Zwarries, Heidelberg Volkies skitter in NWU Prestige-reeks
Die NWU Prestige-reeks het die afgelope naweek weer netbal van die hoogste gehalte gelewer met Zwartkop en Heidelberg Volkskool wat die meeste oorwinnings behaal het, terwyl Montana en Marais Viljoen feitlik ewe veel wedstryde gewen het.
Marais Viljoen het sewe wedstryde teen Montana gewen en agt verloor, met een gelykopuitslag. Dit was inderdaad strawwe mededinging, met Marais Viljoen wat die pyp gerook het in ‘n paar sleutelwedstryde in die hoër ouderdomsgroepe. Montana se eerste span het egter in die hoofwedstryd geseëvier met 41-35.
Klerksdorp het nie ‘n goeie dag teen Zwartkop beleef nie, met slegs een oorwinning. Dit was nietemin ‘n baie belangrike sege – in die o.19 A-wedstryd, waar die span van Noordwes met 27-23 getriomfeer het. Zwartkop het sewe wedstryde gewen, wat hul algehele oorheersing beklemtoon het.
Die eerstespan-kragmeting tussen Heidelberg Volkskool en Pietersburg het ook ‘n titaniese stryd afgegee, met Volkies wat uiteindelik dié naelbytstryd met 22-21 gewen het.
Vir die derde agtereenvolgende naweek het PHS se kaptein, Kylie Campbell, gewys waarom sy ‘n sleutelspeler is, met haar kragtige en konsekwente spel op beide aanval en verdediging. Tumelo Nkwana het ‘n uitstaande rol vervul met haar akkurate balverspreiding en doeltreffende spel vanaf senter, terwyl Amoré Duvenage haar waarde bewys het met ‘n indrukwekkende doelgemiddeld van 89%. Op verdediging was Ruth Hall ook ‘n veilige laaste vesting.
Die Pieties het ‘n verbete stryd opgesit, maar moes in die laaste 20 sekondes die knie buig teen ‘n uiters sterk opponent, wat die mededingende aard van die Prestige-reeks weereens onderstreep het.
Al die uitslae:
o.19: Montana 41, MV 35; Klerksdorp 27, Zwartkop 23; Heidelberg Volkskool 22, Pietersburg 21.
o.17: MV 29, Montana 20; Klerksdorp 14, Zwartkop 19; Pietersburg 13, Heidelberg Volkskool 20.
o.16: MV 25, Montana 19; Klerksdorp 16, Zwartkop 23; Pietersburg 24, Heidelberg Volkskool 6.
o.15: MV 14, Montana 17; Klerksdorp 13, Zwartkop 22; Pietersburg 25, Heidelberg Volkskool 13.
o.14: MV 22, Montana 15; Klerksdorp 14, Zwartkop 18; Pietersburg 13, Heidelberg Volkskool 15.
- Parkies se seisoen van glorie - 2025-10-06
- Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses - 2025-09-30
- Top-4 Rusties leef hul droom - 2025-09-29