SuperSport Schools Plus

Garsies en Eldos bult spiere in Bulle Makroskole-liga

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-05-28

31392 VS SCHOOL OF RUGBY HEADER v1

NewsGWesleyThompsonDie Hoërskool Garsfontein se eersterugbyspan het Saterdag ‘n duidelike waarskuwing aan die ander spanne in die Virsekerbeker vir Makroskole gegee dat hy nie sommer net van sy titel as kampioen afstand sal doen nie. Die Garsie Bere het sy grootste sege nog oor Menlopark (66-21) op laasgenoemde se tuisveld behaal.

Menlopark het met ‘n reuse aanslag begin en na 20 minute se spel was daar slegs een span en Garsies se buitesenter, Diego Appollis, op die veld. Die tuisspan se voorspelers met sy agtsteman, Divan Venter, aan die spits het Garsfontein voorlangs gekarnuffel.

Venter het twee van sy kraglopies afgerond om sy span ‘n voorsprong van 14-7 te gee. Garsies se Keagan Johannes het deurgedraf na Appollis ‘n gaping in Menlopark se verdediging gevind het en ‘n uitstekende aangee in die duikslag na Johannes weggekry. 

Garsfontein het teen rustyd met 24-14 voorgeloop na Appollis met nog ‘n breekslag asook sy vermoe om die aangee in die duikslag weg te kry in ‘n drie vir die flank Ruben Roodt uitgeloop het. Garsies se binnesenter, Wesley Thompson, was boonop toe in die koelkas. 

Die skeidsregter, Paul Mente, het dalk vir Garsies ‘n guns bewys deur Thompson vir ongeoorloofde spel koelkas toe te stuur. Thompson het met nuwe vuur die spel na sy geelkaart betree en so bietjie tong vir die Blou Bulle se keurder uitgesteek. Thompson het ‘n nuwe rekord van 34 punte vir die Garsie Bere in ‘n wedstryd aangeteken. Die vorige rekord is in 2012 deur Irvin Domingo met sy 28 punte teen HTS Witbank opgestel. 

Thompson het ‘n driekuns aan drieë behaal, agt van sy span se driee verdoel en ook ‘n strafdoel oorgeklits. Thompson sit tans op die bank vir die Blou Bulle se Akademie-span. Hy het Saterdag egter gewys dat daar waarskynlik nie ‘n beter binnesenter in Ligblou-kontrei vanjaar op skolevlak is nie. Hy is moeilik grond toe gebring en het ook met sy balverspreiding en aanvoeling vir die spel beindruk. 

Appollis, wat die Blou Bulle se Cravenweek-span as heelagter gehaal het, was net so uitstaande. Garsies se heelagter, Juandre Scheepers, asook die skakelpaar, Keagan Johannes en Campwill Willemse, het goeie wedstryde beleef. Garsies se flank Ruben Roodt het ook die veld vol gespeel. Menlopark se agtsteman Venter het ondanks die loesing ‘n driekuns aan driee voltooi. 

Eldoraigne het so klein bietjie genade vir HTS John Vorster in sy weghol-oorwinning van 93-0 betoon. Eldos het teen rustyd reeds ‘n meer as gerieflike voorsprong van 50-0 geniet. Die wedstryd is met ongeveer 14 minute se speeltyd oor gestaak. Sy heelagter, Marvin Petersen, het drie van sy 13 drieë afgerond.

Centurion stoom ook steeds voort in die B-afdeling van die Blou Bulle se Makroskole-liga. Die Woeries het Zwartkop met 30-5 kaf gedraf. Montana het ‘n blink sege van 30-22 oor Wonderboom behaal. 

Hoewel nie ‘n wedstryd in die Virsekerbeker nie, kan daar heelwat in Helpmekaar-kollege se oortuigende sege van 45-8 oor die Hoërskool Waterkloof gelees word. Helpies sal nie gestuit word in vanjaar se Virsekerbeker vir Grootskole indien hulle op alle silinders vuur soos Saterdag nie. Helpies het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 26-3 opgebou. 

Helpmekaar is die verdedigende kampioen van die afdeling, maar het soos verlede jaar al ‘n hele paar Makroskole in die stof laat byt. Dit was veral die heelagter, David Cary, wat vir Klofies probleme besorg het. Hy het twee keer self ‘n draai agter die doellyn gaan maak en ‘n hand in elk van sy span se sewe drieë gehad. Dit was Cary se beste vertoning nog vir Helpmekaar se eerstespan. 

