Schoeman, Pretorius driekuns-dorings vir Secunda en Heidelberg Volkies


Dit het driekunste gereën in die Skild-afdeling van die SDC Noordvaal Cup, en dit nogal deur voorspelers.
Lees al die nuutste rugbynuus op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Secunda se voorryman, Rico Schoeman, het drie keer agter die doellyn gaan kuier in sy span se gemaklike sege van 48-18 oor die besoekende Hoërskool Piet Retief. Dié loskopstut was boonop die woeligheid vanself in die vastelos en het in die skrums ook sy stem dik gemaak.
Benewens Schoeman se driekuns aan drieë, het Secunda nog ‘n verdere vyf keer agter die besoekers se doellyn gaan draai.
Slot, Renier Combrink, en die woelige oopkantflank, Sifiso Shongwe, het ook reuse werk verrig in die loopgraafoorlogvoering voorlangs. Dit het uiteraard die agterlyn toegelaat om na hartelus te baljaar, met vernaam regtervleuel, Ryan Lottering, en heelagter, Dillon Grundeling, wat die die Pieties gereeld na lug laat gryp het.
Piet Retief het, soos verwag, steeds bewonderenswaardige veggees aan die dag gelê en dit sou eenvoudig nie ‘n Pietie-wedstryd gewees het sonder dat linkervleuel, Vuyani Tshabalala, gaan druk het nie. Hy het sommer twee keer so gemaak om as sy span se groot uitblinker uit die stryd te tree.
In Heidelberg, het Heidelberg Volkskool vir die tweede agtereenvolgende week 50 punte op die telbord geplaas deur vir Hoërskool Ben Vorster met 53-17 te verslaan. Vir Volkies was agsteman, Jeandré Pretorius, voor in die koor met ‘n briljante driekuns, terwyl linkervleuel, JV Badella, ‘n tweekuns behaal het.
Die Volkies, met ‘n taamlike jong span, het voorlangs die hef in die hand gehad, met Pretorius aan die spits, en dit het vir skrumskakel, Hein Oelofse, en binnesenter, Vaughn Steynvaart, in staat gestel om die opposisie verder te kasty agterlangs.
Vir die Buffels, het haker, Ruben Pohl, en skrumskakel, Stiaan du Rand, moedig probeer, met Pohl wat gewoeker het in die vatse los en Du Rand wat onder druk steeds goeie diens agter die skrum gelewer het.
Puntemakers:
Hoërskool Secunda 48 (22) – Drieë: Rico Schoeman (3), Renier Combrink, Sifiso Hlunwane, JD van Coller, Ryan Lottering, Dillon Grundeling. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (4). Hoërskool Piet Retief 18 (8) – Drieë: Vuyani Tshabalala (2), Abongwe Maduna. Strafdoel: Bubele Bgubane.
Heidelberg Volkskool 53 (31) – Drieë: Jeandré Pretorius (3), JV Badella, Henru Coetzer, Eduard Roets, Hein Oelofse, Vaughn Steynvaart. Doelskoppe: Oelofse (2), Steynvaart (2). Ben Vorster 17 (5) – Drieë: Ruben Pohl, Stiaan du Rand, Wessel Joubert. Doelskop: Shelton-Ray Primo.
Ander spanne:
o.16: Piet Retief 57, Secunda 12; Ben Vorster 29, Heidelberg Volkskool 28.
o.15: Piet Retief 31, Secunda 12; Ben Vorster 41, Heidelberg Volkskool 6.
o.14: Piet Retief 3, Secunda 0; Ben Vorster 24, Heidelberg Volkskool 17.