweestryd met 19-17 verslaan. Die twee behoort ook die unie se verteenwoordigers in die Noordvaal-uitspeler te wees.
Die verdedigende kampioen van Groep 2, Midstream College, het egter sover alle teenstand voor hom in die Blou Bulle se liga gevee. Hy het Saterdag vir Wonderboom met 68-0 afgestof.
Paarl Gimnasium het nie veel probleme ondervind om Oakdale Landbou op sy tuisveld in die Paarl met 36-12 te verslaan nie.
Die Westelike Provinsie se keurders kon nou wel net vir twee van Gimmies se spelers, Kyle Smith (losskakel) en Danio Botha (slot), plek in hul span vir die Cravenweek kry, maar die Gimmies tel vanjaar onder die voorste drie skolespanne in Suid-Afrika.
Smith en Botha was ook verlede jaar in die Streeptruie se span wat as nie-amptelike kampioen van die Cravenweek gekroon is.
In die Skild-afdeling van die Noordvaal-reeks het Oos-Moot met ’n sege van 39-21 oor Hugenote van Springs dit duidelik gemaak dat hul vanjaar sterk aanspraakmakers op die titel is.
Secunda het op sy beurt vir Ligbron Akademie van Ermelo met 43-14 geklop, terwyl Heidelberg Volkskool met 46-38 oor Ben Vorster in ’n opwindende wedstryd koning gekraai het.
Al die uitslae:
SDC NOORDVAAL CUP
Groep 1
Beker: Garsfontein 39, Monument 31; Waterkloof 30, Helpmekaar 27; EG Jansen 74, Menlopark 7. Skild: Oos-Moot 39, Hugenote (Springs) 21; Secunda 43, Ligbron Akademie 14; Heidelberg Volkskool 46, Ben Vorster 38. Bowl: Die Anker 32, Hoërskool Pietersburg 10; Eldoraigne 52, Potchefstroom Volkskool 15.
Groep 2
Blou Bulle: Midstream College 68, Wonderboom 0; HTS John Vorster 26, Pretoria-Noord 14. Goue Leeus: Dinamika 34, Florida 15. Limpopo: Frikkie Meyer 19, Ellisras 17; HTS Tom Naude 49, Hans Strijdom 5. Puma-eindstryd: Ermelo 20, Rob Ferreira 17. Valke: Hans Moore 57, Driehoek 0; Brandwag (Benoni) 19, Oosterlig 13; Leeuwenhof 62, Hoerskool Sasolburg 8.
Groep 3
Goue Leeus: Allen Glen 73, President 0; Bekker 19, Carletonville 15; Glenharvie 31, Alberton High 5. Luiperds: Wolmaransstad 34, Hartbeespoort 12. Pumas: Curro Nelspruit 31, Standerton 0; Lydenburg 38, Volksrust 24.
Groep 5
Luiperds-eindstryd: Koster 40, Schweizer-Reineke 19.
KWAZULU-NATAL
Maritzburg College 36, Northwood 14; Michaelhouse 36, Westville Boys’ High 22; Glenwood 37, St Charles College 31; Hilton College 28, Kearsney College 12.
NOORDVAAL
Pretoria Boys’ High 39, St John’s College 5; St Benedict’s College 17, St David’s Marist 13; Centurion 33, Wagpos 7; Potchefstroom Gimnasium 14, Randburg 11; St Alban’s College 36, St Stithians College 14.
OOS-KAAP
Dale College 24, Graeme College 20; Hudson Park 33, Stirling 10; St Andrew’s College 13, Queen’s College 11; Selborne College 70, Cambridge 12.
WES-KAAP
Paarl Gimnasium 36, Oakdale Landau 12; Bishops 13, Rondebosch Boys’ High 8; Wynberg Boys’ High 30, SACS 17; Bosmansdam 43, Fairmont 17.
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30