Rooi Bulle het verdedigende kampioen in visier

Hoër Tegniese Skool Middelburg durf hierdie week die verdedigende kampioen van die NWU Sportreeks, Hoërskool Waterkloof, aan in een halfeindstryd.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Rooi Bulle, wat vanjaar reeds twee van die Noordvaal se groothonde, Hoërskool Dr. EG Jansen en Hoërskool Nelspruit, stert tussen die bene huis toe gestuur het, het na vore getree as ‘n sterk aanspraakmaker op vanjaar se Sportreeks-titel.
Boonop geniet hulle tuisveldvoordeel in Vrydag se halfeindronde wat in Middelburg aangebied word.
Die Klofies gaan egter nie ‘n maklike hekkie wees om oor te kom nie en is self steeds onoorwonne, met seges oor Hoërskool Ben Vorster, in Tzaneen, en Hoërskool Oos-Moot – laasgenoemde ‘n naelskraapse tuisoorwinning van 24-21. Die Rooi Bulle bied hul grootste toets tot dusver vanjaar.
Die vernaamste uitdaging vir die besoekers uit die Jakarandastad is om die Middelburgers se pak te probeer tem. Indien hulle voorlangs die septer kan swaai, sal dit die druk na die Rooi Bulle se agterlyn verplaas.
Die voorspelerstryd sal ongetwyfeld deur die tuisspan se agsteman, Tercuis Bezuidenhout, en Waterkloof-haker, Ruan Jacobs, aangevuur geword. Albei is uiters ervare en het verlede jaar reeds sleutelrolle in hul onderskeie spanne se suksesverhale vertolk. In die skrums kan die vonke spat tussen Jedri Swart, die Pretorianers se vaskopstut, en Janco Botha, wat op loskop vir die tuisspan sak.
Voorts kan die tweestryd tussen die stelskoppers, Klofies se kaptein, Ronan Bastiaanse, en WJ Enslin van Middelburg, bepalend wees. Dit is op stuk van sake uitkloprugby, met elke punt wat goud werd is.
Hoërskool Oos-Moot kom teen die krag van Hoërskool Nelspruit te staan. Die Rhinos het gewys waartoe hulle in staat is verlede naweek teen EG Jansen, deur ‘n naelbytstryd met 24-22 deur te trek danksy ‘n uitstaande vertoning deur losskakel, John Duncan. Duncan sal weereens ‘n gevaarman op die aanval wees.
Goeie nuus uit Oos-Moot se kamp is dat sy Cravenweek-senter, Dewron Afford, op die plaasvervanger bank is. Afford, ‘n sleutelfiguur vir die span van die Moot, sal straks vroeër eerder as later deur die Pretorianers se afrigtingspan betrek word.
EG Jansen is steeds soekende na ‘n eerste oorwinning in vanjaar se reeks. Hy sal egter moet uithaal en wys indien hy hoop om Hoërskool Ben Vorster die loef af te steek. Die Buffels het teen verwagtinge in beïndruk as een van die minder bekende spanne in die liga en ‘n sege oor die Boksburgers sal nóg ‘n reuse pluimpie in die hoed van die span van Tzaneen wees.
Die spanne:
HTS Middelburg t. Hoërskool Waterkloof om 16:10 in Middelburg:
HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Kwanele Mkhize, 13 Jacques Greyling, 12 Johnny Dos Santos, 11 CJ Muller, 10 Nathan Janse van Vuuren, 9 Reece Botha, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan de Kock, 6 Dewan Coetzee, 5 Griffin Devonish, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanro Terblanche, 1 Janco Botha.
Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Jaiden Badenhorst, 13 Danré Tustin, 12 Rico van der Walt, 11 Dylan Botha, 10 Meyer Pretorius, 9 Zack Jordaan, 8 Dawid Prinsloo, 7 Phillip Mans, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naudé, 4 JJ Brits, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliot.
Hoërskool Oos-Moot t. Hoërskool Nelspruit om 14:30 in Middelburg:
Oos-Moot: 15 Jayden Pretorius, 14 Dino Collinson, 13 Drew Williams, 12 Jaydon Botha, 11 LJ Vaughan, 10 Royston Arendse, 9 David Fourie, 8 Owen Basson, 7 Pema Bramley, 6 Clayton du Bruyn, 5 Riyaan Wilson, 4 Stian van der Venter, 3 Jandré de Beer, 2 Thando Telelo, 1 Divan du Preez.
Hoërskool Nelspruit (moontlik): 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Gideon Gilliland, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Kamo Monkwe, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Prosper Chillione, 5 Werno Heyns, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 Dhandré van Wyk, 1 Lindani Ndlela.
Hoërskool Dr. EG Jansen t. Hoërskool Ben Vorster om 12:50 in Middelburg:
EG Jansen: 15 Deshean Pietersen, 14 Jayden du Preez, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Zulu Otlatleng, 10 Zain Ueckermann, 9 JP Jooste, 8 Breyton Kruger, 7 Jacques van Tonder, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Clayton du Buisson, 3 Deveraux Weideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Russouw.
Ben Vorster: 15 Phetogo Shubane, 14 Miguel Makhubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gehan Hendriks, 11 Lethabo Sejake, 10 Shelton Primo, 9 Stiaan du Randt, 8 Tumi Ramohlale, 7 Joshua van der Mescht, 6 Kobus de Beer, 5 Lourens Harmse, 4 Lesedi Motseki, 3 Randy Magabe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.