SuperSport Schools News

Fichardtpark se sportdag ‘n spesiale dag vir baie spelers in streek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-03-04

NuusGFichiesSportdagDie jaarlikse Fichardtpark sportdag het oor die 15 jaar wat hy bestaan ’n spesiale plek in ’n groot aantal skolerugbyspelers se harte ingeneem.

Omdat dié sportdag oor die 15 jaar meestal verskeie van die sentrale streek se spanne se eerste wedstryde tydens hul seisoen was, het baie spelers hul eerste wedstryde vir hul onderskeie skole se eerstespanne op die jaarlikse dag beleef.

Die gasheer sal vanjaar in die hoofwedstryd in sy eerste kragmeting van die seisoen teen Landboudal van Jacobsdal uitdraf. Die spelers van Fichies sal uitgehonger vir die kragmeting wees na hulle verlede Vrydag moes aanhoor dat hul weens ’n misverstand nie op Brandfort se sportdag sou speel nie.

Landboudal het verlede week met 17-31 teen Goudveld-Hoërskool vasgeval. Fichies het verlede jaar met 24-elk gelykop in die hoofwedstryd teen Hentie Cilliers van Virginia gespeel.

In die vernaamste voorwedstryd vir die hoofgereg het Sentraal ‘n appeltjie met Marlow Landbou van net buite Cradock te skil. Die laaste keer wat die twee spanne mekaar in Bloemfontein ontmoet het was in 2008 op die Hoërskool President Steyn se sportdag op ‘n dag wat die Bloktruie liefs wil vergeet.

Marlow Landbou het op daardie dag met sy losskakel, Gouws Prinsloo, aan die spits vir Sentraal ‘n loesing van 94-14 toegedien. Prinsloo, wat deesdae heelagter vir Griekwas se seniorspan speel, het 37 van sy span se punte via ‘n driekuns aan drieë en 12 doelskoppe aangeteken.

Die twee spanne het mekaar ook verlede jaar op die Hoërskool Oudtshoorn se TopSkole-toernooi die stryd aangese. Hier was Marlow Landbou met 14-12 baas.

Een van die hoogtepunte van die sportdag behoort die kragmeting teen die Griffon-kampioen, Welkom-Gimnasium, en die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley te wees. Gimmies het Donderdag in die hoofwedstryd van die Blou Bulle se Prestige-aand vir Waterkloof van Pretoria met vyf drieë teenoor drie verslaan.

Noord-Kaap het in sy geledere een van die voorste driedrukkers op skolevlak verlede jaar in Suid-Afrika in die haastige Cameron Hufke.

Die kragmeting tussen Diamantveld en Goudveld beloof ook om ’n riller te wees. Diamonds was ook Donderdag op Loftus Versfeld in aksie teen Monument van Krugersdorp wat vanjaar onder die voorste vyf spanne in die land behoort te tel.

Die wedstryd tussen Diamonds en Monnas het met twee drieë elk gelykop geëindig.

Gouties het op hul beurt op Brandfort se sportdag teen Landboudal gewys dat hulle vanjaar een van die kragte in die Noord-Vrystaat gaan wees.

Nie minder as 34 eerste rugbyspanne is vandag op die grootste sportdag in Suid-Afrika in aksie nie.

Vandag se bepalings is:

A-veld – 08:00: Hentie Cilliers t. Kalahari (Kuruman); 09:10: Diamantveld t. Goudveld-Hoërskool; 10:20: AHS Kroonstad t. Hoërskool Upington; 11:30: Welkom Gimnasium t. Noord-Kaap; 12:40: Louis Botha t. Witteberg; 13:50: Jim Fouché t. Duineveld; 15:00: Sentraal t. Marlow Landbou; 16:10: Fichardtpark t. Landboudal.

B-veld – 08:00: Koffiefontein t. Martin Oosthuizen; 09:10: Ficksburg t. Hoopstad; 10:20: Hoërskool Middelburg (Oos-Kaap) t. Hopetown; 11:30: Aliwal-Noord t. Hendrik Potgieter (Reddersburg); 12:40: Burgersdorp t. Hennenman; 13:50: Hangklip t. President Steyn; 15:00: Zastron t. De Aar; 16:10: Sand du Plessis t. HTS Welkom.
Martie du Plessis A-veld – 16:10: Brandfort t. Riebeeckstad.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.