SuperSport Schools Plus

Grey sluit seisoen onoorwonne af, Viljoen sorg vir Boland Landbou genot teen Oakdale


NAYLON GOEDA, heelagter van Welkom Gimnasium, sweef hier deur die lug na een van sy drieë in sy span se sege van 66-5 oor Jim Fouché in die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga. FOTO: Marnus Photography

PRETORIA. – Cilliers Vijoen, jou doring!

Viljoen wat haker vir Boland Landbou speel het in die doodsnikke van sy span se jaarlikse interskole teen Oakdale Landbou in Riversdal gaan druk om aan sy span ‘n sege van 17-11 te besorg.

Voor Cilliers se drie het dit gelyk op Oakdale met die telling op 11-10 die span van die Paarl se goeie vertonings die laaste paar weke met ‘n nederlaag sou bederf.

Garsfontein het met ‘n sege van 29-20 oor Helpmekaar-kollege in die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling gewys da thy vanjaar die gunsteling is om die kroon te dra.

Die Bere het nog nie vanjaar in die reeks verloor nie en was boonop nog net een keer vanjaar tydens die Wildeklawer-toernooi teen Grey-kollege (9-23) aan die verloorkant.

Garsies se heelagter, Jason Hugo, was uitstaande. Daar was ‘n tydperk in die eerste helfte wat di tamper gevoel het of Hugo op slot, flank, binnesenter en heelagter diens doen. Dit was asof die bal hom oral gevolg het en hy het dit ten volle benut.

Garsies kom in die eindstryd teen EG Jansen van Boksburg te staan. Die Jansies het vir Waterkloof met 25-5 in die ander halfeindstryd in ‘n winderige Boksburg geklop.

Die span van Boksburg se linkervleuel, Cameron van Wyk, was uitstaande op die aanval en het twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak.

Midstream College het vir die tweede agtereenvolgende jaar met die kroon as kampioen van Groep 2 van die Noordvaal-reeks weggestap. Wat vanjaar se titel ekstra spesiaal maak is dat die span vanjaar al sy wedstryde in dié reeks weg van die huis moes wen.

Die span van Midrand het vir Bergsig in Rustenburg met 20-15 in die eindstryd verslaan om sy kroon te behou.

Hoërskool Vryburg het sy ongelooflike rekord in eindstryde in die Noordvaal-reeks voorgesit deur Bastion in Groep 3 se eindstryd met 30-24 te verslaan.

Vryburg het al nege keer tot die eindstryd van die reeks gevorder en was nog nie aan die verloorkant nie. Die span was boonop die verdedigende kampioen na hy verlede jaar die titel as kampioen van Groep 3 met Die Wilgers van Pretoria (15-elk) moes deel.

Vryburg het verlede week in die halfeindronde vir Die Wilgers met 37-29 uitgeskakel.

Die Luiperds-kampioen was in tussen 2002 en 2005 vier keer op ‘n streep as kampioen van die Beeldtrofee vir Kleinskole gekroon. Hy het ook in 2009, 2014 en 2016 die Beeldtrofee se kroon as Mediumskole-kampioen gedra.

Indien iemand wat nie skolerugby volg nie Saterdag se kragmeting tussen Grey-kollege en Paul Roos Gimnasium in Bloemfontein bygewoon het.

Maar wel iewers gehoor het dat Grey se agtsteman vanjaar vir die SA Skole-span gespeel het, sou daardie persoon maklik kon gedink het dat daardie agtsteman, Keagan Scholtz, is.

Scholtz wat gewoonlik aan die kant van die skrum sak moes sy kaptein, JJ Theron, se tokse op agtsteman volstaan. Hy het die veld vol gespeel en nie net Theron se skoene volgestaan nie, maar sommer ook Marno Stopforth sin wat soos Theron vir die Suid-Afrikaanse o.18-span teen Engeland in aksie was.

Grey het die kragmeting sonder ses van sy nasionale o.18-spelers met 28-20 gewen en daarmee ook sy seisoen onoorwonne afgesluit. Buiten Scholtz wat twee keer agter die doellyn gaan kuier het, het die haker, Liam van Wyk, ook ‘n stewige vertoning met dubbelle driedruk-plesier afgerond.

Queen’s College was op hul stukke en het Dale College met 66-7 afgeslag. Dit was die 186ste kragmeting tussen die twee skole se eerstespanne sedert hulle 132 jaar gelede mekaar vir die eerste keer die stryd aangesê het.

In die Kovsiestreek-kompetisie sal Welkom Gimnasium teen die Hoërskool Upington in die eindstryd van die Shimla-liga kragte meet. Albei het oortuigende seges oor onderskeidelik Jim Fouché (55-5) en Fichardtpark (53-19) behaal.

Al die uitslae:  

SDC NOORDVAAL CUP

GROEP 1 – HALFEINDSTRYDE

Beker: Garsfontein 29, Helpmekaar 20; EG Jansen 25, Waterkloof 5. Plaat: Hoërskool Rustenburg 24, Hoërskool Middelburg 3; Kempton Park 29, Transvalia 29. Skild: Secunda 50, Ligbron Akademie 17; Oos-Moot 25, Heidelberg Volkskool 5. Bowl: Die Anker 49, Merensky 3; Wesvalia 36, Eldoraigne 20.

GROEP 2-5 – EINDSTRYDE

Groep 2: Midstream College 20, Bergsig 15. Groep 3: Vryburg 30, Bastion 24. Groep 4: Bekker 30, Allen Glen 22. Groep 5A: Heilbron 33, Westonaria 29. Groep 5B: Koster 55, Schweizer-Reneke 10.

OOS-KAAP

Queen’s College 66, Dale College 7; Pearson 20, Die Brandwag (Uitenhage) 0; Marlow Landbou 42, HTS Daniël Pienaar 5; Nico Malan 21, Framesby 17; Hudson Park 43, Cambridge 12; Stirling 23, HTS Port Rex 17.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Grey-kollege 28, Paul Roos Gimnasium 20.

KOVSIESTREEKKOMPETISIE – HALFEINDSTRYDE

Shimla-liga: Welkom Gimnasium 66, Jim Fouché 5; Hoërskool Upington 53, Fichardtpark 19. Irawa-liga: Wilgerivier 64, Brandfort 0; St Andrews (Bloemfontein) 37, Hartswater 36. Colt-liga: Hoopstad 31, Zastron 20; Postmasburg 43, Hendrik Potgieter 24.

WES-KAAP

Boland Landbou 17, Oakdale Landbou 11; Rondebosch Boys’ High 21, Wynberg Boys’ High 20; Bishops 27, SACS 25; Charlie Hofmeyr 19, Robertson 19; Brackenfell 29, Tygerberg 19; DF Malan 27, Hoërskool Bellville 24; Worcester Gimnasium 50, Hermanus 0; Swartland 18, Hugenote (Wellington) 3; Curro Langebaan 70, Curro Durbanville 0; Porterville 28, Piketberg 12; Milnerton 22, Melkbosstrand 13; Labori 66, Parow 0; Langenhoven Gimnasium 24, Hoërskool Punt 22; Montagu 22, Langeberg Sekondêr 5; Bredasdorp 29, Overberg 12; Vredendal Sekondêr 19, Vanrhynsdorp 15; Vishoek 17, Hoërskool Stellenbosch 10.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.