SuperSport Schools Plus

Montana, Marais Viljoen oorheersend in NWU Prestige-reeks

By Shane Labuschagne , in Netball | News , at 2025-03-17 Tags: , , , ,

Die NWU Prestige-reeks het nóg ‘n aksiebelaaide ronde van netbalwedstryde opgelewer, met Montana en Marais Viljoen wat, oor ál die ouderdomsgroepe heen, uitgestaan het in hul kragmetings met Jeugland en Hoërskool Lichtenburg.

Montana het in die wedstryde teen Jeugland benadruk hoekom hulle as een van die top-netbalskole beskou word. Hulle het nege van die 10 wedstryde gewen en in verskeie van dié kragmetings groot tellings opgestapel. Die o.17 A-span het met ‘n telling van 42-10 beïndruk, terwyl die eerste span ook gemaklik met 45-14 die botoon gevoer het.

Jeugland se enigste oorwinning was in die o.17 B-wedstryd, waar die span van Kempton Park met 18-9 die paal gehaal het. Daar is beslis potensiaal in die jonger ouderdomsgroepe, maar Montana se oorheersing op die dag was onmiskenbaar.

Marais Viljoen het ‘n perfekte rekord in hul wedstryde teen Lichtenburg opgestel deur in ál 10 wedstryde te seëvier. MV was oorweldigend in die o.17 A-wedstryd, met ‘n massiewe telling van 50-8, terwyl die o.19 B-span met 47-5 hul stempel afgedruk het.

Die eerste span het strawwer mededinging teëgekom, maar sterk genoeg vertoon om steeds met 30-20 die oorwinning te behaal. Dit was ‘n sege geskoei op uitmuntende spanwerk, akkurate balhantering en ‘n puik verdediging, terwyl die jonger spanne se ewe indrukwekkende vertonings verder dui op ‘n blink toekoms.

Al die uitslae:

o.19: Montana 45, Jeugland 14; Marais Viljoen 30, Lichtenburg 20.

o.17: Montana 42, Jeugland 10; Marais Viljoen 50, Lichtenburg 8.

o.16: Montana 21, Jeugland 17; Marais Viljoen 25, Lichtenburg 12.

o.15: Montana 24, Jeugland 16; Marais Viljoen 25, Lichtenburg 5.

o.14: Montana 20, Jeugland 5; Marais Viljoen 25, Lichtenburg 14.

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.