SuperSport Schools Plus

Die Anker-dieselenjin stoomroller die Volkies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-06-15 Tags: , , , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Lichtenburg op Facebook.

Hoërskool Die Anker se reuse dieselenjin het Saterdagmiddag op sy tuisveld in Brakpan verwoed voortgestoom om ‘n belangrike sege van 55-36 oor Heidelberg Volkskool te verseker.

Herleef al die Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die span van Brakpan se welbekende agttal het onderstreep hóé gevaarlik hy is wanneer hy op alle silinders vuur en die grondslag gelê vir 33 punte in die tweede helfte.

Die Volkies het tot en met rustyd nog moedig verdedig om binne trefafstand te bly en met die omdraaislag slegs ‘n skrale agterstand van 19-22 in die gesig gestaar.

Die Anker se ramkat-agsteman en kaptein, Ruben Herbst, het egter ander planne gehad en Volkies na halftyd gekasty met genadelose stormlopies wat aan hom nogmaals ‘n driekuns aan drieë besorg het. Dit het die vuur onder die res van die pak aangesteek, met Brendan van Lutterveld (2) en Branden Sauerman wat ook gedruk het. Buitesenter, Arno Krugel, met ‘n tweekuns van sy eie, was die tuisspan se enigste agterspeler wat agter die doellyn gaan draai het.

JV Badella, wat met sy veelsydigheid beïndruk sedert sy insluiting in die Heidelbergers se beginspan, het hierdie slag vir Volkies uitgetroon op heelagter nadat hy vroeër in die seisoen ook op senter en vleuel uitgedraf het.

In Springs, het Hoërskool Lichtenburg, se agttal, nes Die Anker s’n, die septer geswaai met vier van die Liggies se vyf drieë wat deur voorspelers gedruk is om vir Hoërskool Hugenote met 31-17 die loef af te steek. Haker, David Passetti, en vaskopstut, Juan van Rhyn, het verál die lewe vir die Hugies moeilik  gemaak, terwyl oopkantflank, MC Shanahan, ‘n doring in die los was.

Luan Pretorius, die tuisspan se haker, het self ‘n uithalervertoning gelewer en sy tweestryd met Passetti was beslis een van die hoogtepunte, terwyl kantmant, Migael Swart, regoor die veld te sien was.

Hoërskool Pietersburg het op Hoërskool Piet Retief se Jack Botes-stadion met 22-13 baasgespeel in Saterdag se “Pieties-stryd”. Dié oorwinning met nege punte was grotendeels toe te skryf aan ‘n uitstaande vertoning op verdediging in die tweede helfte, met oopkantflank, Andru de Beer, en kaptein, Juan Jansen van Vuuren, wat selde deurkomkans vir die tuisspan gebied het. De Beer het ook gewoeker by die afbreekpunte, om Piet Retief se momentum verder aan bande te lê.

Puntemakers: 

Die Anker 55 (22) – Drieë: Ruben Herbst (3), Brendan van Lutterveld (2), Arno Krugel (2), Branden Sauerman. Doelskoppe: Edrick Pienaar (6). Strafdoel: Pienaar. Heidelberg Volkskool 36 (19) – Drieë: JV Badella (2), Henru Coetzer, Kyle Hutchinson, Armin Stimie, Strafdrie. Doelskoppe: Hein Oelofse (2).

Hoërskool Lichtenburg 31 (19) – Drieë: MC Shanahan, David Passetti, George Bingudzu, Juan van Rhyn, Tehan Potgieter. Doelskoppe: Luan Snyman (2), Xander Blom. Hugenote (Springs) 17 (5) – Drieë: Migael Swart, Christiaan Basson, Luan Pretorius. Doelskop: George Loucas.

Hoërskool Pietersburg 22 (6) – Drieë: Dewan Windell, Armand Venter, Ryno Mienie. Doelskoppe: Mienie (2). Strafdoel: Mienie. Hoërskool Piet Retief 13 (3) – Drie: Fiso Methula. Doelskop: Owethu Shabalala. Strafdoele: Shabalala (2).

Ander spanne: (nóg uitslae volg kortliks):

o.16: Piet Retief 12, Pietersburg 8.

o.15: Pietersburg 10, Piet Retief 5.

o.14: Piet Retief 10, Pietersburg 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.