SuperSport Schools Plus

Curro Hazeldean seunsatlete oorheers by C-Bond Interhoër

By Carli Koch , in Athletics | News , at 2024-02-24 Tags: , , , , , , ,

‘n Seunsatleet van Curro Hazeldean in aksie. Foto: Frans Lombard/Actionpix

Hoewel Curro Hazeldean sake oorheers het, is Hoërskool Hartbeespoort se André Olivier na afloop van die C-Bond Interhoër, wat Woensdag by Piditch Stadion beslis is, as die senior victor ludorum van die byeenkoms aangewys.

Die o. 17-atleet het dié eer te beurt geval nadat hy 1 790 punte op die ASA-tabel versamel het.

Olivier het in die finaal van die 100 m-wedloop met ‘n rekordtyd van 10.58 s oor die eindstreep genael, en het nóg ‘n goue medalje in die 200 m om nek sy gehang.

Die algehele wenners van die dag was egter Curro Hazeldean, wat volgende jaar opskuif na die B-Bond toe, en hul Junior Sekhwela het, ten spyte van die bloedige hitte, drie keer die podium betree.

Sekhwela was in die seuns se o. 15-afdeling in die 100 m, 100 m-hekkies en verspring in aksie, en sy prestasies was 1 667 punte werd.

Dié seun se tyd in die hekkies-item van 14.40 s en afstand van 6.48 m in die verspring, wat ook ‘n nuwe rekord is, was beide goed genoeg vir ‘n goue medalje. Hy het ‘n tweede plek in die 100 m behaal met ‘n tyd van 11.39.

Matodz Ndou het sy pragseisoen voortgesit nadat hy reeds by die Curro Podium-byeenkoms uitstekende prestasies behaal het.

Tiiseto Malungane van Curro Hazeldean. Foto: Frans Lombard/Actionpix

Sy tyd in die 110 m-hekkies was egter nie so goed soos die tyd wat hy by die vorige byeenkoms behaal het nie. Hier het hy die horlosie op 13.72 s laat stop.

Ndou (o. 17) is nietemin by die C-Bond as die beste hekkies-atleet aangewys, met ‘n tyd van 14.06, en dit was 901 punte werd.

Siya Mbeleki (o. 17) het geseëvier in die 1 500 m met ‘n tyd van 2:00.39, terwyl Realeboga Smith ‘n nuwe rekord van 08:45.29 opgestel het in die 3 000 m.

Laasgenoemde was, naas Ndou, die enigste ander seunsatleet wat die 900-merk op die ASA-tabel verbygesteek het.

Hoewel Curro Hazeldean meeste van die trofeë opgeraap het, het die seuns van Pretoria Boys High School (PBHS) óók heelwat silwerware huis toe geneem.

Jeffrey Singo (o. 17) het ‘n wennersmedalje vir sy poging in die diskus met ‘n reuse gooi van 47.61 m verower, terwyl sy spanmaat, Leso Lehumo, óók o. 17, as die beste verspringatleet vir sy afstand van 6.94 m aangewys is.

Spantotaal (Seuns):

  1. Curro Hazeldean – 1 295
  2. Pretoria Boys High – 1 232.5
  3. Die Hoërskool Wonderboom – 1 097
  4. Rietondale High School – 993
  5. Hoërskool Erasmus – 954.5
  6. Hoërskool Uitsig – 889
  7. HTS John Vorster – 863
  8. Hoërskool Hartbeespoort – 854.
Carli Koch
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.