Die kaptein en flank, Mark Snyman, was ook soos gewoontlik op sy stukke. Hy het self twee keer die doellyn oorgesteek. 

Monument van Krugersdorp het King Edward VII se onoorwonne status tot ‘n einde gebring met ‘n oorwinning van 24-19 in Johannesburg. Monnas het die sege danksy uitmuntende verdediging deur veral sy flank, Franco Schutte, behaal. Die twee senters, Luke Rossouw en Juandre Breytenbach, se lakwerk was self van hoogstaande gehalte. 

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het nie veel probleme ondervind om Jeppe High School for Boys’ met 52-22 kaf te draf nie. Affies se agtsteman, Phillip Potgieter, was op sy stukke en het vier keer die doellyn oorgesteek. Pretoria Boys’ High het Parktown Boys’ High met 21-14 verslaan, terwyl St Alban’s College met 41-13 oor St Charles College van Pietermaritzburg baas was. 

Puntemakers en Uitslae: 

BLOU BULLE

Garsfontein 66 (24) – Drieë: Wesley Thompson (3), Keagan Johannes, Jordan van Dyk, Campwill Willemse, Ruben Roodt, Stephan Billings, Kallie Calitz. Doelskoppe: Thompson (8). Strafdoel: Thompson. Menlopark 21 (14) – Drieë: Divan Venter (3). Strafdoele: Bernard van der Linde (3).

Eldoraigne 93 (50) – Drieë: Marvin Petersen (3), Marcell Venter (2), Stefan Fourie, Dylan Lawless, Riaan Burger, Shane Bolton, Franco van Wyk, Charl Basson. Doelskoppe: Burger (7), Venter (2). HTS John Vorster 0.

Montana 30 – Drieë: Thys Loubser, Stefan Botes, Niel Steenberg, Dreyer van der Berg. Doelskoppe: Jarod Crafford (2). Strafdoele: Crafford (2). Wonderboom 22 – Drieë: Erastus Klaassen (2), Andre Nolte, Jacques van der Merwe. Doelskop: Van der Merwe.

Centurion 30 – Drieë: Eathan Wentzel, Christiaan Booysen, Bronwyn Arries, Lian Botha, Pierre van Dyk. Doelskop: Wentzel. Strafdoel: Wentzel. Zwartkop 5 – Drie: 

Ander spanne:

o.16: Menlopark 36, Garsfontein 22; Eldoraigne 17, HTS John Vorster 7; Montana 69, Wonderboom 0; Centurion 23, Zwartkop 23.

o.15: Menlopark 20, Garsfontein 12; Eldoraigne 38, HTS John Vorster 7; Montana 50, Wonderboom 5; Zwartkop 24, Centurion 7.

o.14: Menlopark 71, Garsfontein 12; Eldoraigne 26, HTS John Vorster 17; Montana 34, Wonderboom 0; Zwartkop 29, Centurion 14.

VRIENDSKAPLIK

Helpmekaar 45 (26) – Drieë: David Cary (2), Mark Snyman (2), Zack Boonzaaier (2), Frederick van Deventer. Doelskoppe: Tristan Oosthuizen (5). Waterkloof 8 (3) – Drie: PJ Krugell. Strafdoel: Ulrich Maritz.

Monument 24 (17) – Drieë: Morne Brandon (2), Franco Schutte, Stephan le Roux. Doelskoppe: Jonathan Viljoen (2). King Edward VII 19 (6).

Affies 52, Jeppe High School for Boys’ 22.

Ander spanne:

Eerstespanne: St Alban’s College 41, St Charles College 13; Pretoria Boys’ High 21, Parktown Boys’ High 14; Kearsney College 41, St Stithians College 18.

o.16: Affies 37, Jeppe 17; Monument 31, King Edward VII 19; Waterkloof 22, Helpmekaar 17.

o.15: Affies 29, Jeppe 17; Monument 19, King Edward VII 10; Helpmekaar 35, Waterkloof 16..

o.14: Affies 39, Jeppe 0; Monument 33, King Edward VII 0; Helpmekaar 24, Waterkloof 8.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.