SuperSport Schools Plus

Fast5-titel net nóg ’n pluimpie vir Parkies

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-10-10 Tags:

Parkies is eerste in Suid-Afrika.

Die Hoërskool Menlopark se o.18A-span, beter bekend as Menlo Blou, het tydens vanjaar se nasionale Fast5-toernooi hul merkwaardige vorm en vasberadenheid gehandhaaf om as kampioen gekroon te word.

In ’n naweek gevul met opwindende, strategiese en hoëtempo-netbal, het Parkies se meisies bewys hoekom hulle tot die room van Suid-Afrikaanse skolenetbal behoort.

Menlo Blou het reeds in die kwarteindronde kragtige spel gelewer om met 30–8 oor MHS Blitz te seëvier. In die ander kwarteindstryde het Durbanville met 27–17 teen Jim Fouché gewen, Monument vir Paarl Meisies met 26–6 getroef en Ben Vorster vir Bergsig met 24–19 geklop.

Die halfeindronde het naelbytstryde afgegee, maar Menlo Blou het karakter en kalmte tentoongestel om naelskraaps met 21–20 oor Durbanville te triomfeer – in ’n kragmeting waar die uitslag tot in die doodsnikke in die weegskaal was. Monnas het vir Ben Vorster met 23–18 verslaan om hul plek in die eindstryd te bespreek.

Die groot eindstryd het die toeskouers op hul tone gehad. In ’n wipplankstryd het Menlo Blou uiteindelik die botoon gevoer met ’n dramatiese sege van 39–36 oor Monnas. Spanwerk, spoed en taktiese insig was deurslaggewend daarin om die goue medalje in te palm.

In die wedstryd om die derde en vierde plek het Durbanville hul toernooi op ’n hoë noot afgesluit met ’n oorwinning van 33–21 oor Ben Vorster.

Parkies se triomf is nie slegs ’n bewys van hul vanselfsprekende talent nie, maar ook van harde werk en toewyding agter die skerms. Die span het met trots en passie gespeel, en is waardig gekroon as Suid-Afrika se Fast5-kampioen.

Uitslae:

Kwarteindronde:

Jim Fouché 17, 27 Durbanville

Monnas 26, 6 Paarl Meisies

Menlo Blou 30, 8 MHS Blitz

Bergsig 19, 24 Ben Vorster

Halfeindronde:

Durbanville 20, 21 Menlo Blou

Monnas 23, 18 Ben Vorster

3de/4de Plek

Durbanville 33, 21 Ben Vorster

Eindstryd:

Menlo Blou 39, 36 Monnas

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.