Verdedigende kampioen byt in die stof op Dag 1 van Hansieweek

Die 31ste Mauritz Hansen Rugbyweek het op seëvierende wyse afgeskop vir die gasheerskool, Hoërskool Hans Strijdom.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Leeus van die Noorde het die bordjies na verlede jaar se eindstryd verhang in hul openingswedstryd deur die verdedigende kampioen, Hoërskool Hugenote van Springs, met 17-10 die loef af te steek.
Die Hansies se oopkantflank, Heigers Ferreira en loskopstut, Alwyn Geyser, het die vuur onder die tuisspan se pak aangesteek en is met ‘n drie elk beloon in die tweede helfte. Dit het aan die tuisspan die voortou besorg, nadat die Hugies met die omdraaislag met 10-5 voorgeloop het.
Agterlangs het losskakel, Jayden Enslin, die agterlyn met netjiese visie en balverspreiding op die voorvoet geplaas.
Hoewel ‘n bitter pil vir die Hugies om te sluk, was daar nietemin positiewes om uit die wedstryd te neem. Slot, Paul de Beer, het beïndruk met sy fisieke teenwoordigheid in die stryd voorlangs en het moedig probeer om sy span op die voorvoet te kry met ‘n paar kragtige lopies.
Northcliff High School het vir die grootste opskudding van die dag gesorg. Die span van Randburg het vir Hoërskool Jeugland, wat as ‘n aansienlik groter hond geag word, met 17-12 geskok.
Indien Northcliff kan voortbou op dié aanskoulike rugby, met puik interaksie tussen voor- en agterspelers, hou hy vir seker ‘n bedreiging in vir toekomstige teenstanders. Matthew Hunt was die Randburgers se groot uitblinker met ‘n bydrae van 12 punte, wat een van sy span se twee drieë ingesluit het.
Hoërskool Frikkie Meyer het ratte verwissel in die tweede helfte om vir die besoekers uit die Wes-Kaap, Hoërskool Belville, met 17-7 af te stof. Die Frikkies, bekend vir hul groot en fisieke voorspelers, se indukwekkende agttal het inderdaad sy stempel afgedruk, met steelkantfalnk, Keanu Visser, wat van voor gelei het met ‘n woelige vertoning op sowel die aanval as verdediging.
Vir die Kapenaars het agsteman, Corné Smit, uithalerspel gelewer met die bal in hand en was ook ‘n doring op verdediging.
Hoërskool Alberton se steelkantflank, Luke Joubert, het twee keer oor die doellyn geduik in sy span se naelskraapse sege van 19-17 oor Hoërskool Piet Retief, wat vanjaar opskuif na die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling. Ál 19 die Allies se punte is ná rustyd aangeteken.
Puntemakers:
Hans Strijdom 17 (5) – Drieë: De Wet Pretorius, Braydon Farrow, Arné Marais. Doelskop: Dylan Nel. Hugenote (Springs) 10 (10) – Drie: Paul de Beer. Doelskop: Jayden Enslin. Strafdoel: Enslin.
Hoërskool Frikkie Meyer 17 (7) – Drieë: Feanna Minaae, Keanu Visser. Doelskop: Barnabas Nyamakupe. Strafdoel: MS Kloppers. Hoërskool Belville 7 (0) – Drie: Corné Smit. Doelskop: Ashwin Cox.
Northcliff 17 (7) – Drieë: Mardoche Katanga, Matthew Hunt. Doelskoppe: Hunt (2). Strafdoel: Hunt. Jeugland 12 (5) – Drieë: Beya Mujani (2). Doelskop: Ling Agbanzo.
Hoërskool Alberton 19 (0) – Drieë: Luke Joubert (2), Kay-C Nel. Doelskoppe: Jayden Mostert (0). Hoërskool Piet Retief 17 (7).
Hoërskool Kalahari 29 (17) – Drieë: Boitshepo Essau, Cornelius Ollewagen, SW van Heerden, Jandro Nienaber. Doelskoppe: André Venter. Strafdoel: Venter. Hoërskool Brits 0.
Hoërskool Frans du Toit 48 (17) – Drieë: Kenny Moreku (2), Shaun Mmola, Lawrence Masulungani, Darren Ceko, Jayden Taljard, Dennis Fabiano, Dhean Peach. Doelskoppe: Peach (4). Empangeni 0.
HTS Middelburg 26 (14) – Drieë: Alexander Lombard (2), Fourie Joubert, Theo Hermann. Doelskoppe: Joubert (3). Hoërskool Fochville 5 (0) – Drie: Pieter Botha.