Hugenote hoopvol vir Hansieweek-titel
Hoërskool Hugenote (Springs) lek hul lippe af vir ‘n kans om as vanjaar se nuwe Mauritz Hansen Rugbyweek-kampioen gekroon te word.
Dit kom nadat hulle, in straks die grootste kragmeting van die week, met ‘n telling van 21-5 teen hul tradisionele SDC Noordvaal Cup-vyande, Ligbron Akademie, koning gekraai het.
Hugenote kom Maandag teen die gasheer, Hoërskool Hans Strijdom, te staan in die week se eindstryd.
Die span van Springs het vroeg reeds teen Ligbron dit duidelik gemaak dat hulle die fiskieke aspekte, vernaam rondom die afbreekpunte, wou beheer.
Die voorspelers, gelei deur die kranige agtsteman, Hendrik Eybers, het voorlangs baljaar en die grondslag gelê vir hul agterlyn om die Ligbron-verdedigers ore aan te sit.
Eybers is met ‘n kuiertjie agter die Ligbron-doellyn beloon vir sy harde werk, terwyl linkervleuel, Musa Mahlangu, die doodskoot toegedien het, nadat hy met uitmuntende voetwerk vanuit sy eie halfgebied deurgebreek het vir Hugenote se derde drie.
Hugenote sal egter geensins ‘n maklike taak hê teen die Hansies in die eindstryd nie. Die gashere het, in nog ‘n klipharde stryd, teen Hoërskool Bellville aangedui dat hulle moeilik gestuit sal word op tuisbodem.
Hans Strijdom was met ‘n telling van 19-7 die Kaapenaars se baas.
Losskakel, Hendriko van der Kolf, het ‘n ernstige waarskuwing aan die span van Springs gerig, met sy geoefende skopskoen wat grotendeels verantwoordelik was vir Bellville se ondergang. Hy het keer op keer die opposisie laat omdraai met haarfyn lynskoppe, en ook vier strafdoele en ‘n doelskop deur die pale gejaag om 14 van sy span se 19 punte aan te teken.
Die Hansies sal ook hoop dat hul stewige pak voorspelers die fisiekheid wat hulle regdeur die week openbaar het, kan voortsit. Dit is immers waar die gasheerskool se sterkpunt lê, veral as dit kom by die skrums en hul kragtige dryfmaalbewegings.
Hoërskool Kalahari het in ‘n naelbytstryd met 5-0 teen Hoërskool Brits as oorwinnaars uit die stryd getree. Albei spanne was rotsvas op die verdediging, en die skote het verál voorlangs geklap met die twee pakke wat mekaar behoorlik opgedreun het. Dit was slegs ‘n puik individuele lopie deur die span van Kuruman se binnesenter, Thlampo Matilo, wat gelei het tot ‘n drie wat die twee spanne kon skei.
Empangeni High School het goed gevaar om Hoërskool Die Anker se tweede span met drie punte te troef. ‘n Drie deur buitesenter, V. Nyawo, en die akkurate skopwerk van binnesenter, Dube, was genoeg om ‘n sege van 10-7 oor die span van Brakpan, asook hul eerste oorwinning van die week, te verseker.
Hoërskool Witteberg se Janco Swart het uiters koelkop gebly om in die doodsnikke ‘n strafdoel deur die pale te jaag vir ‘n naelbytsege van 13-10 oor Northcliff High School. Die span van Johannesburg het nietemin verbete verdediging aan die dag gelê om met heelwat eer uit die stryd te tree.
Die intrukwekkende Junior Naude en Petri Schutte het albei weer ‘n aansienlike aandeel gehad in Hoërskool Fochville se oorwinning van 15-10 oor Hoërskool Frans du Toit. Naudé het, nes in die Fochies se vorige wedstryd, eerste agter die doellyn gaan kuier, terwyl Schutte beïndruk het met sy ratse voetwerk en oog vir ‘n gaping.
Hoërskool Piet Retief het met aanskoulike hardlooprugby hul eerste oorwinning van die week behaal. Die span van Mpumalanga het gemaklik met Hoërskool Pretoria-Noord (38-0) klaargespeel. Die uitstaande kenmerk van hul sege was ongetwyfeld die wyse waarop die span van Piet Retief die bal, tussen voor-en agterspelers, na hartelus kon rondgooi.
Hoërskool Ferrum het vir Hoërskool Linden nie alleen met ‘n telling van 20-10 verras nie, maar die span van Newcastle het ook beïndruk met hoe klinies en goed afgerond hul spel was. Losskakel, Eli Erasmus, en skrumskakel, Wandile Ndlawgamandla, het mekaar uitstekend gekomplimenteer om hul span deurentyd op die voorvoet te plaas.
Puntemakers:
Hoërskool Hugenote (Springs) 21 (14) – Drieë: Dylan Nel, Hendrik Eybers, Musa Mahlangu. Doelskoppe: Corné Pretorius (3). Ligbron Akademie 5 (5) – Drie: Siyanda Dennison.
Hoërskool Hans Strijdom 19 (10) – Drie: Hannes Viviers. Doelskop: Hendriko van der Kolf. Strafdoele: Van der Kolf (4). Hoërskool Belville 7 (7).
Hoërskool Kalahari 5 (5) – Drie: Thlampo Matilo. Hoërskool Brits 0 (0).
Empangeni High School 10 (3) – Drie: V. Nyawo. Doelskop: N. Dube. Strafdoel: Dube. Hoërskool Die Anker II 7 (0) – Drie: Justin van Eeden. Doelskop: Xavier Erasmus.
Hoërskool Witteberg 13 (5) – Drieë: Andre Houptfleich, Tshepo Matlong. Strafdoel: Janco Swart. Northcliff High School 10 (7) – Drie: Manasse Mponga. Doelskop: Troy Kaminsky. Strafdoel: Kaminsky.
Hoërskool Fochville 15 (8) – Drieë: Junior Naudé, Ruan Foord. Doelskop: Petri Schutte. Strafdoel: Schutte. Hoërskool Frans du Toit 10 (10) – Drie: Olavi Muleha. Doelskop: Kenny Moreku. Strafdoel: Moreku.
Hoërskool Piet Retief 38 (19) – Drieë: Owethu Shabalala, Siphosetu Sibisi, Jandre van Deventer, Kyle Stock, Langelihle Ntuli, Musa Ncube. Doelskoppe: Owethu Shabalala. Hoërskool Pretoria-Noord 0 (0).
Hoerskool Ferrum 20 (10) – Drieë: Eli Erasmus, Xander Dirks. Doelskoppe: Wandile Ndlawgamandla (2). Strafdoele: Ndlawgamandla, Erasmus. Hoërskool Linden 10 (7) – Drie: Keatin Carlse. Doelskop: Francois Steyn. Strafdoel: Steyn.