Paarl Gimmies troef Parkies in ekstra tyd van dramatiese Rhodes-eindstryd
’n Dramatiese eindstryd tussen Paarl Gimnasium en Menlopark, met Gimmies wat uiteindelik, na ekstra tyd, naelskraaps met 34-33 kon koning kraai, het die kroon gespan op ’n uiters suksesvolle Rhodes Netbaltoernooi 2025.
Die room van o.19-netbalspanne van regoor die land het van 3 tot 6 April in die Paarl saamgetrek vir vanjaar se Rhodes Netbaltoernooi wat deur Hoër Meisieskool La Rochelle aangebied is.
Die fees het bestaan uit twee dae van groepwedstryde, gevolg deur ’n opwindende uitspeelronde wat Sondag met die eindstryd ‘n gepaste klimaks bereik het. Dié fees het nie slegs die room van jong netbaltalent tentoongestel nie, maar verskeie naelbytstryde gelewer wat die gees van kompetisie perfek vasgevang het.
‘n Aantal spanne het vroeg reeds hul staal gewys. Menlopark het die toon aangegee met ‘n swaarverdiende sege van 27–26 oor Dinamika, en dit opgevolg met oorwinnings oor Rustenburg (36–28) en Transvalia (38–24).
Die gasheerskool, La Rochelle, het self beïndruk met vroeë oorwinnings oor Rustenburg (31–26), Bloemhof (36–30) en Dinamika (44–18). Paarl Gimnasium het van meet af na vore getree as een van die sterkste aanspraakmakers op die titel met oortuigende seges oor Tygerberg (38–24), Waterkloof (48–16) en Sundowns (49–22).
Die uitspeelrondes het egter die koring van die kaf geskei.
In die kwarteindronde het La Rochelle hul plek in die semi-finaal verseker met ‘n beduidende sege van 42–28 oor Upington, terwyl Menlopark en Montana in ‘n spannende stryd gewikkel was, wat Menlo met 33–30 gewen het. Bloemhof het vir Waterkloof met 35–29 uitgeskakel, terwyl Paarl Gim met gemak vir Transvalia verslaan het (38–22).
Die halfeindronde het dié toernooi behoorlik laat vlam vat, met Menlopark wat, na ‘n hewige stryd, vir La Rochelle met 33–29 getroef het. In die ander halfeindstryd, was Paarl Gimnasium met slegs een doel (33–32) baas teen Bloemhof.
Die uitspeelwedstryd om die vyfde plek tussen Transvalia en Montana het vir een van die boeiendste kragmetings van die toernooi gesorg. Met sake wat steeds gelykop getrek het ná ekstra tyd, het Transvalia uiteindelik met 43–41 geseëvier, nadat hulle die eerste span was om met twee doele voor te loop in die uitklopspel. In die uitspeelwedstryd om die derde plek, het Bloemhof hul plek op die podium verseker met nogmaals ‘n naelbytsege van 34–32 oor La Rochelle.
Die eindstryd tussen Menlopark en Paarl Gimnasium het ‘n uiters ’n tegniese, fyn beplande tweestryd afgegee, wat die toernooi op ‘n absolute hoogtepunt afgesluit het. Met die telling wat weereens gelykop was ná gewone tyd, moes ekstra tyd gespeel word en, toe die stof gaan lê het, was dit Paarl Gimnasium wat as kampioen uit die stryd getree met ‘n oorwinning van 34–33.
Die Rhodes Netbaltoernooi het ongetwyfeld die gehalte van skolenetbal in Suid-Afrika uitgestal, met elke span wat hul hart en siel op die baan gelos het. La Rochelle verdien ook ’n pluimpie vir hul puik organisasie en aanbieding van ’n toernooi waar dié jong atlete kon skitter.
Uitslae
Donderdag, 3 April
Menlopark 27–26 Dinamika
La Rochelle 31–26 Rustenburg
Bloemhof 27–37 Transvalia
Waterkloof 38–37 Sundowns
Tygerberg 24–38 Paarl Gim
Montana 38–35 Upington
Montana 31–31 Tygerberg
Upington 24–35 Sundowns
Paarl Gim 48–16 Waterkloof
Bloemhof 30–36 La Rochelle
Transvalia 22–25 Dinamika
Rustenburg 28–36 Menlopark
Waterkloof 34–35 Upington
Paarl Gim 39–27 Montana
Dinamika 18–44 La Rochelle
Menlopark 38–24 Transvalia
Bloemhof 33–31 Rustenburg
Tygerberg 36–31 Sundowns
Vrydag, 4 April
Dinamika 20–34 Rustenburg
La Rochelle 38–28 Transvalia
Sundowns 22–49 Paarl Gim
Tygerberg 27–34 Upington
Bloemhof 34–33 Menlopark
Montana 27–28 Waterkloof
Transvalia 31–26 Rustenburg
Waterkloof 35–34 Tygerberg
Sundowns 38–44 Montana
Dinamika 29–38 Bloemhof
Upington 25–39 Paarl Gim
Menlopark 30–29 La Rochelle
Kwarteindronde – Saterdag, 5 April
La Rochelle 42–28 Upington
Menlopark 33–30 Montana
Bloemhof 35–29 Waterkloof
Transvalia 22–38 Paarl Gim
Halfeindronde – Sondag, 6 April
La Rochelle 29–33 Menlopark
Bloemhof 32–33 Paarl Gim
Plekwedstryde – Sondag 6, April
5de/6de plek: Transvalia 43–41 Montana (sudden death na ekstra tyd)
3de/4de plek: La Rochelle 32–34 Bloemhof
Eindstryd: Menlopark 33–34 Paarl Gimnasium (na ekstra tyd)
- Parkies se seisoen van glorie - 2025-10-06
- Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses - 2025-09-30
- Top-4 Rusties leef hul droom - 2025-09-29