SuperSport Schools News

Affies se Wasserman van derde span tot held in twee weke

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-03-20

NewsG RuanWassermanDie Afrikaanse Hoer Seunskool van Pretoria het Helpmekaar-kollege se “droomseisoen” vroeg in die seisoen met ‘n oorwinning van 31-19 in Johannesburg in die kiem gesmoor. Dit was die matriekgroep van Helpmekaar se eerste nederlaag op sy tuisveld sedert sy o.14-dae. 

Die held in Affies se sege van sy derde span heelagter, Ruan Wasserman. Hy het Saterdag vir die tweede span gespeel na die se heelagter ‘n besering in die skool se eerste wedstryde van die seisoen teen Diamantveld opgedoen het. Wasserman moes toe vinnig by die pas van eerstespan rugby ook aanpas toe hy Affies se losskakel, Charles Goedhals, net voor rustyd vervang het. 

Wasserman het na heelagter geskuif, terwyl Regardt Roets as generaal Goedhals se tokse moes volstaan. Kort na Helpies se losskakel, Tristan Oosthuizen, die telling met sy vierde strafdoel op 12-elk gelyk getrek het, het Wasserman vir sy drie oorgegaan. Hy het daarna met ‘n skitterlopie van oor die 70 meter ook die aanvoorwerk vir die vleuel Sean Thungo se drie gedoen. 

Wasserman het in vyf punte Helpemaar se drome vir ‘n eerste sege oor Affies sedert 1998 laat verdwyn. Helpies moes sonder sy invloedryke flank en kaptein, Mark Snyman, klaarkom. Affies moes wel ook sonder hul senter Marnus Potgieter en flank Jaco Labuschagne klaarkom wat soos Snyman aan SA Rugby se SA Skole-oefenkamp in Wellington deelgeneem het. 

Albei spanne het wel met hul vertoning gewys dat hulle vanjaar onder die voorste spanne in die land behoort te tel. Affies se agtsteman, Philip Potgieter, het met sy posisionele spel beindruk. Hy het ook op verdediging vir sy span uitstekend gevaar. 

Die haker, Janco Uys, het twee keer oor die doellyn geval na hy die bestuurder van die Affie-kruiptrekker na ‘n lynstaan was. In een van die rolmaalbewegings het Affies vir Helpmekaar met amper 30 meter teruggestoot. Helpmekaar het darem ook rede gehad om te glimlag na die fisieke stryd tussen die twee spanne se agttalle.

Helpies het in een skrum vyf tree van hul eie doellyn vir Affies opgefrommel. Veral die haker en onderkaptein, Dameon Venter, het met sy fisieke spel beindruk. Hy het nie net goed geskrum nie, maar ook behoorlik in die losskrums ingeklim. Hy het selfs omgekeerde besit met sy skoonmaakwerk bewerkstellig na hy ‘n vaskop aan Uys in die skrum voor die losskrum afgestaan het. Albei Venter en Uys se ingooiwerk by die lynstane verdien ‘n pluimpie. 

Affies se skrumskakel en kaptein, Johan Mulder, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy aandeel in die sege. Vir Helpies was sy kaptein Oosthuizen met sy skopskoen asook met sy aanvallende spel uitstaande. Ander spelers van Helpies wat goed vertoon het is die flank Liam van den Berg en senter Jeremy Randell.

Die skeidsregter, Eduan Nel, het vroeg in die eerste helfte die reels duidelik gemaak deur Helpies se flank Ben Clarke koelkas toe te stuur.  

Puntemakers: 

Affies 31 (12) – Driee: Janco Uys (2), Ruan Wasserman, Johan Mulder, Sean Thungo. Doelskoppe: Regardt Roets (2), Charles Goedhals. Helpmekaar-kollege 19 (9) – Drie: Jeremy Randell. Doelskop: Tristan Oosthuizen. Strafdoele: Oosthuizen (4). 

Ander spanne: 

o.16: Helpmekaar 31, Affies 27. 

o.15: Affies 51, Helpmekaar 13. 

o.14: Helpmekaar 7, Affies 5. 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.