Dié drie spook sake om Wildeklawer-netbalkroon uit
Die drie mees suksesvolste skole in die geskiedenis van die Wildeklawer Netbal-toernooi sal more sake om die titel as kampioen in Kimberley uitspook. Stellenberg, Menlopark en die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria sal Maandag op die bane van die Hoërskool Diamantveld in ‘n rondomtalie-stryd gewikkel wees om te behaal wie vanjaar as kampioen gekroon sal word.
Affies is die verdedigende kampioen en het ook die kroon tussen 2012 en 2014 gedra. Stellenberg was in 2015 as kampioen gekroon, terwyl Menlopark met die louere in 2010 en 2011 weggestap het. Menlopark behoort die gunsteling te wees omdat hulle die enigste span is wat met ‘n onoorwonne status die eindronde sal betree.
Menlopark het die Hoërskool Rustenburg (27-10), Ben Vorster (28-21) en Stellenberg (34-26) in sy drie groepwedstryd uitgestof. Menlopark is verlede week ook as kampioen van die Tuks-reeks gekroon toe hy na ekstra speeltyd vir Garsfontein met 35-34 geklop het. Na ekstra speeltyd was daar steeds niks tussen die twee spanne te kies nie, waarna die kampioen met ‘n goue doel bepaal is.
Menlopark het sy plek in die eindronde met ‘n oortuigende oorwinning van 40-17 oor Sentraal van Bloemfontein bespreek. Die span se Lucy Strydom (hulpdoel), Daniella Coetzer (aanvallende vleuel) en Chanel Vrey (hulpverdediger) het blink vertonings in die uitspeelwedstryd opgedis.
Affies het sy plek in die eindronde bespreek deur die gasheer, Diamantveld, met 33-19 te verslaan. Die wenspan se doel, Taila Loock, verdedigende vleuel Mari-Louw Snyman en verdediger, Linda Mouton, het uitstaande spel in die sege oor Tralies gelewer.
Waterkloof het bo-aan Groep A geëindig, maar in sy uitspeelwedstryd teen Stellenberg (10-15) die knie gebuig. Klofies was in sy ander twee groepwedstryde teen Paarl Gimnasium (19-17) en Potchefstroom Gimnasium (21-16) baas.
Affies betree egter die eindronde nie onoorwonne nie. Hulle het teen Waterkloof naelskraaps met 14-15 in hulle groepwedstryd verloor. Affies het sy ander twee groepwedstryd teen Potchefstroom Gimnasium (34-14) en Paarl Gimnasium (25-20) gewen.
Stellenberg het ook tweede in sy groep geëindig deur sy twee wedstryde teen Ben Vorster (30-19) en die Hoërskool Rustenburg (40-18) te wen en slegs teen Menlopark die knie te buig. In die uitspeelwedstryd teen Waterkloof het die doel Jean-Marie Orten, aanvallende vleuel Ebonie Gaskin en hulpverdediger, Maria Loubser, goed vertoon.
Al die uitslae:
Groep A: Affies 34, Potchefstroom Gimnasium 14; Waterkloof 19, Paarl Gimnasium 17; Affies 25, Paarl Gimnasium 20; Waterkloof 21, Potchefstroom Gimnasium 16; Waterkloof 15, Affies 14; Paarl Gimnasium 25, Potchefstroom Gimnasium 23.
Groep B: Stellenberg 30, Ben Vorster 19; Menlopark 27, Rustenburg 10; Stellenberg 40, Rustenburg 18; Menlopark 28, Ben Vorster 21; Menlopark 34, Stellenberg 26; Rustenburg 28, Ben Vorster 27.
Groep C: Sentraal 28, HTS Middelburg 3; Diamantveld 23, HMS Paarl 21; Diamantveld 26, Sentraal 25; HTS Middelburg 25, HMS Paarl 19; Sentraal 31, HMS Paarl 20; Diamantveld 30, HTS Middelburg 18.
Uitspeelwedstryde: Affies 33, Diamantveld 19; Stellenberg 15, Waterkloof 10; Menlopark 40, Sentraal 17; HMS Paarl 25, Rustenburg 23; Paarl Gimnasium 27, Ben Vorster 25; HTS Middelburg 22, Potchefstroom Gimnasium 20.
- u17 Interprovincial Sevens tournament heating up on Day 2 - 2025-10-11
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18