SuperSport Schools Plus

Fireballs speel Pretoria aan die brand in Fast5-toernooi

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-08-11 Tags: , , ,

Fireballs, wenners van die Speed Beez Fast5-toernooi

Die Speed Beez Fast5-toernooi, aangebied deur Hoërskool Montana, het die afgelope naweek nogmaals ’n naelbytfees van spoed, vaardigheid en spanwerk opgelewer.

Netbalspanne van regoor Gauteng en verder het in drie ouderdomsgroepe aan die gewilde kortformaat-kompetisie deelgeneem, met Randpark High School se Fireballs wat in die senior kategorie koning gekraai het.

Miche Oosthuizen wen beste o.13-toekenning.

O.13-afdeling:
In ’n afdeling wat bruis van jong talent het die PowerPlays (CVO Combined) as wenners uit die stryd getree ná ’n reeks indrukwekkende vertonings. Die Prestige Tigers (Prestige College) het die tweede plek beklee, met die Buzzing Divas (Rabboni) wat derde geëindig het. Miche Oosthuizen van PowerPlays is aangewys as die beste speler in hierdie ouderdomsgroep.

O.15-afdeling:
Die Garsies Pumas (HS Garsfontein) het die trofee omhoog gehou nadat hulle vir die Sky Guardians (E.G. Jansen) in die eindstryd verslaan het. Die derde plek is deur Worker Beez A (HS Montana) ingepalm, terwyl Baby Beez A (HS Montana) vierde geëindig het. Karla van der Nest van Garsies Pumas het met die titel as die beste speler in die o.15-afdeling weggestap.

O.18-afdeling:
In die senior-afdeling het Fireballs hul oorheersing bevestig deur vir die Garsies Jaguars (HS Garsfontein) in die eindstryd te troef. Die Sky Hunters (E.G. Jansen) het derde geëindig, met Queen Beez Groen (HS Montana) in die vierde posisie. Oluchi Ndubueze van Fireballs is as die beste speler in dié afdeling aangewys.

 ’n Fees van netbalkultuur

Die Fast5-toernooi het nie alleen as ’n mededingende platform gedien nie, maar ook gemeenskapsbetrokkenheid en skoolgees gevier. Met hoëtempo-kragmetings, spanningsvolle eindrondes en individuele uitblinkers wat die kollig gesteel het, is dié toernooi ongetwyfeld ’n hoogtepunt op die skolenetbal-kalender.

Karla is aangewys as beste speler in die o.15-kategorie.
Oluchi is as speler van die o.18-toernooi aangewys.

Eindstryde:

o.13: Powerplays 22, Prestige Tigers 13

o.15: Garsies Pumas 35, Sky Guardians 29

o.18: Fireballs 28, Jaguars 15

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.