Affies dop na 12 jaar Boishaai weer om
KIMBERLEY. – Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se losskakel, Ruben Pienaar, het sy span tot sy eerste oorwinning in 12 jaar oor die Hoër Jongenskool Paarl aangevuur.
Pienaar het 25 punte tot Affies se sege van 43-21 oor Boishaai tydens die eerste dag van die Absa Wildeklawer-toernooi bygedra.
Die span van die Jakarandastad kon laas in 2012 op die einste Wildeklawer-toernooi in Kimberley daarin slaag om Boishaai om te dop. Die Wit Bulle was op daardie dag met 22-14 baas met spelers soos Pierre Schoeman (Skotland), Nicolaas Janse van Rensburg (Springbokke) en Jurie Linde (SA Skole) in hul midde.
Pienaar het sy span se eerste drie gedruk en ook met vier doelskoppe en vier strafdoele geslaag. Hy het wel tien minute in die koelkas ook deurgebring na ‘n ongeoorgeloofde duikslag. Pienaar het nie net met sy skopvoet beïndruk nie, maar ook ‘n hele paar aanvallers van Boishaai met sy lakwerk harpuis laat proe.
Affies se agttal het voorlangs die platform geskep vir Pienaar om spel te dikteer. Dit sou onregverdig wees om enige van pak voorspelers uit te sonder, maar die loskopstut, Werner Vrey, was ‘n meneer.
Buiten Pienaar het die buitesenter, Hendré Schoeman, glad nie uit plek in die middelveld gelyk nie. Schoeman is eintlik die Wit Bulle se gereelde skrumskakel, maar het gewys dat hy ewe gemaklik op buitesenter ingespan kan word.
Affies het vroeg ‘n voorsprong van 21-0 opgebou wat die span van die Paarl op die agtervoet geplaas het. Boishaai het die bal goed in die kontak verskuif en sodoende ‘n hele paar geleenthede voorlangs geskep. Die slot Jayden Joubert en Ruben Dames was hul span se beste spelers op die dag.
Die gasheer, Diamantveld, het die toernooi met ‘n klinkende sege van 57-25 oor Marlow Landbou van Cradock geopen. Diamonds se senterpaar, Simon Liversage en Clinton Brits, was op hul stukke.
Brits het ‘n driekuns aan drieë behaal, terwyl kaptein Liversage nie net gehelp het om spasie vir sy spanmaat te skep nie. Liversage het self twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak asook 11 punte met sy skopskoen bygedra.
Hy het dus 21 punte tot die oorwinning bygedra. Voorlangs het die haker, De Wet du Plooy, asook die slot Zuan Rautenbach vir die wenspan gewoel.
Marlow Landbou se heelagter, Gideon Jordaan, het ook ‘n goeie dag op kantoor beleef.
Puntemakers:
Affies 43 (24) – Drieë: Ruben Pienaar, Janco Purchase, Ethan van Wyk, Zirk Meyer. Doelskoppe: Pienaar (4). Strafdoele: Pienaar (4), Ruben Groenewald. Hoër Jongenskool Paarl 21 (7) – Drieë: Douw Wessels, Ruben Dames, Ashwin Swarts. Doelskoppe: Viaan Mentoor (3).
Diamantveld 57 (24) – Drieë: Clinton Brits (3), Simon Liversage (2), De Wet du Plooy, Enrique Boshoff, Marno Greeff. Doelskoppe: Liversage (4), Greeff (2), Dirk van Heerden. Strafdoel: Liversage. Marlow Landbou 25 (15) – Drieë: Gideon Jordaan, Hermanus Steyn, Christiaan van der Merwe. Doelskoppe: Jordaan (2). Strafdoele: Jordaan (2).