SuperSport Schools News

Boishaai en Gim stoom voort na Derby

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-07-25

Die grootste interkole-rugbywedstryd ter wêreld beloof om vanjaar aan al die verwagtinge van die skouspel te voldoen. Paarl Gimnasium het gister vir Oakdale Landbou op sy agterplaas net buite Riversdal met 41-19 verslaan.

Die span se enigste nederlaag tot dusver vanjaar was teen Garsfontein op die jaarlikse Noord/Suid-toernooi.

Die Hoër Jongenskool Paarl moes aanvanklik harder vir sy sege van 25-6 oor Rondebosch Boys’ High werk. Boishaai kon teen rustyd slegs ’n voorsprong van 12-6 opbou. Die sege is Boishaai se 35ste op ’n streep. Die span het ook vanjaar agt spelers tot die Suid-Afrikaanse Skole-span bygedra.

Boland Landbou het Bishops in Kaapstad met 47-19 die loef afgesteek. Die wenspan het die bal lug gegee met sy vleuel Adriaan Stander en buitesenter, Durin Nasson wat albei twee keer ’n draai agter die doellyn gaan maak het.

Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad het met sy grootste sege nog oor Hoërskool Kroonstad gesorg dat Kroonstad vir die negende jaar in ’n ry rooi geverf is.

Rooiskool se losskakel, Chappies van der Walt, het 35 punte in sy span se weghol-oorwinning van 80-10 oor Blouskool aangeteken. Van der Walt het ’n driekuns aan drieë behaal en ook tien van sy span se 12 drieë verdoel.

Die twee drieë wat nie verdoel is nie, het Rooiskool glad nie pale toe gekorrel nie.

Welkom Gimnasium het met ’n sege van 22-10 oor Voortrekker in Bethlehem dit duidelik gemaak dat hy nie sommer vanjaar afstand van die titel as Griffon-kampioen gaan doen nie. Voor die kragmeting was die twee spanne die enigste twee onoorwonne spanne oor in die liga.

Bothaville het President Steyn se partytjie in die hoofwedstryd van sy jaarlikse sportdag in Bainsvlei net buite Bloemfontein bederf. Bothaville het die wedstryd met 37-20 gewen.

In die vernaamste voorwedstryd vir die hoofwedstryd het Jim Fouché vir Landboudal met 34-3 kaf gedraf.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.