Fichies hou vas vir sege oor Sentraal
Fichardtpark het Saterdag op sy tuisveld in Bloemfontein ’n sege van 13-11 teen Sentraal deurgetrek. Tralies het in die laaste paar minute van die wedstryd met twee strafdoel pogings pale misluk wat aan hulle die sege sou besorg.
Sentraal se heelagter, Jaden Seekoei, het die eerste poging skeef getrek, terwyl die laaste strafdoel deur hom in die doodsnikke van die wedstryd die regoppaal getref het.
Fichies se vaskopstut, Wandré Nortjé, was met sy stormramlopies ’n groot doring in Sentraal se vlees. Hy is vir sy goeie spel met ’n drie beloon. Buiten Nortjé verdien die losskakel, Jevan Botes, ook vermelding vir sy goeie besluitneming en vir die gladde manier waarop hy die agterlyn weggestuur het.
Sentraal het glad nie al hul kanse benut nie, terwyl Fichies die geleenthede wat na sy kant toe gekom gebruik het. Tralies se kantman, Gerhardt Roodt, het in die los gewoel en hy was ook in die lynstane vir sy span goud werd.
Grey-kollege het Louis Botha met 50-0 met nog 16 minute oor in die wedstryd verslaan. Die span se blitsige vleuel, Janco van Heyningen, het drie keer Louis Botha se doellyn oorgesteek.
Grey se naasbestes, die Cherries, het ook nie veel genade vir Jim Fouché in sy oortuigende oorwinning van 62-17 beloon nie. Albei die wedstryde is ’n duidelike aanduiding dat Grey vanjaar weer een van die groottes in Suid-Afrikaanse skolerugby is.
Die verdedigende kampioen van die Vrystaatse B-liga, St. Andrew, het twee gemaklike seges oor Sehunelo (54-12) en Tsosoletso (52-0) verlede week behaal. Saints se stut, Melgardt Minnaar, het Saterdag teen Sehunelo uitgeblink.
Hy het vier keer oor die doellyn gebars. Die losskakel, Michael Maree, het ook goed teen Sehunelo vertoon.
Die Steyners het ’n broodnodige sege van 27-21 oor Sand du Plessis behaal. Sannies het met lemoentyd met 11-8 voorgeloop. Brandfort het Hendrik Potgieter van Reddersburg met 33-19 geklop.
Puntemakers:
Fichardtpark 13 (0) – Drie: Wandré Nortjé. Doelskop: Jevan Botes. Strafdoele: Botes (2). Sentraal 11 (8) – Drie: Thato Mei. Strafdoele: Jaden Seekoei (2).
Grey-kollege 50 – Drieë: Janco van Heyningen (3), Jandré de Beer, Henk Cilliers, Marnus Boshoff, Rikus Pretorius, Dian Schoonees. Doelskoppe: Christopher Schreuder (5). Louis Botha 0.
President Steyn 27 (8) – Drieë: Phillip Jackson (2), Henrico Purchase, Johnny Khumisi. Doelskoppe: Gailin Neels (2). Strafdoel: Neels. Sand du Plessis 21 (11) – Drieë: André van der Berg, Waldrick le Roux. Doelskop: William Bloem. Strafdoele: Bloem (2). Skepdoel: Bloem.
Brandfort 33 () – Drieë: Christiaan Botha (2), Kamo Tlale, Franco Marks, Heinrich Maree. Doelskoppe: Francois Fourie (4). Hendrik Potgieter (Reddersburg) 19 () – Drieë: Ruan Cloete, Boeta Godbeer, Romaria Rall. Doelskoppe: Juandré Rautenbach (3).




