SuperSport Schools Plus

Herbst-vierkuns help Die Anker om Secunda met twee punte te troef

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-25 Tags: , , , , , , , , , , ,

FOTO: DB Photography.

“Senutergend” som die stryd, vernaam in die laaste 10 minute, op wat gewoed het tussen Hoërskool Die Anker en Hoërskool Secunda in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, Saterdag in Brakpan.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die terugkeer van die tuisspan se kaptein, Ruben Herbst, was ongetwyfeld die hupstoot wat hy nodig gehad het om weer na die volgende rat oor te skakel en ‘n sege van 34-32 te beklink.

Herbst, in sy gunstelingposisie as agsteman, het vier keer bresse in die besoekers se verdediging geslaan vir ‘n merkwaardige vierkuns aan drieë. Herbst se neef, Edrick Pienaar, óók terug van ‘n besering, het drie van dié vier verdoel.

Die twee neefs se terugkeer het beslis ‘n reuse verskil gemaak, vernaam wat die fisieke uitdaging wat die stryd gebied het, en het vir die ervare Danie Smit die weg gebaan om met sy vernuf op losskakel ook ‘n groot aandeel in dié naelskraapse oorwinning te hê.

Secunda se loskopstut, Rico Schoeman, het voorlangs gemaal en met die ondersteuning van oopkanflank, Sifiso Hlangwane, die tuisspan se groot agttal deurgaans besig gehou. Losskakel, Alonzo Blackenberg, het die telbord aan die rol gehou vir die besoekers met drie doelskoppe en twee strafdoele.

In Pretoria is die skare by Hoërskool Montana bederf met ‘n hoogs aanskoulike eerstespan-kragmeting, waarin die Monties uiteindelik met 45-24 oor die gevaarlike Heidelberg Volkskool kon baasspeel. Binnesenter, Hendrew Schoeman, is weer sy gevaarlike self op die aanval en het, saam met skrumskakel, Braam Schutte, die Volkies met twee drieë elk gekasty.

Hoewel beserings aan drie sleutelspelers vroeg in die eerste helfte hul ietwat van balans gehad het, het plaasvervanger, Juan de Villiers, die Volkies weer saamgesnoer met sy twee drieë na die omdraaislag. Dit was helaas nie genoeg om die uiteindelike nederlaag met 21 punte af te weer nie.

Hoërskool Lichtenburg se steelkantflank, Tiaan Booysen, het Hoërskool Piet Retief se Jack Botes-stadion Saterdag aan die brand gespeel en die Pieties gekarnuffel met ‘n welverdiende driekuns aan drieë, in die span van Noordwes se oortuigende sege van 40-14. Skrumskakel, Rea Motsusi, ‘n lid van die Luiperds se voorlopige Cravenweekgroep, het ook uitgeblink met sy flink diens.

In Springs het ‘n drie in die doodsnikke vir Hoërskool Hugenote met 18-18 gelykop laat speel met Hoërskool Ben Vorster. Die rustydtelling was 3-3, wat ‘n aanduiding gee van hóé taai die stryd op die Hugies se tuisveld was.

Puntemakers: 

Die Anker 34 (21) – Drieë: Ruben Herbst (4), Danie Smit. Doelskoppe: Edrick Pienaar (3). Strafdoel: Pienaar. Hoërskool Secunda 32 (15) – Drieë: Rico Schoeman, Renier Combrink, Sifiso Hlangwane, Armand Underhay. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (3). Strafdoele: Blackenberg (2)

Montana 45 (19) – Drieë: Braam Schutte (2), Hendrew Schoeman (2), Keagn van der Merwe, Ruben Roux. Doelskoppe: Rubel Bester (4), Jandré Stoltz. Heidelberg Volkskool 24 (10) – Drieë: Juan de Villiers (2), Eduard Roets, Theuns van der Merwe. Doelskoppe: Hein Oelofse (2).

Hoërskool Lichtenburg 40 – Drieë: Tiaan Booysen (3), Rea Motsusi, Oratile Sekoto, Zander Blom. Doelskoppe: Luan Snyman (3). Hoërskool Piet Retief 14 – Drieë: Mario de Oliviera, Sfundo Mayisa. Doelskoppe: Luhle Sibanyoni (2).

Hugenote (Springs) 18 (3), Ben Vorster 18 (3). 

Ander spanne: 

o.16: Die Anker 27, Secunda 17; Heidelberg Volkskool 22, Montana 18; Piet Retief 80, Lichtenburg 0; Ben Vorster 40, Hugenote (Springs) 15.

o.15: Die Anker 12, Secunda 10; Montana 31, Heidelberg Volkskool 15; Piet Retief 27, Lichtenburg 14; Ben vorster 48, Hugenote (Springs) 12.

o.14: Secunda 47, Die Anker 7; Montana 15, Heidelberg Volkskool 0; Lichtenburg 21, Piet Retief 19; Ben Vorster 52, Hugenote (Springs) 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.