SuperSport Schools Plus

Bastiaanse baas in Tzaneen hoewel Buffels beïndruk, Middies tem Kempies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-09 Tags: , , , , ,

RONAN BASTIAANSE (met bal), heelagter van Waterkloof, trek ‘n toon doellyn toe terwyl hy ‘n duikslag van die Hoërskool Rustenburg se losskakel, Jayden Meyer, probeer afweer. FOTO: Marius Nortjé

Ronan Bastiaanse het 2025 afgeskop waar hy 2024 afgesluit het.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die heelagter van Hoërskool Waterkloof, wat ook die blou masjien vanjaar aanvoer, het die aanslag uitmuntend gelei vir die naaswenners in SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling om met 47-30 oor Hoërskool Ben Vorster te seëvier in Tzaneen.

Bastiaanse het soos gebruiklik puik vertoon vanaf die skopkegel om ses van sy span se sewe drieë te verdoel, maar dit was nie naastenby die somtotaal van sy briljantheid nie.

Die Buffels het die fout begaan om op die gevaarlike heelagter te skop, waarop hy telkens geantwoord het met giftige teenaanvalle. Op dié wyse het Bastiaanse nie minder nie as drie keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier, om sy persoonlike bydrae te staan te bring op 27 punte, meer as die helfte van sy span se totaal.

Die Buffels het nietemin hul man moedig gestaan, met hul kleiner pak wat verseg het om knie te buig teen die Klofies se groot baldraers.

Hoewel die eindtelling te kenne gee dat verdediging nie hoogste prioriteit geniet het nie, het die tuisspan die pap dik aangemaak voorlangs. Niemand het beter vertoon as steelkantflank, Joshua van der Mescht, wat sy lyf regoor die veld op die spel geplaas en ‘n rits kritieke duikslae uitgevoer het nie.

Agsteman, Tumi Ramohale, was weer ‘n doring op die aanval. Romohale, wat dikwels in die buitenste kanale as baldraer aangewend is, het daar heelwat hoofbrekens vir die Klofies besorg.

Dit was steeds egter nie genoeg om Waterkloof te stuit nie. Die span van Pretoria was met rukke en stote taamlik klinies wat afronding betref, met losskakel, Meyer Pretorius, wat ‘n sleutelrol in dié verband vervul het. Pretorius het netjies versprei om spasie agterlangs te skep.

Albei spanne is steeds deur klein jakkalsies, soos hanteerfoute en oorgretigheid, wat met die aanvang van ‘n seisoen gepaardgaan, gepootjie, maar hulle het ongetwyfeld steeds vir aanskoulike rugby gesorg.

Hoërskool Middelburg se haker, Roux Grobler, het vir die tweede keer in soveel weke oorgeduik om ‘n tuisoorwinning van 32-22 oor Hoërskool Kempton Park te help verseker. Grobler, ‘n uitblinker in verlede week se stryd teen Hoërskool Nelspruit, en die flanke, CW Hanekom en Kensani Buthelezi, het saamgespan om die Kempies voorlangs te karnuffel.

Hanekom en Buthelezi, wat elk reeds ‘n seisoen van eerstespan-rugby agter die rug het, het in die vastelos, op sowel verdediging as aanval, gewoeker, met verál eersgenoemde wat by die afbreekpunte die lewe moeilik gemaak het vir die Kempies.

Die tweestryd tussen die losskakels, Buhle Maphalaza en Stian de Villiers, het ook vir heelwat opwinding gesorg. De Villiers, ook ‘n kranige krieketspeler, het met instinktiewe visie op die aanval sy span in die wedloop gehou, en ook vyf strafdoele en ‘n doelskop deur die pale gejaag om 17 van sy span se 22 punte aan te teken.

Puntemakers:

Waterkloof 47 (26) – Drieë: Ronan Bastiaanse (3), Rico van der Walt, Heinrich Naudé, Dylan Botha, Stiaan Theron. Doelskoppe: Bastiaanse (6). Ben Vorster 30 (16) – Drieë: Stiaan du Randt, Barend Harmse, Lethabo Sejake, Chifu Banda. Doelskoppe: Shelton Primo (2). Strafdoele: Primo (2).

Hoërskool Middelburg 32 (17) – Drieë: Roux Grobler, Lungelo Maseko, Carlo Joubert, Lesego Rakgale, Keabetswe Nkgadima. Doelskoppe: Buhle Maphalaza (2). Strafdoel: Maphalaza. Hoërskool Kempton Park 22 (12) – Drie: Jeandré Opperman. Doelskop: Stian de Villiers. Stradoele: De Villiers (5).

Ander spanne:

o.16: Ben Vorster 20, Waterkloof 17; Hoërskool Middelburg 24, Hoërskool Kempton Park 14.

o.15: Ben Vorster 15, Waterkloof 15; Hoërskool Middelburg 8, Hoërskool Kempton Park 5.

o.14: Waterkloof 15, Ben Vorster 11; Hoërskool Middelburg 36, Hoërskool Kempton Park 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.