Fichardtpark baljaar op 15de Clover Sportdag
Die Hoërskool Fichardtpark se eerste rugbyspan het behoorlik baljaar in die hoofwedstryd van die skool se 15de jaarlikse sportdag hier. Fichies het redelik maklik met 46-7 teen Landboudal van Jacobsdal koning gekraai.
Niemand sou vooraf waag met ’n voorspelling dat die span van die Rosestad so maklik sou wen nie, maar dit is duidelik dat Lanties oor ’n jong span beskik wat weer oor ’n jaar of twee behoorlik sy stem dik sal kan maak.
Fichies se groot held in die sege was sy skrumskakel, Kyle du Bruyn, wat met skerp breekslae vir die besoekers probleme om die skrums en losskrums besorg het. Daar was ook niks fout te vind met sy diens agter die oond nie. Die skuif wat Lohan Zeelie van binnesenter na agtsteman gemaak het, blyk ook ’n sukses te wees.
Sy sentermaat van verlede jaar, Myburgh van Zyl, was ook weer gevaarlik met die bal in die hand. Fichies se heelagter, Ashwell Botha, het ook welverdiend teen die einde gaan druk.
Lanties se agtsteman, Rikus Jonck, was sy beste speler op die dag. Terwyl die binnesenter, Tiaan van Wyk, vroeg in die wedstryd met twee mislukte strafdoele van albei meer as 50 meter gewys het dat hy indien sy korrel die dag in is, hy span skade met sy skopskoen kan berokken.
Louis Botha het met sy oorwinning van 55-0 oor Witteberg van Bethlehem gewys dat daar nie te veel in sy nederlaag van 8-23 in sy eerste wedstryd van die seisoen teen Welkom Gimnasium gelees moet word nie.
Louis Botha het die wedstryd oorheers en te veel vrae aan Witteberg se verdediging gevra. Veral die twee kantmanne, Siyabonga Luwaca en Jabulani Mtshatsheni, het die veld vol gespeel. Die heelagter, Rethabile Mzamo, was ook puik vir die wenspan. Vir Witteberg kan die loskopstut, JW Meades, sy kop omhoog hou.
Die Hoërskool Upington en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad se wedstryd was soos altyd tussen die twee spanne ’n taai afferre. Uppies het 20-13 as oorwinnaars uit die stryd getree, maar het meeste van die spel in die eerste helfte oorheers.
Hoewel Rooiskool se breier, Jerry Erasmus, ietwat bekommerd oor die seisoen sal wees, is daar genoeg positiewe punte om uit die tweede helfte van die kragmeting te neem. Veral die losskakel, Marinus Aucamp, het gewys dat hy ’n akkurate stelskopper is en het boonop ook sy agterlyn aan die gang gekry.
Vir Uppies was sy slot en kaptein, Ettienne Noeth, voorlangs ’n strydos. Hoewel die binnesenter, Devan Walters, ’n paar duikslae in die eerste helfte gemis het, het hy ook sy span ’n hele paar keer oor die voordeellyn gekry.
Die Kalahari Leeus het danksy ’n goeie eerste helfte vir Hentie Cilliers van Virginia met 23-5 verslaan. Die span van Kuruman was teen rustyd reeds met die telling op 20-0 stewig in die saal. Soos die vorige week het die vaskopstut, Heinrich Fourie, en haker, Gerhard Gregory, met hul spel beïdruk.
Dit is egter die spel van die heelagter, Mpho Molaolwa, was die meeste erkenning verdien.
President Steyn het sy rieme met 14-54 teen Hangklip van Queenstown styfgeloop. Die Steyners se eerste linie van verdediging het hom tydens die wedstryd in die steek gelaat. Koffiefontein het ’n Fichardtpark XV-tal met 26-17 geklop na Martin Oosthuizen van Kakamas Donderdag voor die sportdag onttrek het.
Puntemakers:
Fichardtpark 46 (22): Drieë: Kyle du Bruyn (2), Lohan Zeelie, Wejaen Viljoen, Myburgh van Zyl, Ashwell Botha, Jevaun Botes. Doelskoppe: Botes (4). Strafdoel: Botes. Landboudal 7 (7): Drie: Tiaan van Wyk. Doelskop: Jac Lambrechts.
Louis Botha 55 (19): Drieë: Siyabonga Luwaca (2), Rallston Dreyer (2), Keaton Swarts, Rethabile Mzamo, Martin Lottering, Gela Kanya, Jabulani Mtshatsheni. Doelskoppe: Mzamo (4), Swarts. Witteberg 0.
Hoërskool Upington 20 (15): Drieë: Byron Coetzee, Johannes Terblanche, Ettienne Noeth. Doelskop: Ivan Lombaard. Strafdoel: Lombaard. AHS Kroonstad 13 (0): Drie: Wayne Engelbrecht. Doelskop: Marinus Aucamp. Strafdoele: Aucamp (2).
Hoërskool Kalahari (Kuruman) 23 (20): Drieë: Erik Kies, Mpho Molaolwa, Pierre van der Walt. Doelskop: Johnny Hollenbach. Strafdoele: Hollenbach (2). Hentie Cilliers 5 (0): Drie: Winrich Kennedy.
President Steyn 14: Drieë: Luandré Nel, Janco Nel. Doelskoppe: Niel Smith (2). Hangklip 54.
Koffiefontein 26: Drieë: Lerico Seeco (2), Delano Marais, Patwill Pondemali. Doelskoppe: Austin Meintjies, Gabriel le Roux, Demaine Teise. Fichardtpark III 17.
Riebeeckstad 5: Drie: Nathan Fourie. Brandfort 30.
Hennenman 3 (0): Strafdoel: Albie Venter. Burgersdorp 29 (19).




