SuperSport Schools Plus

Cravenweek sal weer kwota Springbokke oplewer

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-07-14

MIDDELBURG. – Die Cravenweek is steeds ’n belangrikste voedingsbron vir Springbok-rugby, al het drie van die sewe nuwe Springbokke van 2014 nie Cravenweek-rugby gespeel nie.

Die drie Bokke wat nie goed genoeg op skool vir dié toernooi geag is nie, is Lood de Jager, Cornal Hendricks en Stephan Lewies.

Die 51ste Cravenweek vir hoërskole, wat Maandag hier by HTS Middelburg in Mpumalanga afskop, sal weer sy gebruiklike kwota Springbokke oplewer.

Toe die toernooi laas in 1978 hier aangebied is, het die Westelike Provinsie die Vrystaat in die hoofwedstryd met 12-3 geklop.

Twee Springbok-vleuels, Carel du Plessis en Jaco Reinach, was in dié wedstryd regstreekse teenstanders.

Die Goue Leeus is vanjaar een van die vroeë gunstelinge.

Dié span mik daarna om vir die vierde agtereenvolgende jaar in die hoofwedstryd in aksie te wees, hoewel die Leeus nie daarin kon slaag om in enige van die vorige drie jaar ’n sege in die hoofwedstryd te behaal nie.

Die Westelike Provinsie behoort ook een van die voorste spanne te wees.

Die kern van vanjaar se groep het die Vrystaat met 10-7 in die Grant Khomo-week (vir o.16-spelers) se hoofwedstryd in 2012 geklop.

Die Streeptruie draf Maandag in die hoofwedstryd teen die gasheer, die Pumas, uit.

KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Blou Bulle behoort vanjaar ook sterk aanspraakmakers te wees om Saterdag in die hoofwedstryd te speel.

Die KwaZulu-Natallers was laas in 1990 in die hoofwedstryd te sien.

Die Griffons sal hul trotse rekord die laaste paar jaar wil behou. Die Perses draf teen Grens uit en was sedert 2011 se toernooi in Kimberley slegs een keer aan die verloorkant.

Miskien sal hulle ook inspirasie uit die vorige Cravenweek hier wil put. Tóé was die Springbokke Gert Smal en Christo Ferreira in die Noord-Vrystaatse span.

Toeskouers wat die eerste keer rugby op HTS Middelburg se hoofveld kyk, sal die rugbypale op die hoofveld meer as een kyk gee, want hulle is ’n allemintige 25 m hoog – ’n volle 9 m langer as die norm.

Dié pale is verleng ná ’n omstrede strafdoel in die derby tussen die Rooi Bulle en die Hoërskool Middelburg in 1984.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.