SuperSport Schools Plus

Bothaville en Hennenman pak mekaar vir vierde maal

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-08-09

NewsG Hennenman1Die eerste rugbyspanne van die Hoërskool Bothaville en Hoërskool Hennenman sal mekaar vir die vierde keer vanjaar die stryd aansê wanneer die twee spanne mekaar Saterdag in Welkom in die eindstryd van die Sandveld-liga ontmoet.

Hoewel Bothaville in al drie die wedstryd as oorwinnaars van die veld gestap het, is daar nie veel tussen hulle te kies nie. Slegs ses punte oor die drie wedstryde het die twee spanne van mekaar geskei.

Bothaville het Hennenman met 22-20 in die eindstryd van die Sandveld-liga verslaan. Hy was ook met onderskeidelik 27-25 en 29-27 in hul twee ligakragmetings baas.

Bothaville het Vrydag op sy tuisveld in die halfeindstryd van die Vrystaatse Platteland-liga vir die Hoërskool Reitz met 35-8 kaf gedraf. Die span se buitesenter, Carlo Kleynhans, het 25 van sy span se punte in die sege aangeteken. Hy het twee keer die doellyn oorgesteek en ook met drie doelskoppe en drie strafdoele geslaag. Buiten Kleynhans het die flank Stefan Bester, vleuel Morné Dodds, losskakel Bertram Crawthorne en haker Marnus Klopper het almal uitmuntend vertoon.

Reitz het moedig probeer in die eerste helfte en slegs met 3-9 agter geloop. Sy agtsteman, Janes van Coller, het telkemale tot oor die voordeellyn gevorder. Die skakelpaar van Geyer Terblanche en Neil van der Merwe kan ook tevrede met hul vertoning voel.

Bothaville kon nog nooit daarin slaag om as kampioen van die Vrystaatse Platteland gekroon te word nie. Die span van die afrigter, Hennie Muller, kan dus geskiedenis in die eindstryd maak.

Hennenman het sy plek in die eindstryd met ’n oortuigende oorwinning van 50-12 oor die Oos-Vrystaatse kampioen, Harrismith, behaal. Die wedstryd is boonop op Harrismith se tuisveld, die Platberg-stadion, beslis.

Hennenman se skrumskakel, Armand van der Walt, het ’n hele paar goeie breekslae ingekry. Die wenspan se buitesenter, Fanie Pretorius, het Harrismith se middelveld oop geklief. Hy het ’n driekuns aan drieë behaal.

Die wenner van Bothaville en Hennenman sal in die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) teen die kampioen van die Vrystaatse B-liga sake uitspook.

Die Hoërskool Namakwaland van Springbok het sake in die Griekwa-liga deurmekaar gekrap. Hy het die Hoërskool Kathu in die halfeindstryd met 22-17 uitgeskakel. Die span van Springbok sal in die eindstryd van die liga teen die gunsteling, die Hoërskool Kalahari van Kuruman, in Kimberley te staan kom.

Die kampioen van dié liga sal teen die naaswenner van die Vrystaatse Platteland-liga in die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Irawa-liga vir kleinskole te staan kom.

Puntemakers: 

Bothaville 35 (9): Drieë: Carlo Kleynhans (2), Stefan Bester. Doelskoppe: Kleynhans (3). Strafdoele: Kleynhans (3). Reitz 8 (3): Drie: Geyer Terblanché. Strafdoel: Neil van der Merwe.

Hennenman 50 (21): Drieë: Fanie Pretorius (3), Richard Badenhorst (2), Neels Pretorius, WJ Benson, Armand van der Walt. Doelskoppe: Albé Venter (5). Harrismith 12 (5).

Sandveld 25 (14): Drieë: Francois van Heerden, Ettiene Verster, David Marais. Doelskoppe: Lucky Bob (2). Strafdoele: Bob (2). Winburg 24.

 

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.