Gabby Smith: Die stem van haar pa, die hart van haar span
Van die eerste oomblik dat sy haar voetjies op ’n netbalbaan geplant het as ’n glimlaggende graadeentjie, het Gabby Smith geweet dat sy ’n tweede tuiste gevind het.
Vir baie mense is sport ’n stokperdjie; vir Gabby was dit ’n anker – ’n plek waar sy nie net kon speel nie, maar kon lééf. Sy vertel met ’n sagte nostalgie hoe sy nooit weer van die baan af kon wegstap nie, omdat iets in daardie eerste wedstryd haar hart vasgegryp en nooit weer losgelaat het nie.
Deesdae is sy een van Hoërskool Menlopark se spogspelers, bekend vir haar presisie, haar koelkop-doele en haar natuurlike leierskap in die sirkel. Vir Gabby gaan haar posisie as doel egter nie slegs oor doele aanteken nie – dit het te doen met konneksie, met vertroue, met iemand wat jou onvoorwaardelik bystaan wanneer die druk jou asem wil wegslaan.
“Die spesiaalste is die konneksie met my hulpdoel,” sê sy. “Om te weet ek is daar vir haar, en sy vir my. Dit is iets wat min mense in hul lewe het – iemand wat jou waarlik onderskraag, wanneer jy op jou swakste is, en jou dra.”
Gabby het al oomblikke in die spel, wat ander spelers vreesbevange sou gelaat het, met ’n stille vasberadenheid aangegryp. Soos in die Fast 5-eindstryd, wat sy as een van haar trotste oomblikke beskou.
Die opposisie het voorgeloop en, met skaars 15 sekondes speeltyd oor, moes sy ’n haas onmoontlike driepuntdoel skiet. Met die wêreld se lawaai wat stil geword het in haar ore, het sy die doel geneem – en geseëvier. Dit is Gabby Smith: kalm in onsekerheid, vasberade wanneer ander twyfel.
Selfs die dapperstes onder ons word egter soms deur die lewe gekniehalter. Vroeër vanjaar was Gabby se wêreld op sy kop gekeer toe sy haar pa verloor het.
Haar pa was nie net haar grootste ondersteuner nie, hy was die stem langs die baan wat harder as enige toeskouer bemoedig het, wat elke wedstryd, elke oefensessie, elke droom met haar gedeel het.
“Almal kon sy stem hoor – nie net ek nie,” onthou sy.
Om sonder hom langs die kantlyn te speel was, en is, steeds een van die moeilikste dinge wat sy moes leer doen. Sy het egter nie die rou en die pyn alleen gedra nie.
Haar spanmaats, wat sy as haar beste vriendinne beskryf, het elke tree saam met haar gestap — van die kerkbank met sy begrafnis tot langs die baan wanneer die herinneringe te erg raak.
“Ek weet nie hoe ek dit sonder hulle sou gemaak het nie,” sê sy met ’n kraak in haar stem, maar tóg met ’n glimlag van dankbaarheid.
En, haar pa se stem is nie stil. Voor elke wedstryd buig sy haar kop in ’n stille geselsie met hom. Dan raak sy haar skoen aan – die een waarop sy sy naam geskryf het — en sy weet: “Hy skree nog steeds vir my, net nou van bo af.”
Vir Gabby is netbal ’n erfenis én ’n belofte. Sy dra haar pa se trots met elke gooi, elke doel en elke sweetdruppel op die baan. Haar droom is eenvoudig maar hemelhoog: om eendag vir Suid-Afrika te verteenwoordig, die Protea op haar bors te dra en te wys dat niks haar kan verhoed om te bereik waarvoor sy bestem is nie.
“Ek wil hom trots maak en vir hom wys ek het dit gemaak,” sê sy, vasberade en met ’n vonkel in die oog wat geen traan ooit kan blus nie.
Haar boodskap aan ander jong spelers: “Die lewe kan jou rondruk en in moeilike situasies plaas, maar hoe jy opstaan en daardeur werk, dit is wat regtig saak maak. Moet nooit moed verloor of opgee omdat dit makliker lyk nie – druk deur, want die Here weet presies waartoe jy in staat is.”
Wanneer ’n mens Gabby Smith op die baan sien, sien jy nie net ’n doel nie – jy sien ’n dogter wat nog steeds haar pa se stem hoor, ’n spanmaat wat ander dra soos sy gedra is, en ’n toekomstige Protea wat elke doel skiet met die vlam van herinnering en hoop in haar hart.
- Karakter, groei dra Klofies deur uitdagende seisoen - 2025-10-28
- Toekoms lyk rooskleurig vir Rand Park na deurbraakseisoen - 2025-10-27
- Middies sluit 2025 op ’n hoë noot af - 2025-10-22





