SuperSport Schools Plus

Rooi Bulle slaag toets teen Arende met vlieënde vaandels

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-01 Tags: , , ,

Johnny Dos Santos, HTS Middelburg se kaptein, rank hoog onder ‘n hoë bal in sy span se sege van 30-12 oor EG Jansen. FOTO: Tap Light Edits.

Indien die Rooi Bulle se vertoning teen die Arende ‘n voorsmakie was van wat wag in 2025, kan dit ‘n lang jaar vir toekomstige teenstanders beteken.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools (www.supersportschools.com)

Hoewel Hoër Tegniese Skool Middelburg se Rooi Bulle nie in hul kenmerkende rooi truie uitgedraf het nie, het hulle steeds hul stempel deeglik afgedruk tuis teen Hoërskool Dr EG Jansen met ‘n oortuigende sege van 30-12.

Die eerste helfte het ‘n uiters fisieke stryd afgegee, vernaam voorlangs waar die skote geklap het. Albei spanne sal deur die loop van die seisoen met ‘n valkoog dopgehou moet word by die afbreekpunte. Jansies se haker en kaptein, Marco Ventura, en oopkantflank, Craig Lightfoot, het gewoel in die los om die Rooi Bulle se balbesit te bederf.

Vir die Middelburgers was dit senter en kaptein, Johnny Dos Santos, wat soos ‘n wafferse wegbreker-flank dikwels omgekeerde balbesit bewerkstellig het. Dos Santos se verdediging was ook weer uit die boonste rakke.

Losskakel, Nathan Jansen van Vuuren, het egter by hierdie geleentheid die Rooi Bul-kollig gesteel. Van Vuuren se balversrpreiding was nie net uiters flink nie, maar het hy die aandag uitstekend van Dos Santos afgetrek deur self die Jansies ‘n paar keer omkant te betrap op die aanval. Sy taktiese visie behoort ‘n deurslagewende faktor vanjaar te wees.

WJ Enslin, die Rooi Bulle se heelagter wat ook vanjaar die stelskoppe behartig, was in die kol met ál ses sy pogings pale toe, en het met sy drie doelskoppe en drie strafdoele die helfte van sy span se punte aangeteken. Sy taktiese skopwerk was ook uitstaande, veral die steekskoppie, vanaf ‘n strafskop om vir buitesenter, Jacques Greyling, die geleentheid te skep om suurlik oor die doelyn te duik.

Ten spyte daarvan dat hulle met 18 punte die onderspit gedelf het, was daar nietemin ‘n aantal positiewes vir die span van Boksburg. Die voorspelers was uitmuntend, met die Jansie-pak wat die oorhand geniet het in die skrums, en het dikwels skade aangerig het met hul kragtige dryfmale. Die agterlyn is ook blitsig en het gevaarlik gelyk wanneer hulle spasie gebied word.

Puntemakers:

HTS Middelburg 30 (6) – Drieë: Janco Botha, Jacques Greyling, CJ Muller. Doelskoppe: WJ Enslin (3). Strafdoele: Enslin (3). EG Jansen 12 (7) – Drieë: Craig Lightfoot, Dian Botha. Doelskop: Juandré Reynders.

Ander spanne:

o. 16: EG Jansen 24, HTS Middelburg 19.

o. 15: EG Jansen 19, HTS Middelburg 15.

o. 14: HTS Middelburg 6, EG Jansen 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.