SuperSport Schools Plus

Fichies slaan Rooies blouoog op jaarlikse sportdag in Rosestad

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-03-03

NewsGJancovanZylDit is nie aldag dat ‘n vaskopstut drie keer in ‘n wedstryd ‘n draai agter die doellyn maak nie. Die Hoërskool Fichardtpark se woelige voorryman, Janco van Zyl, het egter daarin geslaag om reeds in die eerste helfte van sy span se sege van 36-12 oor die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad ‘n driekuns agter sy naam te skryf. 

Fichies het vir die tweede jaar in ‘n ry daarin geslaag om Rooiskool in die hoofwedstryd van sy jaarlikse McDonalds Sportdag in Bloemfontein met die kous oor die kop huis toe te stuur. Dit was ook die span van die Rosestad se grootste sege ooit oor die Rooiskool. 

Hoewel Fichardtpark se breier Dirkie Groenewald steeds diep in volgende week ‘n breë glimlag vanwee die sege behoort te dra sal hy wel nie heeltemal tevrede met sy span se insinking in die tweede helfte wees nie. Fichies het rustyd reeds ‘n voorsprong van 36-0 geniet. Die feit dat die gasheer nie ‘n enkele punt in die tweede helfte kon aanteken nie neem egter niks van dié sege weg nie. 

Rooiskool se breiers, Morné Kymdell en Francois Stemmet, moes rustyd hard met hul span gepraat het. Die span van Kroonstad het waarskynlik een van sy swakste vertonings ooit in die geskiedenis van die skool in die eerste helfte gelewer. Die span het egter die tweede helfte met meer durf aangepak om bietjie aansien te herwin. 

Veral die Rooies se slot Jamie van Wyk en flank Franna van Niekerk het in die tweede helfte hul lywe op die spel geplaas om te sorg dat die agterhoede meer balbesit op die voorvoet geniet. 

Fichies se buitesenter, Reagan Maartens, het amper na willekeur gapings in Rooiskool se verdediging gevind. Hy het die besoekers se verdediging hoofbrekens besorg. Die losskakel, Davin Groenewald, kan ook tevrede met sy vertoning voel. Hy het sy agterlyn seepglad weggesit en spel goed dikteer. 

Voorlangs het behalwe Van Zyl met sy inklimspel in die vastelos ook die flank Jeff Parota en slot JJ Coetzer goed vertoon. NewsGFichardtpark

Wilgerivier van Frankfort se agtsteman, MT Steyn, was sy span se groot uitblinker is sy oorwinning van 26-14 oor Sand du Plessis.

Die Wilgies het rustyd ‘n voorsprong van 14-0 geniet na Steyn twee keer oor die doellyn gebars het. En ja Steyn is ‘n nasaat van die Vrystaat se eerste president, MT Steyn. 

Sannies het goeie veggees getoon en amper vroeg in die tweede helfte terug geslaan toe sy buitesenter, Giovanni Prins, deurgedraf het. Daar is egter voor hy die doellyn oorkruis het uitgetrap.

Die plaasvervanger-skrumskakel, Shane Nienaber, het kort daarna wel daarin geslaag om sy span se rekening te open. 

Puntemakers: 

Fichardtpark 36 (36) – Drieë: Janco van Zyl (3), Lowhann van Wyk, Davin Groenewald, JT van der Walt. Doelskoppe: Groenewald (3). AHS Kroonstad 12 (0) – Drieë: Zander Pelser, Hendro Hattingh. Doelskop: Zander Smith. 

Wilgerivier 26 (14) – Drieë: MT Steyn (2), Edward van Blerk, AJ Mostert. Doelskoppe: JP Meyer (3). Sand du Plessis 14 (0) – Drieë: Shane Nienaber, Nathan Labuschagne. Doelskoppe: Tommie Bloem (2). 

Photos: Kulu Ferreira

[powr-comments id=”33a6e81c_1551637656207″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.