SuperSport Schools News

Eerste ronde van Virsekerbeker Makroskole straks in hof beslis

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-06-08

VirsekerBekerlogoDie eertste ronde van vanjaar se Virsekerbeker vir Makroskole sal straks in die hooggeregshof in Pretoria beslis word. 

Die Hoërskool Waterkloof het teruggeslaan in die storm wat woed oor sy verdere deelname aan vanjaar se Virsekerbeker. Klofies het deur hul prokureurs, J.W. Botes Ingelyf, op hul beurt ‘n ultimatum aan die Blou Bulle se Hoërskole-rugbyvereniging (BBHRV) gestel om vandag “voor of op die sluit van besigheid” die besluit terug te trek om Waterkloof se verdere deelname aan die reeks op te skort indien hy nie voor 30 Junie sy bepaling teen die Hoërskool Garsfontein nakom nie. 

Die Noordvaal Skolerugby-vereniging (NVSRV) het verlede week ‘n besluit geneem dat Waterkloof nie verder aan vanjaar se Virsekerbeker (voorheen Beeldtrofee) kan deelneem, indien hy nie sy bepaling teen Garsfontein nakom nie. Die voorsitter van die BBHRV en NVSRV is dieselfde persoon, Ferdi Niemand van Curro Roodeplaat. 

“Indien u oordeel is dat die besluit van krag moet bly sal ons kliënt hulle posisie heroorweeg, wat sal insluit om die hooggeregshof op ‘n dringende basis te nader,” volgens J.W. Botha Ingelyf. 

Indien die NVSRV en BBHRV by hulle besluit bly kan dit beteken dat die Makroskole-afdeling van die Virsekerbeker se uitspeelwedstryde op ‘n latere stadium beslis kan word indien daar ‘n hofsaak en moontlike inderdikte daaruit spruit. 

Waterkloof se beheerraad het reeds verlede jaar besluit dat hy nie sy rugbybepaling teen Garsfontein sal nakom nie. Die besluit is toe reeds in ‘n brief aan Garsfontein se beheerraad oorgedra. Die twee skole se spanne moes op 20 Mei kragte gemeet het in ‘n wedstryd wat moontlik sou bepaal het wie die Blou Bulle se voorste Makroskool is.

Klofies se bemarkingsbestuurder, Yolande de Nyscchen, het vroeër gesê dat die skool se standpunt sedert sy brief aan Garsfontein se beheerraad nie verander het nie.

Waterkloof“Die Beheerliggaam het besluit dat Hoërskool Waterkloof voortaan nie meer teen Hoërskool Garsfontein rugby sal speel nie. Die aanloop tot hierdie besluit het ‘n lang geskiedenis. Hoërskool Waterkloof het homself in die verlede aan die onaanvaarbare en onetiese praktyk om spelers van ander skole te “koop” en af te rokkel, skuldig gemaak. Ons het hierdie praktyk in 2011 gestaak en weier voortaan om enigsins aan soortgelyke praktyke deel te neem, of om dit ooglopend goed te keur deur teen skole wat sulke praktyke beoefen, deel te neem,” het die brief van Klofies se beheerliggaam aan Garsfontein gelei. Die brief is ook op die skool se D6 Communicator aan sy ouers gedeel.

Waterkloof se rugby beleidsdokument van 2016 wat op die D6 Communicator beskikbaar is stel dat die skool “beoog om sy grootste werwingspogings met graad ses en sewe-leerders te doen. Ons voorsien dat sleutelposisies tot ‘n maksimum van graad 11 gewerf kan word indien nodig. Ons beoog om geen speler in graad 12 vir die skool te werf nie.” Dié beleid is intussen aangepas.

Waterkloof voer aan dat ‘n besluit wat tydens die BBHRV se jaarvergadering van 2013 hier te sprake is. Die besluit wat deur die BBHRV destyds geneem is, word glo nie in die Grondwet/Blouboek2017 van die vereniging vervat nie. “Ons erken en plaas op rekord dat die voornemde besluit van toepassing was op daaropvolgende seisoen, maar ontken ons dat dit van toepassing sou wees vir die verdere seisoene. In hierdie opsig verwys ons pertinent na die AJV notules van 2014, 2015 en 2016 in terme waarvan geen wysigings ten opsigte van hierdie kwessie onder die opskrif van “Bepalings” of Mosie en reglement wysigings” hateer word nie. Ons is van oordeel dat die blouboek/reglement/grondwet nooit gewysig is nie met die gevolg dat die die leidende dokument is waarop ons kliënt steun,” volgens J.W. Botes Ingelyf. BlouboekReel11

In die 2017 Blouboek word daar gestipuleer dat indien ‘n span twee of meer van sy bepalings nie nakom nie – hy van al sy ligapunte gestroop sal word. Die probleem is dat elk van die spanne in die Blou Bulle A-afdeling vir Makroskole slegs twee bepalings in die liga het. Waterkloof kom Saterdag in sy enigste ander wedstryde in die liga teen Menlopark te staan. Garsfontein het Menlopark met 66-21 in hulle ligawedstryd op eerstespanvlak verslaan.

Garsies is die verdedigende kampioen van die Virsekerbeker vir Makroskole, maar Klofies sou indien die twee spanne op die veld teen mekaar gedraf het dit as die gunsteling gedoen het. Die twee skoleverenigings wat betrokke is, asook die borg se dilemma is dat indien Waterkloof en Garsfontein mekaar dalk in die eindstryd van die reeks ontmoet dit sou afbreek doen indien een van die skole teen mekaar sou onttrek op so ‘n laat stadium van die kompetisie.

Vanjaar se reeks word op Kyknet gebeeldsend en die eindstryd van die Makroskole is sonder twyfel die hoogtepunt van die wedstryde wat uitgesaai sal word. 

Lees meer: 

Klofies voor kruispad in Virsekerbeker
Garsies se oor “gehuurde” spelers
“Gehuurde” spelers dryf Affies uit

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.