Bastiaanse Klofies se halfeind-held

Klofies se kaptein, Ronan Bastiaanse, het die kastaiings uit die vuur gekrap om sy span se plek in die eindstryd van die NWU Sportreeks te bespreek. Wie dan anders?
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Waterkloof het Vrydag in Middelburg bewys gelewer dat hy ‘n span is wat weet hoe om te wen deur vir Hoër Tegniese Skool Middelburg met 26-22 te troef in ‘n naelbytstryd, danksy Bastiaanse se drie in die doodsnikke. Dit was ook die Rooi Bulle se eerste nederlaag vanjaar.
Die Klofies se heelagter het, met minder as vyf minute oor, oorgeduik vir die wendrie, nadat sy span vir ‘n geruime tyd met die rug teen die muur was. Bastiaanse was ook weer ‘n staatmaker vanaf die skopkegel en sy drie doelskoppe was van deurslaggewende belang.
Vir die tuisspan, het buitesenter, Jacques Greyling, in dié beslissende stryd selfs nóg beter vertoon as gewoonlik, terwyl agsteman, Tercuis Bezuidenhout, die Klofies voorlangs geroer het.
Die Pretorianers se pak het stelselmatig, deur middel van slot, Heinrich Naudé, en steelkantflank, Phillip Mans, die oorhand begin bewerk voorlangs. Hulle was altwee ongenaakbaar met bal in hand en het ook massiewe duikslae uitgevoer.
Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Oos-Moot het vir ‘n aanskoulike stryd gesorg, waarin die twee pakke voorspelers mekaar opdraande gegee het. Die Nellies se agsteman, Vaughn van Zyl, was sy besielende self en is met twee drieë beloon, terwyl stut, Gert Cloete, sy indrukwekkendste vertoning van die jaar gelewer het.
Die Oosies se Clayton du Bruyn en David Joubert het ook elk twee keer die doellyn oorgesteek om hul span in die wedloop te hou.
Hoërskool Dr EG Jansen se regtervleuel en puntemasjien, Jaydon du Preez, het Hoërskool Ben Vorster laat les opsê met sy vermoë om die spasie aan die buitekant uit te buit en het sodoende ‘n skitterende driekuns behaal.
Puntemakers:
Waterkloof 26 (14) – Drieë: Ruan Jacobs, Phillip Mans, Heinrich Naudé, Ronan Bastiaanse. Doelskoppe: Bastiaanse (3). HTS Middelburg 22 (12) – Drieë: Jacques Greyling, Tercius Bezuidenhout, ongeïdentifiseerd. Doelskoppe: WJ Enslin (2). Strafdoel: Enslin.
Hoërskool Nelspruit 40 (21) – Drieë: Vaughn van Zyl (2), Tinyiko Silubane, Gert Cloete, Kamo Monkwe. Doelskoppe: John Duncan (5). Oos-Moot 32 (8) – Drieë: Clayton du Bruyn (2), David Joubert (2), Jaydon Botha. Doelskoppe: Royston Arendse (2). Strafdoel: David Joubert.
EG Jansen 43 (19) – Drieë: Jaydon du Preez (2), Deshean Pietersen, Christopher Combrink, Otlatleng Zulu, Jacques van Tonder, Marco Ventura. Doelskoppe: Ziain Uekermann (4). Ben Vorster 25 (13) – Drieë: Ruben Pohl, Joshua vsn der Mescht, Lethabo Sejake. Doelskoppe: Shelton Primo (2). Strafdoele: Shelton Primo (2).